| |
| |
| |
Anatole France.
FRANCOIS ANATOLE THIBAULT, die enigste seun van Francois Noël Thibault en van Antoinette Gallas, sy vrou, is op 16 April 1844 in Parys gebore. Die oorsprong van die skuilnaam ‘France’ het nogal baie redetwis veroorsaak. Die geskiedenis daarvan is egter verduidelik in 'n brief wat A. France op 17 Augustus 1895 geskrywe het aan iemand wat navraag gedoen het. In die brief word dit ons bekend gemaak dat die skrywer se vader, eers onder sy vriende, en langsamerhand meer algemeen bekend geword het onder 'n verkorting van Francois, en dat die familienaam, selfs voor Anatole se geboorte, nie meer gebruik was nie. Die skrywer se ouers was van eenvoudige oorsprong. Sy vader was 'n plaas-arbeider tot omtrent sy twintigste jaar. Toe het hy by die Koninklike wag aangesluit en daarin gedien totdat dit as gevolg van die 1830-omwenteling opgehef is. Gedurende sy militêre diens het hy self leer lees en skrywe en langsamerhand het hy 'n liefde vir lees ontwikkel wat hy in later lewe, toe hy boekhandelaar geword het, meer kon bevredig. Anatole het altyd met liefde en dankbaarheid van sy ouers gepraat, en het selfs verklaar dat hy meer dank verskuldig was aan die voorbeeld van sy ouers en aan gesprekke aan die famielietafel gevoer, dan aan onderwys op skool, waar die somber atmosfeer en ruwe maats 'n sieldodende uitwerking op sy fyngevoelige natuur gehad het. In sy neënde jaar is Anatole skooltoe gestuur. Eers was hy op die Katolieke inrigting van Sainte-Marie en is later met die meerderheid van sy skoolmaats na die Stanislas Kollege waar hy gebly het totdat hy in die baccalauréat geslaag het. Baie van sy onderwysers het hom as dom en lui beskou net omdat hulle meganiese manier van onderwys van oninteressante onderwerpe die leerling so erg verveel het dat hy sy toevlug in allerhande onwettige vermaaklikhede geneem het. Dit is interessant om die aantekeninge van 'n waardige ou pedagoog, M. Allain, omtrent die leerling France te lees. Die
arme ou man was maar 'n swak handhawer van tug, en daar hy so baie van sy losbandige klas moes verdra, sal ons hom maar sy gebrek aan gesonde oordeel moet vergewe. Hier is sy opienie van Anatole, ‘onverskillig, kinderagtig, hy giggel gedurig, 'n vlieg trek sy aandag af, sy oefeninge is sleg gedoen, een stuk werk uitgelaat.’ Terwyl die geplaagde onderwyser sulke aantekeninge in sy register maak, skrywe die leerling satieriese gedigte waarvan die volgende 'n voorbeeld is:
| |
| |
Quelle tempête, ciel! s'est dès ton arrivée
Pour appaiser ce bruit, tout ton courroux, Allain
En bruyantes clameurs, en cris coufus la classe
Et tes sens effrayés croient entendre ce bruit
Die seun het die Kollege gehaat, en het dit ‘die tronk’ genoem, 'n bynaam wat die meeste Franse skole wel deeglik verdien het. Die skrywer hiervan moes ook 'n tydjie in een van die inrigtings deurmaak waar speletjies iets onbekends was en waar die ongelukkige studente om aguur v.m. begin werk en eers om sesuur n.m. klaarkry; dan nog allerhande ander werkies wat gedurende die student se ‘vryure’ voorberei moes word. Langsamerhand het daar 'n meer menslike stelsel ontwikkel, en ontspanning speel nou 'n meer vername rol in die Franse skool-lewe. In sy later lewe het Anatole France met genoeë teruggedink aan sy daelikse wandelings heen en weer skooltoe - want hy was nie 'n kosganger nie - en het selfs beweer dat die Paryse winkelvensters met hulle ou prentjies, afdrukke en gravures, sy jong gemoed baie meer beïnvloed het as die inkbemorsde en verflenterde skoolboeke waaruit lesse alleen deur dreigemente en gedurige straf ingepomp was.
