As u hierdie twee werke deurlees en nogeens deurlees - en aanhou met dit te lees en te bestudeer - dan sal u nie daardie vraag hoef te stel nie.
In die loop van die jaar 1905 het adv. Klasie De Wet (later Minister van Justiese) en een van ons bestuurslede eendag aan my gesê: van Heerden as ons teenstanders moes sien hoe jy ‘lichaam’ in Afrikaans spelle maak hulle jou dood. (Ek glo ek het dit ‘liggaam’ geskrywe.)
Vandag (1928) sal niemand meer daaraan dink om daardie woord op 'n ander manier te spelle nie. O ja, miskien wel.
Maar nie omdat ons taal geen spelreëls het nie!
En so het die ‘patwa’ van ons teenstanders die ‘wapad’ van die Afrikanernasie geword.
Ek reken ons het ons aanvanklike doel: om Afrikaners te oortuig dat Afrikaans deur Afrikaners as hul spreek- en skryftaal behoort gebruik te worde, bereik.
Nou is daar nog: ‘Die ontwikkeling van die Afrikaanse taal in suiwere vorm’, waaraan ons, d.w.s. die Afrikanernasie bepaaldelik sonder twyfel bedrywig is. Ek hoef maar net te verwys na die beskikbare lektuur wat ons reeds in hierdie rigting besit.
Ten slotte is daar: die aankweking en ontwikkeling van 'n suiwer Suid-Afrikaanse nasionaliteitsgevoel.
Die A.T.G. tree ongelukkig nie meer direk as sodanig op nie. Dit is volkome waar.
Maar ek verstout my om te beweer dat ons suurdesem ook op die laasaangehaalde punt nog steeds heilsaam deurwerk.
Met die bemoedigende opbloei van ons taal en letterkunde kan dit ook nie anders nie. Die Afrikaner woel op elke gebied. Noudat hy sy eie taal het en vry is om dit te gebruik waar en wanneer hy verkies - hoef niks hom in sy kulturele en nasionale ontplooiing te stuit nie.
Die omstandigheid dat die A.T.G. in Transvaal feitlik van die toneel af is, hoe jammer ook al, behoort ons nie juis ontroosbaar te stem nie. Ofskoon ek moet erken dat dit my grief omdat ek voel dat ek persoonlik tot op seker hoogte daarvoor verantwoordelik is. Miskien moes ek ons vereniging aktief in die lewe gehou het. Dit het grootliks van my afgehang. Laat ek maar ronduit erken.
Omstandighede het dit egter vir my onmoontlik gemaak. In my hoedanigheid sekretaris van die A.T.G. moet ek dus noodwendig ook maar onder diegenes getel word wat op die slagveld agtergebly het.
Maar daar het tog nuwe kragte te voorskyn gekom. Ons taal word in die skole geleer, op die kansels gebruik en in ons raadsale gehandhaaf.
Dan is daar ons Akademie vir Taal, Lettere en Kuns wat waak en rigting aanduie. I. VAN HEERDEN.