| |
| |
| |
Sonligplasse en Skadukolle.
MET hande in die broeksakke staan dr. Barry wydsbene voor die rooi, gemesselde vuurherd, waarin 'n gesellige vuurtjie 'n vrolike huislikheid verleen aan die eetkamer waarvan die meubelment, die skilderye en rangskikking van die vases 'n buitengewoon kunsvolle smaak, gepaard met heelwat weelde, verraai. Uit 'n kamer aan die oorkant van die gang kom die nouliks hoorbare klanke van 'n vrouestem wat Brahms se ‘Wiegeliedjie’ sing.
‘Dis nou werklik kind bederf daardie,’ reken die man, terwyl hy 'n gemakstoel nader trek en gaan sit. Die boek wat in die stoel gelê het trek sy aandag en hy begin blaai daarin. Daar word gebel, en enkele oomblikke later verskyn die blanke diensmeisie met 'n paar boeke.
‘'n Man wat godsdienstige boeke verkoop, Dokter,’ meld sy aan.
‘Nee dankie, Lena,’ antwoord dr. Barry, sonder om eers op te kyk van die boek waarin hy begin lees het. Maar skielik, asof hom iets byval, steek hy sy hand in sy sak. ‘Dé Lena, gee die halfkroon aan die arme drommel, dan kan hy tog vanaand 'n warm bed geniet.’
Lena verdwyn, en kort daarna gaan die deur van die kamer, waaruit die wiegeliedjie netnou weggesterf het, ope, en geluidloos verskyn 'n jong vroutjie, haar oë knippende, soos een wat uit die donker skielik die ligkring binnetree. Suutjies stap sy tot agter haar man se stoel, lig sy hoof agteroor en druk 'n soen neer op sy voorhoof, Daarop neem sy plaas op 'n hoogopgestopte kussing langs hom en sit stip-starend die blou en rooi vlamtongetjies, wat om die kole lek en bokspring, en bekyk terwyl haar man se regterhand liefkosend haar rooibruin krulle streel.
‘Maar Alida, hoe lyk dit dan of jy teenswoordig sosialis word?’
‘Hoe so?’ merk sy op, sonder haar oë van die vuur af te wend.
‘Kyk, hier is jy dan nou met Zola se “Germinal” besig. Verlede week was dit Mazzini se boek oor sosialisme, en voor dit het jy glo daardie boek van Jack London.... wat was dit nou weer?... “People of the Abyss” gelees.’
‘Nee Kris, ek was maar nog van altyd af sosialis, maar hierdie boeke het my maar net tot 'n dieper besef daarvan laat kom. Weet jy Kristo, toe ek vanaand so sit en lees oor die armoede van die werkende klasse in Frankryk het dit my aandagtig gemaak op die ellende van ons eie armklasse. Ek is seker ons het geen besef van die bittere lyding en onbeskryflike versonkenheid van duisende van ons eie mense nie - Afrikaners net soos ek en jy - wat
| |
| |
G. PILKINGTON.
AKWARIUM, KAAP.
| |
| |
binne 'n paar myl van ons huis voortsukkel in 'n soort dierlike bestaan, sonder enige gryntjie liggaamlike en geestelike genot.’
‘Nee ou Hartjie, as jy soos ek daeliks in noue aanraking kom met alle stande van die samelewing, dan sal jy ook minder sosialistiese neiginge toon. Gewoonlik is dit blote luiheid en onsedelikheid wat al die ellende veroorsaak. En selfs die deugsames, wat deur pure ongeluk of 'n wrede noodlot verarm, ontaard so gou dat hulle spoedig gevoelloos word, en hulle liggame word taai en gewoond aan ontberinge. Dis die mens se aanpassingsvermoë by sy omstandighede wat die grootste redding en geluk van die armes is.’
‘Ja Kristo, miskien word hulle sinne mettertyd verstomp, maar hulle besit nog altyd 'n onderskeidingsvermoë om te besef wat die genietinge van die bevoorregte klasse is in vergelyking by hulle eie armsalige bestaan. Uit hierdie onderskeidingsvermoë ontstaan 'n bittere gevoel van verongelyking wat naderhand wanhoop aan enige toekoms. Kris, jy praat so maklik van hulle sedelike onverskilligheid en luiheid, maar jy weet goed dat sedelikheid bloot 'n kwessie van omgewing en opvoeding is. As jy in daardie atmosfeer jou geestelike ontwikkeling ontvang het sou jou sedelike beskouings en lewensopvattinge hemelsbreed verskil het van die ideale en beginsels wat jy vandag koester.’