In sy vader se boekwinkel, waar hy graag geluister het na die gesprekke van egte boekliefhebbers, was die seun regtig gelukkig. Die Goncourt-broers beskrywe die plek as een van die laaste oorblyfsels van die ou boekwinkels waar 'n mens nog met die eienaar kon sit gesels; waar 'n mens die behoorlike, vreedsaam en rustige atmosfeer vind wat nou in gevaar staan om deur ons moderne, woelige, en uiters meganiese eeu verdring te word, - 'n eeu wat meer ‘Babbits’ voortbring as ware boekliefhebbers.
Anatole is dikwels op skool gestraf geword omdat hy sy werk nie voorberei het nie, maar hy was besig om die ensiklopediese informasie, wat in al sy boeke verstrooi is te versamel. Hy was buitengewoon gretig om te lees en sy nuuskierigheid was universeel. Van die werke van Bossuet het hy gegaan na 'n brosjure oor ‘Hoe om te snuif sonder om jou gesondheid te benadeel’. Die kind was besonder lief vir geskiedkundige werke en het dikwels na 'n moeilike Griekse oefening troos in 'n ou kroniek gesoek. Hy het besuinig om twedehands boeke te kan koop en wanneer hy heeltemal platsak was, het hy skelmpies een of twee boeke van die winkel weggeneem om dit later te verslind.
Dit is onnodig om die lewe van ons skrywer volledig weer te gee. Al wat van sy vroeër jare bekend is, is al deur Georges Girard saamgestel. Boeke
| |
| |
soos Pierre Nozière, Le Petit Pierre, La Vie en Fleur en andere gee alle besonderhede omtrent Anatole se vroeëre lewe. Hierdie verslae mag miskien nie baie presies wees nie, maar is tog so presies soos van kunswerke verlang word. Die skrywer het daar verbasend goed in geslaag om sy jongelingsjare, toe Parys nog die middelpunt van die wêreld en Sjiena net agter die Arc de Triomphe was, weer te gee. Baie voorvalletjies wat aangehaal word sou in die hande van 'n minderwaardige skrywer onbeduidend voorkom. Maar France, deurdat hy so'n groot kunstenaar is, het die geheim uitgevind hoe om van 'n traan 'n pêrel te maak. Besonderhede mag wel grotendeels verbeelding wees, maar wat werklik van belang is, is die ontwikkeling van sy lewensopvattinge en die vormvatting van sy gedagtegang. Ons sien hoedat hy stof vir nadenking uit elke gesprek van sy ouers geput het, hoe gou hy denkbeelde gevorm het wat stadigaan tot idees verander het. France het Parys met sy luikronkelende rivier, sy ongeëvenaarde bekoring, die oewers van die Seine met hulle skilderagtige ou twedehand-boekhandelaars innig liefgehad. Onder sulke omstandighede - in ooreenstemming met sy temperament, het hy langsamerhand 'n deeglike klassieke kultuur aangekweek. Hy het maar min medelyde met die oppervlakkige, haastige, sorglose lewe van vandag gehad.
Anatole France het 'n aantal gedigte geskrywe, party van hulle soos ‘Poèmes dorés’ en die ‘Noces Corinthiennes’ is van groot waarde, hulle toon volmaakte tegniek en 'n diep gevoel vir skoonheid. Dit is opvallend, selfs na 'n oppervlakkige ondersoek van sy prosa-werke, dat France 'n ware digter was, en 'n mens sou maklik 'n bloemlesing van pragtige poëtiese prosa uit sy werke kon versamel. Hy is 'n diepdenkende man en skep groot behae in meditasie. So nou en dan het hy deelgeneem in alledaagse gebeurtenisse, maar meesal het hy verkies om die wêreld te aanskou en om oor die domheid, ydelheid en onverdraagsaamheid van die mens te peins.
Die Franse literatuur kan 'n groot aantal roemryke name toon wat vir gematigheid, gesonde verstand en verdraagsaamheid staan. Na die vreeslike wreedheid wat die XVIde eeu se ‘godsdienstige’ oorloë begelei het, het die nasie haar stem in ‘Satyre Ménippée’ laat hoor toe d'Aubray gepleit het dat daar 'n end aan die moorde moet gemaak word, en die vredebelowende Hendrik IVde verwelkom het. Die houding is tiepies Frans. Oor die algemeen haat hulle literêre verteenwoordigers dwepery en betreur die ligsinnige wreedheid wat sy oorsprong in godsdienstige of politieke fanatisme het. Rabelais, Montaigne, Molière, Voltaire, J.J. Rousseau, en Renan en nog baie ander word opsetlik en herhaaldelik verkeerd voorgestel deur beoordelaars wat deur hulle godsdienstige partydigheid, enige mens wat aan die hand gee dat godsdiens A nie 'n monopolie van waarheid besit nie en miskien niks anders as onkunde en bygeloof mag wees, en dat godsdiens B net so goed is as A, dat dogmas en geloofsbelydenisse nie die moeite werd is om oor te stry nie en dat 'n gods-
| |
| |
G. MOERDYK:
N.G. KERK DUNDEE (NATAL).
