| |
| |
| |
‘De Brandwacht.’
Staatsdrukkerij, Fouriesburg, O.V.S.
'n Oorlogsherinnering.
(Die redaksie van ‘Die Nuwe Brandwag’ plaas onderstaande artiekel oor, sover ons bekend, die eerste ‘Brandwag’ in Suid-Afrika, met groot genoë. Dit is miskien nie heeltemal in die aard van ons tydskrif nie, maar dis van so 'n interessante inhoud, en ten slotte dit handel oor ‘De Brandwacht.’ Mnr. Meyes skryf uit Holland: ‘Wat mijzelf betreft: ik behoorde tot hen die in het begin van den oorlog waren uitgekomen naar Zuid Afrika en ben kort voor het eind in de Kaapkolonie gevangen genomen en ten slotte vervoerd naar Bhimtal in de Himalaya's tot September 1902. Ik heb toen nog moeite gedaan om naar Afrika terug te keeren, maar dit werd mij door de Engelschen niet toegestaan. Juist om mijn drukkerij was ik door hen uit Zuid Afrika verbannen. Zo keerde ik dus naar Holland terug. Maar het was mij steeds een reden van groote teleurstelling dat ik waarschijnlik nooit meer uw heerlijk zonnig Zuid Afrika zal terug zien.’ - As daar nog iemand in Suid-Afrika of elders is wat iets van ‘De Brandwacht’ of dgl. publikasies weet, soos bv. die ‘Zoutpansberg Wachter’, sal die redaksie graag daarvan wil hoor.)
NA Paardeberg, waar Cronjé op 27 Febr. 1900 met sy laer gevangegeneem is, toe die Britse troepe na Bloemfontein opgetrek het, het die Vrystaatse Regering sy setel na Kroonstad verplaas. Om dit moontlik te maak Regeringsstukke, soos proklamasies, e.d.m. te publiseer, het hulle 'n handdrukpersie saamgevat, - oorspronklik in gebruik by die Vrystaatse Spoorwegdiens. Later is die Regering nog baie keer verplaas, waarby die drukkerytjie saam verhuis het, en so het dit agtereenvolgens gestaan in Heilbron, Frankfort, Vrede, Reitz, Bethlehem en eindelik in Fouriesburg, die dorpie in die Witteberge in die distrik Ficksburg teenaan Basoetoland. Na Bethlehem ingeneem is, op 7 Junie 1900, het die Vrystaatse Boeremagte hulle in daardie bergwêreld teruggetrek. In die nag tussen 15 en 16 Julie het de Wet met die Regering by Retiefsnek uitgetrek, deur die Engelse heen, Transvaal-toe. Generaal Martinus Prinsloo het toe op 30 Julie die agtergeblewenes met die hele krygsvoorraad aan die Engelse oorgelewer. Maar die meeste burgers het nog die dag by Witzieshoek in noordelike rigting ontvlug, met al die kanonne en meksims op twee na. Dit het wel in gruwelike wanorde geskied, maar hulle is uit. Plek en gebeurtenis is by dies wat deelgeneem het bekend as ‘die Ramkraal’. By hierdie geleentheid het ek my aangesluit by die oorgeblewene Ficksburgers.
Ons het toe onder Hasebroek, Olivier, Fourie, e.a. 'n tydlank in die oostelike helfte van die Vrystaat rondgetrek - die eerste tyd orals skrik
| |
| |
FAKSIMILE: DE BRANDWACHT.
| |
| |
bringend onder die Engelse, wat mos gemeen het, dat hulle die hele Vrystaatse Mag vir goed in die ‘Ramkraal’ vasgekeer het. Ons het ook nog danig tussen hulle gespook, tot hulle weer sulke groot troepemagte teen ons saamgetrek het, dat ons in September by Doornberg uitmekaar gegaan het. Die leër het hom toe opgelos in klein kommandos, wat later nog maar 'n enkele keer hulle distrikte verlaat het as de Wet sy burgers versamel het vir sy invalle in die Kaapkolonie.
Ons ‘Ficksburgers’ het die 17de September in die distrik teruggekom. Saterdag, 6 Oktober, met dagbreek, het ons die dorp ingery. Die Engelse poliesie, met hulle kaffers en party ‘mak’ Engelse, het net baie haastig deur die rivier gevlug. Toe ons die 24ste Fouriesburg inry, het die agtergelate Engelse poliesie lankal padgegee.
