enige sweem van egoïsme vry te spreek. In introspektiewe psigologie moet iemand, as hy van enige nut wil wees, homself eers oefen in die gewoonte om sy eie geestes-toestande krities te ondersoek, en dan moet hy streng eerlik met homself wees met die gee van die resultate van sy kritiek. Ek het getrag om hierdie twee dinge te doen, en my getuienis is alleen in soverre van waarde as wat dit my geluk het. Daar is g'n egoïsme by nie. Ek moet myself op die snytafel sit vir die demonstrasie. Ek kannie iemand anders introspekteer nie.
My verklaring dan, is dit: dat in al hierdie opstotings na die geweste van die bewussyn is die Onbewuste altyd skeppend. Dit is 'n punt wat Generaal Smuts wel in oorweging mag neem in sy teorie van Holisme. Ek het nog nooit 'n droom gehad wat 'n blote herinnering was aan die een of ander verbygegane werklikheid nie.
As ek van kennisse droom, sê en doen hulle altyd dinge wat vir my nuut is. Selfs het ek blikke in hulle karakters gewerp wat my verbaas het, en wat tog later heeltemal gegrond geblyk het.
Tweemaal het ek die intrieges van verhale gedroom - en so reëel was hulle elke keer, dat ek hulle vir publikasie kon gebruik. Eenmaal het ek 'n gedig gedroom: dit wil sê, die inbeelding was so helder en lewendig, dat ek net maar die tegniek van versemaak te pas moes bring om dit 'n aansyn te gee.
Die gedig is ‘The Origin of Flowers’, en ek het dit, met die verhaal van sy ontstaan, gepubliseer.
Ek kan natuurlik nie sê wat die waarde daarvan is nie: maar kinders hou daarvan, en in sulke dinge is hulle die kritiesie, wat ek liefste tevredestel. Dan weer het ek enige jare gelede 'n lesing gehou oor 'n serie meetkundige proewe, wat, sover ek weet, heeltemal oorspronklik is. Een van hierdie proewe is my in 'n droom gegee. Ek het daar wekelank tevergeefs aan gewerk. Maar in 'n droom het dit gekom en ek het dadelik opgestaan en dit neergeskrywe. Dit was volkome geldig. Ek moet daar egter nie oor gaan kraai nie, want 'n paar nagte later het ek 'n vervolg gedroom, opgestaan en, halfwakker, dit neergeskrywe. Die anderdag-more het die geblyk 'n eersteklas voorbeeld te wees van die logiese drogrede: petitio principii.
'n Mens kan geluk hê met die Onderbewuste in jou, maar jy kan nooit daarop vertrou nie. Afgesien van drome, het Coleridge eenmaal gesê: ‘My oë maak prente as ek hulle sluit.’ Ek weet nie of dit die algemene ondervinding is nie. By my is dit 'n gewone iets waar dit dinge betref wat my groot belang ingeboesem het. Toe ek Dierkunde bestudeer het, en vol geesdrif besig was om eksemplare veral van kewers te versamel, het ek altyd, as ek nadenkend my oë toemaak, tallose voorbeelde uit die kewer-wêreld gesien, - maar nooit