| |
| |
dienstige dweper 'n nare persoon is sonder 'n greintjie barmhartigheid in sy ellendige siel, en dat 'n God van liefde nie genoodsaak is om bevredig te word deur die vertoning van nare vervolgings en haatlike onderdrukking wat ten ere van Hom, tot uitvoer gebring is. Ongelukkig haal min verdedigers van die Kristendom die Bergpredikasie aan.
Baie jare gelede het Montaigne die mense aandagtig daarop gemaak dat ‘Il n'y a ancune constante existence ni de votre être, ni de celui des objets, et nous, et notre jugement, et toutes choses mortelles, vont coulant et roulant sans cesse: ainsi il ne peut établir rien de certain de l'un á l'autre, et le jugeant et le jugé étant en continuelle mutation et branle.’ Hiermee sou Anatole France seker ooreenstem. Sisteem het hy gehaat, en die mense wat vir hul verbeel het dat hulle die Kosmos deur 'n formule kon verduidelik uitgelag. Hy het die wat onder die aanmatiging verkeer dat die laaste waarheid aan hulle geopenbaar is, terwyl die res van die mensdom in onkunde lewe, bejammer.
France is, ten spyte van die bewerings van sekere vyandige beoordeelaars, 'n diepe denker. Daar is blykbaar geen belangrike filosofiese stelsel, óf oud óf modern, waarmee hy nie bekend was nie. Hy was skrander genoeg om te sien dat stelsels ondergaan terwyl die groot geheim bly. Nieteenstaande al ons geleerdheid weet ons niks meer dan die ou Grieke omtrent die groot probleme aangaande ons oorsprong en bestemming.
Anatole France se kultuur is Grieks-Latyn. Sy idee is dat meeste moderne skrywers baie dank verskuldig is aan die ou volke, en daarom verkies hy om direk van die bron te put. Dis bekend dat hy baie meer die ou skrywers aanhaal dan die moderne. Wat is sy leer? Hy dink dat die lewe daar is om te geniet, maar hy ag plesier nie hoog genoeg om sy lewe te wy aan die jag daarna nie. Hy neem dit aan as dit in sy pad kom, maar is verstandig genoeg om nie neerslagtig te wees as dit afwesig is nie. Sy idee is dat skoonheid geniet moet word, dat die begeerte geïnspireer deur skoonheid nie verkeerd of sondig is nie, maar net so natuurlik en wettig soos honger of dors of enige begeerte. Dit is miskien sy voldane beskrywing van fiesiese skoonheid en die begeertes wat dit veroorsaak wat meer as enigiets anders die woede van sy beoordeelaars opgewek het. Sy werke is lank deur die Rooms-Katolieke kerk verband, en alle ortodoks-godsdienstige meesters stem saam dat hy die mees verleidelike en gevaarlike leraar van anargie sedert Renan is. Maar as ons sy werk van naby beskou, vind ons dat hy gladnie so onsedelik of gevaarlik is as wat hy gewoonlik voorgestel word nie. Ongetwyfeld keur hy dogmas en dwepery af, dus om hom regverdiglik te oordeel moet ons Johnson se gesegde voor oë hou, en ons gedagtes van wartaal reinig. In sy lesings oor Rabelais het France die volgende stukkie uit die skrywer van ‘Gargantua et Pantagruel’ aangehaal wat die opienie van die moderne sowel as van die XVIde eeu se monnik en dokter uitdruk: ‘‘Physis (c'est Nature) enfanta
| |
| |
Beauté et Harmonie... Antiphysie, laquelle de tout temps est partie adverse de Nature, enfanta Amodunt (excès) et Discordance. Depuis elle engendra les matagots (vieux fous), cagots et papelars (faux dévots) et autres imposteurs....’ Veronderstel nou net 'n dweper uit alle godsdienstige sektes, en plaas hulle te same. Voltaire het in sy artiekel oor dwepery in die Dictionnaire Philosophique, die gevolge geskets.