Ons het ons daar vannuutsaf ingerig. Hermanus Steyn van Slootkraal was kommandant van die Ficksburgers; Koos en Evert Niekerk, van Franshoek en Moolmanshoek, veldkornette. Matthys Niekerk het in Ficksburg as Landdros gefungeer; Mich. Heyns as Vrederegter in Fouriesburg. Ek het toe 'n tydlank as Sekretaris by Evert Niekerk gebly, wat met sy klompie (meeste jongkêreltjies) in Ficksburg gestasioneer was. Partymaal, as Heyns weg was, het ek in sy plek as waarnemende Vrederegter gefungeer. Ons vernaamste werk was toe: patrolliery langs die Basoetogrens en oplet vir die Engelse in Bethlehem.
Toe, middel-Desember, het Chris. Bustraan, een van die Hollanders wat daar gewoon het, vir my die drukpersie gewys, wat in die Sondagshuis van Swart-Karel de Jager gestaan het, skuins-oor sy smidswinkel. Dit was die reeds genoemde drukkerytjie, wat saam met die Regering geretireer en daar agtergebly het. Dit was maar 'n vreeslike deurmekaar spul, maar dit het tog nog taamlik kompleet geblyk. Dit het bestaan uit 'n trap-pers met 'n stukkende trapper; 6 of 7 letterkaste, waarvan die meeste letters oor die vloer verspreï gelê het; twee sethake, lyne en wit; 'n blik ink, 'n gietbus en 'n stuk spesie om rolle te giet; verder 'n groot kas met pakke papier (half-folio) - alles dik onder die stof.
Sonder die minste kennis van die drukkersbedryf te besit, het ek begin die spul agtermekaar te kry; ek het die letters in die bakkies gesit en probeer iets te set en te druk. Dit het begin met vorms vir Kafferpasse, verlofpasse vir burgers en paroolpasse vir ‘mak’ Engelse, - wat ek as waarnemende Vrederegter moes uitgee. Natuurlik het dit met die aanvang maar baie sleg gegaan, maar aldoende beter. Daarna het ek Krismiskaarte gedruk op Engelse manier, met die gelukwense van ons klein kommando aan die ander burgers. Daarop kan 'n mens al die name kry. Op verlange van die Veldkornet het ek myself toe aan die druk van 'n krantjie gesit. Ek het die krantjie ‘De Brandwacht’ genoem.
| |
| |
FAKSIMILE: ORANJE VRIJSTAATSCHE OORLOGS LIEDEREN-BUNDEL.
| |
| |
Van hierdie krantjie het altesame 10 nommers verskyn onder baie wisselende omstandighede. Hulle is respektiewelik gedateer: 22 Des. 1900; 16 en 26 Jan.; 13 Febr., 12 en 13 Maart; 13 en 25 April; 13 Julie en 5 Okt. 1901. Die nommers 1-3 is nog in Fouriesburg gedruk; No. 4 op die plaas Bamboeshoek; nommers 5-9 in 'n ou skoolgebou op Snymanshoek, die plaas van Doris Serfontein; en No. 10 gedeeltelik onder 'n holkrans en verder in 'n huisie van bamboes wat ek bo in die kloof van Snymanshoek opgesit het. Ons het tot daar gevlug met die pers om dit buite bereik van ‘kakie’ te hou.
Party van die nommers het as bylae afdrukke van offisiële dokumente gehad. By No. 7 het gegaan die verslag van die onderhandelinge en die korrespondensie tussen Kitchener en Botha in Maart 1901, met 'n voorwoord. van de Wet. By No. 9 die Proklamasie van Pres. Steyn om 'n Dank- en Biddag te hou; die kennisgewing van 'n geheimtelegram aan Pres. Kruger in Holland, en die verslag van 'n samekoms van die twee Republikeinse Regerings met Christian de Wet, Louis Botha en de la Rey by Standerton op 20 Junie 1901; asook die laaste rapporte uit Transvaal.
