| |
| |
| |
Dans.
(Na die Hebreeus van David Frishman.)
(Die weeropbloei van die Hebreeuse taal en letterkunde sedert die end van die agtiende eeu het verband gehad met 'n stryd teen en afwending van Rabbinistiese formalistiek, wat die godsdienstige en maatskaplike Joodse lewe in 'n dwangbuis van ritueel geknel het. Soos Luther oor die kerklike tradisies heen teruggegryp het na die briewe en verhale van die Nuwe Testament, so het die Joodse herlewing oor Middeleeue en Talmud heen sy voedingsbodem gesoek in die verhale en figure van die Ou Testament, in die oerkragtige en fris-natuurlike lewe van Ou-Israel. Hoewel Frischman geld as een van die mees Westerse, Europese van die moderne Hebreeuse skrywers, het hy wel in hierdie skets seker die felle gloed en geheimsinnig-magiese agtergrond van die Ou-Oosterse lewe goed aangevoel en in primitiewe verhaaltrant treffend weergegee. Ook in hierdie verhaal word die taal so eenvoudig moontlik weergegee soos in die oorspronklike Hebreeus.)
MY moeder het die storie verneem van haar moeder, en haar moeder van haar moeder, en haar ouma van haar ouma, en haar ouma van haar ouma, geslag van geslag. En my moeder het die storie aan my oorgelewer.
In die tyd toe die kindere Israels uit Egypte getrek het was daar onder die uittrekkendes 'n man van die ‘vermengde volk’, mooi van gestalte en mooi van gesig, en sy naam was Poet, en al die vrouens en al die jongmeisies van die een ent van die laer tot die ander ent het die hele dag na hom gekyk. En in die nagte, as hulle op hulle beddens lê, sien hulle hom in hul drome.
In daardie dae het vir hom gesien 'n jongmeisie uit die kindere van Gersom, uit die geslag van die halwe stam van Manasse, en haar naam was Timna. In daardie oomblik het haar gesig rooi geword, en daarna het dit baie bleek geword - - - en sy het hom liefgekry.
En in daardie wonderlike dae was die hemel nog nuut en blou, duisendmaal duisend keer meer as dit nou is, en die aarde was nog fris en groen, duisendmaal duisend keer meer as dit nou is, en ook die liefde was sterk en geweldig, duisendmaal duisend keer meer as dit nou is.
En die seun het agter die jongmeisie aangeloop, en agter haar tent het ook hy getrek van staanplek tot staanplek. Toe sy getrek het van Ramses na
| |
| |
Sukkot, het hy swyend agter haar getrek, en as sy trek van Sukkot na Etam het ook hy swyend agter haar getrek, en as sy trek van Etam na Pi-Hagirot, toe het ook hy swyend agter haar getrek. Soos die skaduwee, wat op die wand is, het hy agter haar getrek.
In Pi-Hagirot kom hy op 'n keer in die môre na haar toe, op 'n oomblik dat die son baie-baie skerp skyn, en hy gee vir haar 'n ringetjie, gemaak van gedrewe goud, en hy skuiwe dit aan haar vinger. Toe kom die sonnestrale af op die ring, en die ring baai in die menigte van lig, en hy flits en straal op al wat rondom is. Op daardie oomblik buig die seun sy hoof oor haar, en hy soen haar hartstogtelik en lank, en ook die meisie soen hom, - en die swart en groot oë van die meisie was nog tweemaal groter as hulle gewees het.
En van Pi-Hagirot het hulle nog saamgetrek na Migdol, en na Mara, en na Elim, en na die Skelfsee, en na die woestyn Sin. Oordag het die son op hulle geskyn om te beswyk, maar hulle het dit nie gemerk nie; en snags het hulle gelê in die poort by die ingang van die tent, op die drempel, sy linkerhand onder haar hoof, en sy regterhand op haar hart; en hulle het geen woord gesê nie.