Anatole France is op 'n belaglike wyse deur sy vyandige beoordeelaars voorgestel. Jean-Jacques Brousson, skrywer van Anatole France en Pantoufles en van Itinéraire transatlantique - die jong man wat hom na Amerika vergesel het toe die groot skrywer uitgenooi was om 'n reeks lesings daar te gee (hy het Rabelais as onderwerp gekies) - het die spreker belaglik laat lyk. Min mense wat Brousson se werk lees sou dit die moeite werd ag, om die van Pierre Calmettes, wat in die ‘Mercure de France’ (1 Mei 1929) die verdraaiing, vervalsing en verkeerde voorstelling waaraan Brousson hom skuldig gemaak het aangewys het te lees. Dis geen wonder dat Anatole France baie vyande het nie. Dit is wonderlik dat hulle hom met rus in sy bed laat sterf het. In Oktober 1924 het ek onder 'n groot gedrang in Parys sy lykstasie aanskou, en geluister na toesprake waarin hulle sy talent hemelhoog geprys het. Waarlik, dog ek, die wêreld draai, en liberale idees is besig om die mensdom stadig te deurdring. Was hy 'n tydgenoot van Etienne Dolet, dan sou hy nooit so lank gelewe het nie.
Dikwels word France wellustig genoem. Die benaming is eg. Hy was meer wellustig as sentimenteel en het waarskynlik uiting tot sy eie gedagte gegee toe hy in Sur la pierre blanche geskrywe het, ‘L'Amour est une passion abjecte... qui trouble les conseils, brise les desseins généreux et tire les penseés les plus hautes aux soins les plus vils et qui ne saurait habiter un esprit sensé.’ Dit sou nogal interessant wees om uit te vind hoeveel van France se vyande wel deeglike ondersoek in die grondslag van hulle ‘credo’ ingestel het. Anatole France het gevoel dat mense oor die algemeen idees aanneem sonder om enige ernstige ondersoek aangaande hulle geldigheid te maak; en die meeste van sy werke is gewy aan die openbaar maak van die dwaasheid, teenstrydigheid, en ydelheid van baie van die mensdom se mees geliefkoosde idees vanaf die begin van die geskiedenis. In Thaïs het ons die welbekende gesprek tussen verteenwoordigers van die vernaamste filosofiese skole in die Alexandrynse tydperk. Elke spreker word geroskam deur die twyfelaar Nucias wat in alle waarskynlikheid namens die skrywer optree. Ortodokse dogma word deur die swyende Paphnuce voorgedra. France is net soos Renan, in die Katolieke leer opgevoed. Weer net soos Renan, is France gewoonlik nie 'n wrede of bittere krietikus nie. Soos 'n ware kunstenaar en 'n opregte heiden, het hy geglo dat 'n mens eenvoudig jou natuurdrif moet volg mits dit deur die verstand getemper word. Anatole France het die hardheid
| |
| |
van sekere godsdienste met die wrede vervolging wat dit voortbring beskou as misdade, teenstrydig met harmonie en skoonheid - die enige ware oortreding volgens sy waarneming. France het egter nie die Kristendom so erg as die misleide dwepery, wat sy geskiedenis in bloed geskrywe het, aangeval nie. Hy kritiseer alleenlik die karikatuur van Jesus se leer wat baie van sy sogenoemde navolgers verdraai en verlaag het, wat die evangelie van liefde en vergifnis, nederigheid en minsaamheid, as 'n ekskuus gebruik het om te folter soos net die Bose kon.
Ook het Anatole France baie simpatieke Kristene geskets - Ahmès, Vivantius, Saint Antoine, Paul le Simple, Flavian, Albine, selfs Thaïs, maar veral Palémon. Hy ontken dat dit toegelaat is om enigeen te knuppel omdat hy weier met ons saam te stem. Die mense wat Anatole France as 'n onnadenkende demagoog beskou, het seker Evariste Gamelin vergeet.