Krisjan Barry glimlag. ‘Vroutjie jy is alweer reg - maar altyd reg né? Maar aangesien jy vanaand niks kan doen tot versagting van die leed van die arme stommelinge wat, volgens Kristus, maar altyd by ons sal wees, mag ek die ernstige gesprek aflei in 'n ander rigting? Jy weet mos dat die Brands aanstaande maand na Europa gaan. Hulle sal glo vandusie hou van hulle huisraad. Vanmiddag kom Brand in my kamer met 'n yslike pak skilderye en geraamde afdrukke. Hy wil weet of ons die prente vir twee jaar vir hulle sal versorg.’
‘Hoe heerlik Kristo! En waar is hulle nou?’ roep Alida opgetoë uit.
‘Nog in die stad, want ek moes twee besoeke gaan aflê op pad huis-toe en kon hulle dus nie meebring nie.’
Die tafelklokkie verkondig die aandete, en Kris lig sy vroutjie op van haar sitplek, wieg haar 'n paar maal liefkosend heen en weer in sy arms terwyl hy sy gesig teen haar mollige wit hals vasdruk.
Dis 'n paar weke later en dr. Barry en sy eggenote sit aan tafel. Alida se blonde vel steek helder af teen haar swart dineerok van onberisplike snit, terwyl die gedempte lig haar goedversorgde rooibruin hofie nog bekoorliker as ooit laat vertoon - 'n sjarmante vrouebeeld!
Die diensmeisie verskyn met 'n gekreukelde brief vir die dokter.
Met gefronsde voorhoof lees Krisjan die inhoud van die liederlike stukkie papier. Skielik helder sy gesig op en hy uiter: ‘O dis seker van die
| |
| |
arme skepsel wat 'n paar weke gelede hier was om godsdienstige boeke te verkoop. Die kêrel sê hy lê op sterwe. Maar daardie ou storie ken ek alte goed al. Ek wonder darem of dit werklik so dringend is. Wel Kindlief, ek stel voor dat ek jou eers stadsaal-toe neem, dan kan ek na Soutrivier gaan om te sien of die arme kêrel werklik so ernstig is as die brief te kenne gee. Daarna kan ek weer stad-toe gaan en jou in die saai ontmoet. Ek sal nie te laat weer by jou aansluit nie, en sal nog heelwat van die konsert kan geniet.’
‘Dankie Liefste, maar dis veels te veel moeite. Ek is nie so danig gesteld op vanaand se program nie. Buitendien kry ek tog elke week die kans om die orkes te hoor, en dis nie so 'n groot teleurstelling om een week tuis te bly nie.... Regtigwaar Skatlief, ek bly liewers vanaand tuis.’
‘Dis net soos jy wil, Kindjie,’ antwoord Krisjan, toe hy die kamer verlaat.
Verdiep in 'n boek het Alida in die studeerkamer 'n heerlike uurtjie voor 'n smeulende houtvuur ten seerste geniet. Daar het Krisjan haar binne 'n uur aangetref.
‘My ou man is baie gou terug,’ sê sy, terwyl hy vooroor buk en haar glansende hare soen.
‘Ja en in die kort tydjie het hy 'n baie snaakse ondervindinkie opgedoen,’ antwoord hy, terwyl hy plaas neem op die armleuning van haar stoel.