In die woestyn Sin het die seun plotseling verdwyn, en hy is nie meer gesien van die een ent van die laer tot die ander ent nie. En daar was baie mense wat gesê het: sy siel het plotseling van haar vervreemd geword, en hy is teruggekeer na Egipte.
Maar die meisie het dit nie geglo nie. In die môre het sy opgestaan, en na die ring gekyk, en haar swart groot oë het tweemaal so groot geword. In die middag het sy die ring geneem, en daarna gekyk, en altyd maar gekyk, en altyd maar gekyk. En in die nag het sy hom onder die kussing gelê, en sy het gedroom, en sy het die ring gesien in haar droom. Enigeen aan wie 'n ring soos hierdie behoort - hy behoef nie bang te wees nie, en hy behoef nie neerslagtig te wees nie, en eingeen wie 'n ring soos hierdie gee - hy sal nooit kan lieg nie. Dit was maar net 'n toeval; gou-gou sal hy terugkeer.
Maar die seun het nie teruggekeer nie. Toe hulle kom in Dofka, het die vrouens en die jongmeisies van die hele laer na haar gekyk, en hul het oor haar gefluister in die geheim, en hul oë was vol spotterny en venyn. Maar die meisie het op hulle nie gelet nie. Hier is mos die ring, wat hy vir haar gegee het, en die sal nie lieg nie. Die ring het vir haar die inhoud van haar lewe geword.
En toe hulle kom by Aloes, ook toe het die seun nie teruggekeer nie. 'n Lang rimpel het in één nag opgekom op haar voorhoof, en het dit oor sy hele lengte in twee gedeel, en haar groot oë het 'n waas bedek. Plotseling het uit die aarde ontspruit 'n swyende en duistere en sware kommer, en dit
| |
| |
het hom geleër rondom haar aan alle kante. Die vrouens wat haar sien, hou plotseling op om haar te bespot, maar hulle praat vriendelik met haar. En in hul oë verskyn trane as hul praat. En die meisie het niks gedoen nie as telkens te kyk na die ring wat aan haar vinger is; en dan het sy gelag en dan weer gehuil, en dan het haar oë lig geword, en dan weer het sy die deur agter haar toegesluit, en sy het haar verberg, so dat niemand haar gesig kon sien nie, en dan weer het sy opnuut gehoop.
En toe hulle in Rafidim kom, toe was die dae eensaam, en die nagte was baie eensaam. En sy het maar net gewag, gewag. Op die môre van 'n seker dag het sy opgestaan, en het die spieël van gepolyste koper geneem, en sy het daarin na haar gesig gekyk, en sy het gesien dat aan haar slaap 'n wit haar gekom het - en sy het die haar met haar vingers uitgetrek. En die vrouens en die jongmeisies het nou baie vriendelik teenoor haar geword, en het haar probeer troos, om haar te bemoedig en haar sterk te maak; maar sy het dit amper nie gehoor nie. Net het sy die ring vasgehou met al haar krag, en dit vaster om haar vinger geskuiwe. En dikwels het sy geglo, dat die ring niks anders was as die seun nie, en sy het hom met haar hand omhels. En dikwels het haar gedagtes deurmekaar geraak, en sy het nie geweet of die ring haar verlaat het en Poet nog by haar was nie, of dat Poet haar verlaat had en die ring nog om haar vinger was.
So het hulle gekom in die woestyn Sinaï. En die meisie het van dag tot dag die ring vaster gehou. Die ring was vir haar haar lewensadem, waaraan haar sielsbestaan hang, en al wat in hierdie siel was. Al haar drome en al haar begeertes was bevat in daardie ring. En die ring het vir haar 'n talisman geword, 'n amulet, 'n gedurige lig wat die duisternis verhelder. Al wat haar oorkom het, en wat nog oor haar sou kom, al dit het sy saam gemeng in die ring. Al die dae dat sy hierdie ring nog het, het sy nog alles, en kan sy nog hoop. En by al die kwaad wat haar getref het, het sy nog begeerte gehad om verwagting te koester.