Taine se tydgenote het hulle verbeel dat wetenskap die sekerheid kon gee wat godsdiens nie kon nie. Die volgende geslag het egter Positivisme sien afneem en het besef dat wetenskap ook onbekwaam is om die raaisel op te los. In 1913 (Temps, 12 Maart) het France hulde gebring aan Taine omdat hy ‘Cousin se afskuwelike leer’ vernietig het, maar het dikwels beken dat Taine se stelsel tekort kom om enige mens, behalwe die skrywer self, te bevredig. Tot 'n sekere mate het France vir Bergson voorgespring toe hy die verstand eiesinnig en wreed verklaar het. ‘La sainte ingénuité de l'instinct ne trompe jamais. Dans l'instinct est la seule vérité.’ Ons moet nou nie die gevolgtrekking maak dat France die waarde van die verstand ontken nie. Hy het eenvoudig die grense daarvan en die dwaasheid van ons opvatting dat ons die absolute waarheid kon bereik getoon. Die lesers sal die stukkie uit Puits de Sainte-Claire onthou waarin Giovanni na die waarheid soek en 'n wiel in baie kleure verdeel sien. Terwyl die soeker die afwesigheid van waarheid, wit en rein, betreur, begin die wiel te draai, vinniger en al vinniger totdat die kleure almal saamsmelt en die wiel geheelenal wit vertoon. Toe sê 'n stem ‘Contemple la Vérité blanche que tu désirais connaitre. Et sache qu'elle est faite de toutes les vérités contraires, en même facon que de toutes les couleurs est composé le blanc.’
France glo nie in stelselmatige of geen kompromiskennende ontkenning nie. Hy onthou hom eenvoudig van beweringe. Hy is tevrede om net soos Montaigne slegs te twyfel. So'n houding is heeltemal buite die bereik van die meeste mense. Ons is ongelukkig tensy dat ons dink dat ons weet. In 'n beroemde passaat verklaar France sy geloof. Hy sê dat absolute twyfel, absolute stilswye, absolute onverskilligheid beteken. ‘Et puisque je n'avais pas le courage du silence et du renoncement, j'ai voulu croire, j'ai cru. J'ai cru du moins à la relativité des choses et à la succession des phénomènes.’ Aan- | |
| |
gesien priesters, geleerdes, towenaars, nog wysgere die regte weg kon aandui, het hy die weg aangedui deur skoonheid gevolg. Dit is natuurlik verkeerd om voor te gee dat France onverskillig is teenoor die ellende van die mensdom. Sy verstand het spot verkondig maar sy hart was vol van medelye. Dikwels het hy geveg vir regverdigheid en sy rol in die ‘Affaire Dreyfus’ strek to sy eer. Ons is almal geneig om enige inmenging in ons gewoontes, konvensies en vooroordele kwalik te neem. Ons vergeet dat alles relatief is en dat die rewolusinêre, so gou soos hy sy doel bereik het, erg konserwatief word. Vooroordele, gewoontes, wette, verander almal van tyd tot tyd. France verklaar dat menslike wette ontstaan deur toorn of vrees; ook dat alleen 'n twyfelaar altyd moreel en 'n waardige burger kan wees, want 'n twyfelaar bied nooit weerstand teen wette nie, daar hy nooit in die moontlikheid van goeie wette geglo het nie. Soos alreeds aangetoon, veroordeel sekere kringe Anatole France as 'n verderflike en noodlottige invloed. Dit skyn egter na noukeurige ondersoek dat sy werk besonder gesond is. Hy dwing ons keer op keer ons opvattinge te ondersoek, om nie ou dogmas aan te neem net omdat hulle oud is nie, maar om te strewe na intellektuele orde, d.i. om onsself wakker te skud van ons gevoelloosheid en
om weer op te staan van die débris van ons eerwaardige maar oorwonne illusies. Alle pogings om die man en sy werk te verkleineer is vergeefs. Sy werk is te groot. Hy het geen direkte navolgers gehad nie, en tog is byna al die moderne Franse skrywers hom dank verskuldig. Byna almal was onwillekeurig deur hom beïnvloed. Hy het die moed gehad om te verklaar dat 'n idee nie noodwendig vals is omdat dit gevaarlik voorgestel is deur die wat oor ons sede en maatskaplike orde waak; dat wetenskaplike ondersoek nie belemmer moet word deur etiese of politieke oorweginge nie.
Anatole France geval miskien nie die massa nie, maar die skare van opgevoede mense uit alle lande word groter en groter wat behae in sy werk skep. Sy idees word in 'n helder en natuurlike styl heeltemal vry van pedanterie uitgedruk. Sy mooi styl het ook grotendeels daartoe bygedra om sy gedagtes onder mense te versprei wat enigsins die skoonheid, gebore uit die wonderlike knap keuse en rangskikking van woorde, verstaan.
H.P. LAMONT.
|
|