Want net toe ek die eerste nommer van ‘De Brandwacht’ afgedruk en versend het, kom daar al 'n rapportryer by my van Pres. Steyn met die afskrif van 'n Proklamasie om so gou moontlik te druk, met die kloekluidende begin: -
‘Zij het aan allen kennelijk: Dat de oorlog, die door de Britsche Regeering de Republieken opgedrongen is, voortduurt, zoowel in de Oranje Vrystaat als in de Z.A. Republiek,...’ ens., met die datum: ‘te velde, 14 Januarie 1901’ en onderteken: ‘M.T. Steyn, Staatspresident, O.V.S.’, en ‘C.R. de Wet, Hoofdkommandant der O.V.S. Legermachten.’ En onderaan het ek gedruk, net soos op my krantjies: ‘Staatsdrukkery, Fouriesburg, O.V.S.’ Later het ek, ook afsonderlik, nog die Korrespondensie gedruk wat gevoer is tussen Kitchener en Pres. Steyn, d.d. 6-15 Aug. 1901, waarby Goewermentskennisgewing d.d. 19 Aug., 'n Proklamasie van de Wet teen burgerspioene, 'n Kennisgewing van Pres. Steyn aan die Boere in die Kaapkolonie, en 'n lys van aangestelde Regeringspersone.
En dit alles elke keer en partymaal vir maande onderbreek deur veg en vlug, weer terugkom, hervat en opnuut wyk.
Pres. Steyn het las gegee, dat die pers soveel moontlik beveilig moes word. Daarop het hulle Korporaal Hendrik Jerling aangewys om daarvoor te sorg. Na die 3de Krantjie het ons geweet dat dit nie op Fouriesburg kon bly nie en het ons dit eers na Bamboeshoek en later na Snymanshoek oorgebring. 'n Paar keer moes ons met die drukkery bo in die kloof skuil, terwyl die kakies die berge afgestroop het. Een keer het die pers vir 'n paar maande so gestaan, uitmekaar geneem en tussen groot klippe weggesteek. Toe ek later weer die masjien kon opstel, het dit uitgekom, dat die drukrolle deur diere
| |
| |
afgeknaag is; ek moes dus nuwe rolle giet, maar het dit eers na baie moeite op 'n manier reggekry.
Later het ek eendag bo in die kloof onder 'n holkrans gestaan en Regeringsstukke druk, toe die papiere van my pers af wegwaai. Oplaas het ek daarbo 'n huisie van jong boomstamme opgetrek, met bamboes toegemaak en gedek met sinkplate van Jerling se huis, wat die kakies verbrand het.
Onder dit alles het Ou-Hans van Jaarsveld, van Ou-Swart-Jan Fourie se plaas, Kransfontein, my trou bygestaan. Daardie Oom het onder alle omstandighede lustig die wiel gedraai (die trap van die pers was mos stukkend) en daarby sy self-gedigte vaderlandsliewende liedjies gesing. Die ‘Hoofdartikel’ (!) in die eerste nommer en in No. 9 is ook deur hom geskryf met nog 'n paar versies. Origens was die artiekels, ens., meeste van my hand, met die offisiële proklamasies en kennisgewings vooraf en aangevul met oorlogsberigte, verslae, adresse, ens. So 'n enkele artiekel was daar van ander.
Dit alles moet beoordeel word na die omstandighede waaronder dit tot stand gekom het: geskryf en gedruk deur iemand wat tevore nooit aan joernalistiek en druk gedoen het nie; met 'n stukkende persie, tussen veg en vlug, in stof en vuiligheid, met min ander hulp as die van Oom Hans.
In Okt. 1901 het daar twee ander Hollanders, wat wou veg, by my gekom: Artillerie-Luitenant Gerrit Boldingh en Hendrik van Doornik. Hulle was op pad om aan te sluit by die kommando van Hoofkommandant Kritzinger. Die Engelse het hom en sy mense gejaag tot hulle die Kaapkolonie moes verlaat, en hy en sy klein klompie Koloniale het toe onder Louis Wessels gebly in die distrik Ladybrand. Sy plan was om met die eerste gunstige geleentheid met versterking van mense en perde die Ou-Kolonie weer in te trek.