En in die woestyn Sinaï het daar in daardie dae groot en wonderlike dinge gebeur wat die aandag van die hele volk afgetrek het van die alledaagse gebeurtenisse, en wat al sy aandag in beslag geneem het: God is gegee aan die volk! Drie dae, nag en dag, het heel die berg Sinaï gerook, en die volk het elk in sy huis moet bly, en hulle het hul geheilig en gereinig en hul klere gewas. En die geluid van basuine het gegaan en al sterker geword, en daar was donderslae en vuurfakkels en groot bliksemstrale drie dae lank, nag en dag, en daar was 'n groot fees, soos nog nie gewees het nie: God is gegee aan die volk! In hierdie wonderlike en vreeslike dae het die aandag van al die volk, ook van die vrouens en van die kinders, gebly alleen by God wat hul nie gesien het nie, en wie se stem hul alleen gehoor het, en by al die dinge
| |
| |
wat gebeur het, maar op die ander klein gebeurtenisse wat elke dag gebeur het niemand gelet nie, niemand het daaraan gedink nie. Wie sal in sulke dae dink aan 'n arme meisiekind, wat in die verborge van haar tent sit met haar ellende en met die verdriet wat in haar hart is?
En na 'n paar dae was daar ander nuwe dinge. Die volk het moeg geword van te wag op die God midde in die wolke, wat hul nie sien nie, en plotseling het hulle verlang na 'n God wat 'n gestalte het. En hul het bymekaar gekom by die Hoëpriester en geroep: Kom, maak vir ons 'n God! En die Hoëpriester het hulle vir 'n oomblik gekalmeer, en gesê: Môre, dan sal ek dit maak. Laat elkeen 'n geldstuk of 'n neusring of 'n vingerring of enigiets van hom offer, en ek sal van hierdie goud die God maak.
Die volgende môre brand die dag soos 'n oond. Uit die poort van die tent van die Hoëpriester kom 'n groot nuwe wa. Hy was vas aan twee rooi osse. En die wa was verguld aan sy hoeke, en het glans en gloed versprei waar hy maar uitgedraai het. En die horings van die osse wat aan die wa vas was, ook hul was bedek met glinsterende goud, en purper linte met blou blomme was bevestig aan die horings, en hul fladder in die wind. En op die rugte van die osse was daar blou doeke, pragtig om te sien, en aan albei die kante van die wa gaan daar twee priesters, aan elke kant een, en hul is gekleed in linne-onderklere met die efod-mantel en die borslap, en in hul hande basuine, en die blou granaatappeltjies aan hul klere rinkel as hul stap. En die osse wat aan die wa vas is, gaan stadig, en trek die wa soetjies-soetjies, en terwyl hul die wa trek, blaas die priesters op hul basuine, en as die basuine geblaas word, hoor elkeen in sy tent die geluid, en gaan na die ingang van sy tent, en agter hom gaan uit sy vrou en sy seuns en sy dogters en al sy mense. Toe trek die wa deur die hele laer van die een ent na die ander na die ingang van elke tent. En die mans wat uitkom en die vrouens wat uitkom werp, man en vrou, in die wa hul bondeltjie goud om daarvan 'n God te maak. Daar was g'n man nog vrou in die hele gebied van die een ent na die ander wie se hart vir hom nie gedryf het om sy offer te gee nie. Die mans het hul geldstukke gegee, en hul goue kettings, en al wat van goud was, en die vrouens het afgetrek neusringe en vingerringe en halwe maantjies en voorhoofbande en het hul in die wa gegooi. Sowel die rykes as die armes het gegee, want hul het gewens dat elkeen 'n aandeel sou hê aan die God.
