Toe neem Salomo sy dogter en haar man en bring hulle na Jerusalem, en maak vir hulle 'n fees van sewe dae, en is met hulle vrolik. En toe die feesdae verby is roep hy vir sy skoonseun en sê:
‘Kyk, jy is die skoonseun van die koning, en my ryk is groot en wyd, en nou, kies vir jou 'n eervolle pos na jou hartelus, en ek sal hom vir jou gee!’
Toe antwoord die skoonseun van die Koning:
‘My Heer! Ek is 'n skrifgeleerde en 'n seun van arm mense van my jeug af, en al my vadere was skrifgeleerdes en Godgeleerdes. Hulle hart het nie na groot dinge uitgegaan nie, en feespaleise het hulle nie geken nie. En nou, as ek goed is in u oë, gee vir u kneg 'n eensame en rustige woning aan die seestrand, dat ek daar met my sielsbeminde woon, en, soos al my vadere, nadink oor die dade Gods en die kennis van Sy weë, al die dae.’ En die koning het vir hom na sy wens gegee, en het hom aangestel oor die skrifgeleerdes van die koning. En tot die skoonseun van die koning het versamel die menigte van skrifgeleerdes en wyse wat die kennis van God gehad het in Israel, algar betroubaar van woord en betroubaar van gees. En hulle het versamel al die wyse woorde en die liedere en die raaisels en die diepsinnige woorde wat Salomo laat hoor het elke woord op sy tyd, en hulle het die woorde op skrif gebring; is hulle nie geskrewe in die Hooglied en die Spreuke van Salomo en die Woorde van die Prediker tot op hierdie dag nie! En ook 'n paar van die woorde van sy wysheid wat hy geweet het en wat hy uit sy hart oordink het, het die skoonseun van die koning versamel, en hy het hulle gevoeg hy die Spreuke van Salomo, agteraan; is hulle nie die woorde van Agur die seun van Jake tot op hierdie dag nie! En dit is wat hy sê in sy spreuke:
Daardie drie dinge is vir my te wonderlik,
en vier kan ek nie verstaan nie:
die weg van die arend in die hemel,
en die weg van 'n slang op 'n klip,
die weg van 'n skip midde op see,
en die weg van 'n man by 'n maagd.