Toe het ek besluit om saam te gaan. Ons het mos vasgestel, dat, as daar nog enige moontlikheid kon bestaan op 'n gunstige verloop van die oorlog, dit nog net in die Kaapkolonie kon wees. Daarom wou ons self gaan kyk hoe sake daar lyk. In die Republieke - dit het ons geweet - was die toestand maar hopeloos. In die Vrystaat het amper g'n huis meer orent gestaan nie. Die vee en perde was weggevoer of by honderde of duisende in die krale afgemaak. Die koring en meelvoorrade was verbrand. Vir elke meul by ons in die berge is daar 'n wanhopige stryd gevoer, maar die Engelse het hulle almal opgeblaas. Op die ou end het hulle ook nog die meulinstallasie wat ons 'n tydlank op 'n ossewa rondgevoer het, in hande gekry. As wapens het ons nog net geweers gehad, met maar min patrone, teen hulle baie kanonne en meksims. Die mase van daardie net van blokhuislyne het almaar kleiner geword. Die stryd om hulle was lankal reeds al te ongelyk.
So het ek dan saam met my landgenote die Ficksburgdistrik verlaat. Die drukpers het ek in hande gelaat van Frank Naas Muller, vroeër drukker van die ‘Harrismith News’. Wat hy daarmee gemaak het, weet ek nie.
| |
| |
Hoe ons na baie moeite die 15de Desember die Kolonie ingetrek het, waar ek die volgende dag al gevanggeneem is en Kritzinger gewond in hande van die Engelse geval het by die oorgaan van die treinspoor by Hanover, gelyk met Luitenant Boldingh, wat 'n paar dae later in die hospitaal van Nauwpoort oorlede is, ens. - is deur my beskrywe in 'n artiekel in die tydskrif ‘Hollandsch-Zuid-Afrika’ van 15 Aug. 1911, en 'n mens kan dit dus daarin nalees. ----------
Eksemplare van my drukwerk en die aantekenings wat my dagboek uitmaak, het ek in blikke begrawe onder die holkrans in die kloof op Snymanshoek en later is dit, na ons gesamenlike krygsgevangenskap in Brits Indië, deur Bustraan opgegrawe en na my aangestuur in Holland. So het dit weer in my hande gekom, maar dit dra baie die tekens van die lê in die grond. ----------
Of my ‘Brandwacht’ in daardie tyd enige invloed uitgeoefen het, kan ek nie sê nie. Van die pers is dit nou nie altemit nie, wat betref die offisiële stukke wat ek vir Pres. Steyn gedruk het. Hulle het hul uitwerking seker nie gemis nie. Maar my krantjies met hulle partymaal skerp inhoud? Met toevallig aankomende rapportryers het hulle die veld ingegaan na die kommandos toe, maar ek het nie eintlik geweet in wie se hande hulle gekom het nie.
Deur afdruk vooraan van offisiële stukke het ek probeer om my krantjie gewigtig te maak; en aantreklik deur soveel oorlogsberigte en verslaggies van krygsverrigtings as moontlik daarin op te neem. In No. 6, b.v., word daar 'n oorsig gegee onder die hoof ‘Generaal de Wet in de Kolonie’ van die trek van de Wet deur die Westelike gedeelte van die Kaapkolonie van end Januarie tot begin Maart 1901, uit die dagboek van Luitenant Boldingh. En in No. 9 verskyn my ‘Khaki's bezoek aan de Wittebergen’, 'n humoristiesgetinte oorsig van die trek van Engelse deur ons bergwêreld in Mei 1901, waarby die doel was meule-opblaas en koring en meel verbrand. Meeste van die oorlogsnuus het ek gekry van Wnde Goewts. Sekretaris W.J.C. Brebner. In No. 7 is daar die humoristiese gedig ‘The Lady Roberts’ van die Transvaalse Staatssekretaris Mnr. Reitz, oorgeneem uit die ‘Zoutpansberg Wachter’, 'n Transvaalse blaadjie, met die skryfmasjien gedruk. Daar moes hulle hul dus nog meer behelp as ons.
Deur die Hoofredakteur uitgenooi om iets te vertel van die deur my gedrukte blaadjie het ek dit met die grootste plesier en op die daad gedoen.
Die kringetjie van mense wat op hoogte was wat daardie drukkerytjie betref, was toe al nie baie groot nie, en van hulle is daar baie nie meer in lewe nie. Dit het vir my daarom die moeite wêrd geskyn om 'n kort oorsig te gee van die geskiedenis van my krantjie ‘De Brandwacht’ en my drukkerytjie, wat ek, ondanks verplaatsings, bly betietel het met die weidse naam van ‘Staatsdrukkerij, Fouriesburg, O.V.S.’. MELS J. MEYES.
|
|