'n Gees van dronkenskap het die hele gemeente aangegryp om te gee. Op die drempels van die tente en by die leunings van die dakke en by die vensters het die mans saam met die vrouens gestaan en wag vir die koms van die wa. En hulle gooi selfs goue kandelaars en goue vuurpanne en goue skottels op die wa, en ook bekers en stawe van goud het hul gegooi, en 'n vername vrou het gekom en vat die goue fluit waarmee haar siek kind, wat
| |
| |
aan haar bors lê, speel, en sy gooi dit in die wa. En die wa het baie swaar van goud geword, en vol tot aan sy rand, sodat hy amper nie van sy plek kon beweeg nie, en die volk het altyd nog meer gebring, en nie opgehou nie.
So kom die wa ook na die ingang van die tent van Timna. En Timna staan aan die ingang van die tent, en haar ring was aan haar vinger. Nee! Al wat sy besit sal sy gee, maar nie hierdie ring nie. In hierdie ring is mos saamgevat haar hele lewe en al wat sy besit, en al wat sy besit het; en wie weet of daarin ook nie is saamgevat al wat sy nog kan besit nie! Hierdie ring sal sy nie gee nie, sy sal nie! Sy sal nie! En die wa kom al nader. En van die dakke en uit die vensters en van die balkons werp haar buurvrouens elkeen wat sy besit. Kyk, 'n goue neusring val voor haar oë van die balkon langes haar, en duik en word begrawe in die goud op die wa. Kyk, daar val 'n goue beker; kyk 'n groot goue skottel! 'n Gees van dronkenskap kom oor die laer, en gryp almal aan, en spring soos 'n besmetting oor van man op man. In hierdie oomblik kom die wa vlak voor die ingang van die tent, en die priesters blaas en die osse loei en die granaatappeltjies rinkel. En Timna staan voor die wa. 'n Plotselinge skrik het oor haar gekom, sonder dat sy dit gemerk het. En met die vingers van haar regterhand skuif sy die ring af wat aan die vinger van haar linkerhand is, sy skuif af en skuif aan, skuif af en skuif aan, asof sy daarmee goël of speel, en voordat sy weet wat sy doen, kyk, sy het die ring van haar vinger getrek, en nog 'n oomblik, kyk, hy lê reeds midde in die hoop goud binnekant die wa! In hierdie oomblik voel sy, dat daar iets geskeur is in haar hart en plotseling geknak, en haar hart is leeg geword, en ook die wa is verdwyn en al die mense is verdwyn, en die son is uitgedoof, één oomblik, en daar was duisternis rondom. In daardie oomblik het die meisie geweet, met eens, dat haar uitverkorene nooit weer sal terugkeer nie, en dat hy vir haar dood is vir ewig.
En die volgende môre was daar 'n groot fees in die laer. Die Hoëpriester het al die goud geneem, wat die wa gebring het, en dit in die vuur gegooi, en hy het die gesmelte massa geneem wat uit die vuur gekom het, en hy het dit bewerk met beitel en passer, en het daarvan 'n Kalfgod gemaak. Toe het die volk die God gesien, van oog tot oog en van aangesig tot aangesig, en hulle het 'n groot gejuig aangehef. En die priester het 'n altaar gebou vir Hom, en die brandoffers geoffer en die dankoffers gebring, wat hulle gegee het, en die vreugde was baie groot. En die volk het neergesit om te eet, en hulle het baie gedrink, en daarna het hul opgestaan om te speel. Toe het ook die vrouens en die jongmeisies uitgegaan en gekom. En die mans het gespeel op fluite en geslaan op trommels. En die vrouens het mekaar handgegee, die een aan die ander, en hulle het rondom die Kalf geloop, en hulle het gedans.
| |
| |
En plotseling het hulle almal agteruit gedeins, en padgegee; kyk, 'n meisiekind het plotseling verskyn tussen die dansers, wat wonderlik dans, en wat nog nooit so gedans het nie. Kyk, sy roer haar voete en haar hoof, en beweeg haar liggaam, nou omhoog dan omlaag, nou na agter dan vorentoe! Nou stadig, dan so vinnig, dat elke hart bewe by die gesig, en dat die hare van elkeen wat dit sien oorentstaan. Is dit nie Timna, die meisiekind uit die sone van Gersom, uit die halwe stam van Manasse nie?
