En die hart van die oudstes het weer 'n bietjie rustig geword, en een van hulle, 'n man wat verstand van geneeskuns het en insig in sulke sake had, het sy hand beweeg en gesê: ‘Dis niks nie. Dis niks as dat die koningsdogter 'n bietjie vet geword het deur die baie sit soos 'n vermoeide in haar kamer. Laat sy maar 'n bietjie heen en weer stap op die dak, en sy sal weer word soos vroeër.’
Toe het die oudstes heeltemal rustig geword, en teruggekeer na hul plek en hul wagpos. Maar slegs enkele weke het verbygegaan, en kyk, die oudstes bemerk dat die koningsdogter ongeveer twee vingers dikker geword het, en hulle het baie besorg geword. En toe sy uitkom na hulle toe, het hulle na haar maag gekyk en gevra:
‘Wat makeer, koningsdogter, is jy miskien siek?’
En sy set haar gesig strak en antwoord:
‘Dis goed met my, moenie besorg wees nie; kyk, daar 's 'n akkedis in die hoek!’
En toe sy so antwoord vlug sy na haar kamer, met haar hande op haar dye van die lag.
En die oudstes kyk haar na en skud hul kop, en hul rus was weg, want hul het gemerk dat die meisie haar houding en haar handelwyse met hulle verander het, en hulle wis nie wat haar makeer nie.
Eens op 'n keer gaan die koningsdogter uit na hulle toe in die môre na gewoonte, en sy sien een van die kamerhere sy bete doop in asyn, en sy kry baie lus daarvoor, en sy val in 'n floute. En die kamerhere was baie bekommer om haar weer by te bring; en toe hulle daarmee besig was, word vir hulle die geheim openbaar, en hulle slaan die hande inmekaar en sê: ‘Ag, onse gebiedster, koningsdogter, jy is swanger!’
En die koningsdogter antwoord, en haar oë was nog sterk, maar haar stem was swak, alleen daar glans 'n fyne lig op haar gesig: ‘Ja, ek is swanger!’
‘Van wie?’ vra die oudstes as uit één mond, en hulle is verbluf.
‘Dis nie vir julle om te weet nie,’ antwoord die koningsdogter.
En die gesigte van die oudstes verval baie, en hulle vrees met 'n grote vrees, en hulle hart bewe soos die verwelkende blare bewe vir die herfswind, want wat sal hulle die koning antwoord, en wat sal hulle vir hom meld?
En die oudstes gaan sit op die grond, treurig en met geboë hoof, as roudraers en wanhopig, en hulle wag vir hul vonnis.
Ag! hoe waar is die woorde van die lieflike sanger: As die Here nie bewaar nie - tevergeefs waak die wagter.
Op daardie dag by die kom van die aand, toe die boot op die see verskyn om na die welstand van die koningsdogter te verneem - toe wuif die uitkyk 'n rooi vlaggie, wat sê: Dis nie goed nie!