‘Jy weet mos dat ek vanaand na Soutrivier uitgeroep is na 'n sterwende. Toe ek daar kom beland ek voor 'n bouvallige ou huisie in 'n vieslik vuil systraatjie. Mevrou Steyn, die ou moeder van die sieke, is 'n maer, uitgeteerde vroutjie van sowat sestig jaar, met nog die duidelike trekke van 'n beter beskawing in haar stem en haar sagte maniere. Maar 'n mens kon dadelik sien dat sy al bitterswaar gekry het in haar lewe. Sy en haar seun bewoon twee klein vertrekkies. Alles was taamlik skoon en netjies, maar ag! so armoedig en skraps. Op 'n lendelam kateltjie in die slaapkamer lê 'n jongkêrel van sowat dertig jaar in die laaste stadium van longtering. Terwyl ek langs hom sit val my oog toevallig op 'n portret op die parafienkissie voor sy bed. In die flou flikkerlig van die armsalige ou kersie kon ek eers nie eintlik die gesig van die portret uitmaak nie. Maar skielik besef ek dat die gesig my bekend is. Nog kon ek my eie sintuie nie vertrou nie, dus vra ek toe vir die sieke wie die nooi was wie se portret hy voor sy bed het. Dit was joue, Alida, - jou portret wat ek daar voor my gesien het. Toe ek hom vra vanwaar hy dan Alida Theron ken, vertel hy my dat sy ouers voorheen in die distrik van Prins Albert geboer het. Sy pa was 'n welaf boer en sy suster was saam met jou op skool. Jy het glo dikwels by hulle op die plaas gaan kuier. Toe kom die groot droogte en sake het van sleg tot slegter geraak, totdat hulle eindelik bankrot is. Hulle is toe Kaaptoe, waar sy vader vier jaar gelede dood is. Sy suster is getroud en woon in Woodstock, en hy
| |
| |
en sy moeder... Alida, ek is tog so jammer dat ek jou so ontstel het,’ merk Krisjan op toe hy 'n warm traan op sy hand voel.
So tussen haar trane deur, met haar blik strak gerig op die vlamme, in 'n sangerige eentonige stem van een wat droombeelde uit die verlede herroep, terwyl 'n snikkie nou en dan haar woorde onderbreek, vertel Alida vir haar man van naar vrindskap met die Steyns in Prins Albert. Nou onthou Krisjan ook goed hoe dikwels sy alreeds vir hom vertel het van die liewe Tant Essie en Oom Pieter by wie sy so dikwels gekuier het in haar skooljare; van hulle dogter Salome en Piet, die knap seun. In dié dae was Oom Pieter Steyn een van die rykste boere in die distrik. Aan gasvryheid het dit nooit ontbreek in hulle deftige woonhuis op Biesiespoort nie. Menige heerlike vakansie het Alida by die liewe mense deurgebring, en die nouste band van vrindskap het haar verbind aan die lewenslustige dogter van die huis, en ook aan die frisgeboude en werksame jongkêrel, Piet Steyn - om die waarheid te erken, daar het eintlik iets soeter as blote vrindskap tussen hierdie twee ontstaan.
Nadat Alida en haar moeder weg is van Prins Albert het sy en Salome nog lang gekorrespondeer, maar langsamerhand het die briewe alhoe minder geword, tot hulle eindelik heeltemal afgesterf het. Vir 'n paar jaar lank het sy nog briewe van Piet ontvang, maar ses jaar gelede, toe sy aan Albert van Dyk verloof geraak het, is haar briewewisseling met Piet ook gestaak. Van toe af het sy niks meer van die Steyns verneem nie.
Op Alida se dringende versoek beloof Krisjan om haar die volgende dag saam te neem as hy weer vir Piet Steyn gaan besoek. Belaai met 'n yslike bos angeliere en verskeie pakkies, kom Alida dié môre saam met haar man aan by die armoedige ou huisie waarvan die Steyns die eerste twee kamers gehuur het. Hoe sy ook al probeer om haar selfbeheersing te handhaaf, nogtans kon Alida nie haar trane bedwing nie, toe sy die armoedige vertrekkie binnetree en die afgeleefde, inmekaargekrimpte portuurtjie aanskou, en nouliks in die gerimpeld ou gesig die deftige, altyd-glimlaggende Tant Essie van ag jaar tevore kon herken. Toe die herhaalde omhelsinge en gedempte, liefdevolle uitroepe van vreugde, gemeng met verdriet, eindelik gestaak was, droog Alida haar trane weg, poeier sorgvuldig haar gesig om die bewyse van aandoening uit te wis, en op 'n wenk van haar man stap sy suutjies die slaapkamertjie binne. Opnuut wel die trane in haar oë op by die aanskouing van die bleekvaal gesig met sy holgesonke oogkaste, ingevalle wange, die brandmaer uitgeteerde hande en die verknokkelde raamwerk van 'n menslike liggaam waar nog net 'n vel oor gespan is.
Met die uiterste inspanning van al haar geesteskragte stap Alida tot voor die bed en gaan sit op die parafienkissie wat moet dien as stoel. 'n Nuwe lig fonkel in die onnatuurlik groot, koorsagtige oë, en 'n benerige hand vat
| |
| |
Alida hare in 'n swakkerige handdruk, terwyl 'n pynlike glimlag, wat op die maer, vervalle gesig amper op 'n gryns lyk, kom oor die sieke se gelaat.