Kyk, nou dans sy soetjies, soetjies en kalm - dit is soos die begin van haar hoop, toe al die blomme gaan bloei wyd en syd oor die hele veld en binne in haar hart. En as sy die kruin van haar hoof vorentoe buig, en haar gesig gaan straal, dit was die eerste kus.
En plotseling kronkel sy en krimp haar soos 'n slang - kyk, die eerste smart kom op. Die wind blaas oor die blomme en oor haar hart, en daar is kou en verskrikking.
En nog 'n oomblik, en sy trippel, trip-trippel, trip-trippel. Nog het sy die ring, nog het sy die ring, nog het sy die ring! Al haar lewe en haar asem, saam met haar uitverkorene, is dit nie versonke in hierdie ring nie, en al die dinge saam, hul is net één ring!
En nog 'n oomblik, en sy sleep haar moeilik vorentoe. Al die lede van haar liggaam sterwe weg, en al die lyne van haar gesig versteen. Die hoop word swakker en swakker, en vervloei. Dis net nog 'n dun klaagstem: miskien! miskien! miskien!
En plotseling rig sy haar op, en herstel, en haar hoof is opgehewe; dit sal sy nie gee nie! sy sal nie! wat ook gebeur!
En nog 'n oomblik, en in één hewige, vinnige storm hardloop sy rond, rondom die Kalf in 'n warrelwind, en sy breek los soos 'n orkaan, en draaidraai soos 'n wiel voor die wind. Die res van al wat vir haar nog gespaar was, het sy gewerp in hierdie God! Haar geliefde het sy vir Hom gegee, en hy is in Hom opgegaan!
En sy dans in storm en warrelwind. Haar voete raak nouliks die aarde, en één oomblik is sy baie naby die son, en 'n twede oomblik is sy baie ver. Al die verdriet het verbygegaan, vervloei en versmelt. Daar is geen asem meer in haar nie, maar haar verkorene alleen. Daar is geen verkorene van haar hart meer nie, maar 'n ring, daar is geen ring meer nie, maar lewe.
En nou, daar is ook geen lewe meer nie, maar God - en die asem en haar uitverkorene en haar ring en haar lewe en die God het plotseling deurmekaar geraak en is vermeng en opgelos en is één ding geword. En sy weet aie meer om hulle te onderskei nie: die asem het opgehou in haar binneste, en het ingekom in haar uitverkorene, haar uitverkorene het opgehou en hy het opgegaan in die ring, die ring het opgehou, en het vir haar lewe geword,
| |
| |
die lewe het opgehou en het vir haar tot God geword.
En die dans het sterker en sterker geword. Die verdriet het heeltemal opgehou, en daar was net God alleen. Die verdriet het opgehou alleen van haar te wees, en dit het die verdriet geword van al die menigte mense hier. Want die God het dit weggeneem van haar, en God, Hy is God van die hele aarde. En die dans het sterker en sterker geword. En die storm het sterker en sterker geword. En die opwinding het groter en groter geword - en 'n hewige skrik het al die volk rondom aangegryp, en hulle het elkeen sy trommel en elkeen sy fluit weggegooi, en hulle het in beweging gekom, en gaan staan, en hulle het gevlug vir hulle lewe.
En sy gaan nog aan met dans sonder op te hou, sonder end, sonder grens. Op haar lippe is wit skuim verskyn, en dis of haar lede losgeraak het, en plotseling val sy op die grond.
Toe hulle haar optel van die grond sien hulle dat sy dood was.
B. GEMSER.
|
|