‘Alida is dit maar weer 'n droom? Jy het tog al so baie so in my drome na my toe gekom,’ prewel 'n hees stem.
‘Nee Piet, dié slag is dit die werklikheid,’ verseker Alida, terwyl sy saggies die maer hand op die bruin wolkombers streel.
‘Dan eindelik die werklikheid? Geen droombeeld meer nie? Ag liewe Alida, jy het nog niks verander in al die jare nie. Jou stem is nog net so soet en jou oë net so sag en so helder as ooit, en die sagte wit handjie....’ Hy trag om haar hand tot sy lippe te bring, en toe sy hom in sy poging help druk hy dit liefderyk vas teen sy dun lippe. Intussen het Krisjan en Tant Essie die siekkamer verlaat, en Krisjan het beloof om oor 'n uur of wat, as hy van sy rondtes terugkom, vir Alida te kom haal.
Op Piet se versoek moes Alida toe alles vertel omtrent haar wedervaringe in die afgelope ses jaar. Met haar hand nog in syne, terwyl sy koorsige, diepgesonke kykers haar gelaat met die deurdringing van 'n soeklig dophou, luister Piet. Sy vertel van haar verloofskap aan Albert van Dyk, haar ontnugtering omtrent sy werklike karakter, die afbreking van hul verloofskap, haar reis na Europa, die ontmoeting met Krisjan Barry op die terugreis huistoe; hulle huwelik ses maande later, die geboorte van Fransie, 'n twede reis na Europa 'n jaar gelede, en nou die rustige, vreedsame huwelikslewe, waarin niks haar ontbreek nie.
En toe was dit weer Piet se beurt om haar weetlus te bevredig. In kort, afgebroke sinnetjies, met baie ruspouses tussen-in, vertel hy haar kortliks van die verskriklike droogte met sy noodlottige gevolge, en van hulle trek stad-toe. Hy vertel van die bittere stryd vir 'n bestaan te midde van moeilikhede en bedrieglike omstandighede waarteen hulle boeremense gladnie opgelei was nie; die gestadige agteruitgang van die hele familie; Salome se aanpassing by haar omgewing, ten gevolge dat sy nou met 'n tremkondukteur getroud is, en as moeder van drie sieklike kindertjies in Woodstock 'n sukkelende bestaan voer. Kortliks meld hy van sy vader se dood enige jare gelede, van sy eie werk in 'n kantoor, sy ontslag, volgende op 'n hofsaak en 'n maand tronkstraf, omdat hy 'n skurk neergeslaan het wat Salome wou aanrand. Daarop het ses maande van werkeloosheid gevolg, totdat hy twee jaar gelede die agentskap vir die verkoop van godsdienstige boeke gekry het. Maar binne die laaste ses maande het sake ten gevolge van sy siekte maar beroerd gegaan met hom en sy arme ou moedertjie, wat totaal afhanklik is van haar sieklike seun.
Die klimmende besef van die aakligheid van die lewenstragedie wat voor haar ontvou word en 'n oorweldigende indruk van 'n gapende afgrond wat uitstrek tussen haar eie gelukkige lewe en die ellendige bestaan van hier-
| |
| |
G. PILKINGTON.
OP DIE GOLWE.
| |
| |
die intieme vrinde aan wie sy eenmaal so nou verbonde was dreig om Alida te oormeester, en weer wel die trane op in haar oë. Sy staan op, buk vooroor en soen die klam voorhoof van Piet wat, weëns die afmatting veroorsaak deur sy verhaal, nou toe-oë lê. Sonder 'n woord verlaat sy die kamer. In die eetvertrekkie het Krisjan 'n rukkie later haar aangetref, met nouliks-bedwonge aandoening geselsend oor die verlede en die hede met Tant Essie.
Die daarop volgende drie dae het Alida elke oggend met pakkies en sakkies die sieke kom besoek. Krisjan het haar verseker dat Piet nou buite mediese hulp lê, dus kan die opgewondenheid wat haar geselskap en gesprekke veroorsaak hom geen nadeel meer berokken nie. As Piet dan te moeg word om meer te praat dan gaan sit Alida in die eetvertrekkie vir Tant Essie geselskap hou.
Die twede dag, toe Alida en Tant Essie weer so sit en gesels, kom Salome daar in met haar jongste kind, 'n miserabele skepseltjie in 'n liederlike flentertjalie gehul. Een oogopslag was voldoende om Alida te oortuig dat in hierdie slordige, slenterende slet met haar onverskillige taal, haar verwaarloosde uiterlik en hartvogtige verbitterdheid alle sweem van haar vorige opvoeding, kiesheid en ordentlikheid al lankal totaal uitgesterf het. Salome se ongevoeligheid, haar skynbare gebrek aan enige aandoening te midde van soveel herinneringe uit 'n beter en soeter verlede, gepaard met 'n hartelose tekort aan kommer oor Piet, het Alida laat besef hoe wyslik haar man beweer dat die armblankes se grootste geluk bestaan in hulle aanpassingsvermoë.
Die vierde oggend toe Alida weer langs Piet se bed sit, en hulle weer saam gedelf het in die soete herinneringstuin van die genotvolle onthou-jynog-dae, bemerk sy dat die pasjent vandag baie moeg en afgemat lyk. Dus vertoef sy maar kort, met die afskeids-belofte om later weer te kom, mits hy nou 'n bietjie insluimer.
Laat dié agtermiddag kom Krisjan en Alida saam daar aan, en die twee het met groot moeite Tant Essie beweeg om saam met Krisjan vir 'n uurtjie of wat in die moter te gaan ry, terwyl Alida by Piet bly. Daartoe het Alida reeds haar naaldwerk saamgebring.
'n Halfuur het verbygegaan, en Alida sit voor die siekbed met haar werk in haar skoot, want die toenemende skemering het verdere naaldwerk belet. Eindelik staan sy op, en nadat sy die endjie kers aangesteek het, en Piet sy medisyne gegee het, gaan sy weer langs hom sit. Steeds bly sy oë op haar gerig. 'n Trekkie van nuwe lewe en krag kom oor sy moeë gesig, en as eerste bewys van belangstelling dié agtermiddag soek die maer hand oor die deken na haar hand.
‘Alida,’ sy buk vooroor want sy stem is nou baie sag en onduidelik, ‘as ek weg is.... dis net Moedertjie wat ek oor dink.’ Alida sluk hard en
| |
| |
bedwing die trane in haar oë, maar die bewing in haar stem kon sy nie beheers nie.
‘Liewe Piet, bekommer jou daar gladnie oor nie. Ons, Krisjan en ek, sal vir haar sorg, en solank soos sy lewe sal sy nooit weer gebrek ly nie.’
'n Uitdrukking van die saligste tevredenheid kom oor 'n sterwende gesig, terwyl 'n magtelose hand vrugteloos trag om Alida se hand op te tel en binne bereik van die flou glimlaggende lippe te bring. Alida staan van die kissie op, gaan sit aan die koppenend van die lendelam kateltjie, lig Piet se skouers teer op in haar arms, sodat sy kop teen die sagte kantvalletjies op haar bors te rus kom. Die trane wat sy nou nie langer kan keer nie val warm op sy wang en sy hare.
Na enkele oomblikke hoor sy 'n nouliks-hoorbare gefluister, halfgesmoor onder die lugtige kantvalletjies aan haar bors. Sy buk vorentoe om beter te kan hoor.
‘Nag Alida, liewe engel van my lewe.’ Alida is sprakeloos. Sy soen die klam voorhoof en druk net 'n bietjie stywer met haar arms die arme geraamte teen haar bors vas.
‘Dankie God vir so 'n soete einde...’ en die doodsgeroggel sluit die fluisterstemmetjie af.
Alida lê eerbiedig haar las neer, druk die halfoop oë toe en trek die laken oor die hoof. Beweegloos sit sy nou met betraande oë, strak gerig op die flikkerende krom kersie, wie se vetdruppels nog vinniger val as haar eie trane, wat nog 'n oomblikkie bewend blink aan haar lang wimpers eer hulle ongestoord neerplas op haar inmekaargevoude hande in haar skoot.
‘Piet’, haar mondhoekies bewe geweldig, ‘Piet, waar is jy dan nou? Netnou het jy dan nog met my gepraat, en nou?... nou is jy so stil, so aaklig stil... Ag Piet, dis so swaar om te verstaan waar jy nou is, in watter vreemde, veraf, onbekende oord.’
Die krom kersie brand dowwer en steeds dowwer; twee laaste vlammetjies skiet nog krampagtig op uit die gloeiende rooi pitjie. Die kersie is uit, en 'n blouerig-wit rokie trek op uit die pitjie wat nog 'n paar sekondes rooi gloei in die skemerdonker.
LULU BREVIS.
|
|