Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929(1929)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 174] [p. 174] Gee My. Gee my 'n koppie in die kaal Karo Waar aalwees waghou oor die asvaal veld Totdat die droogte breek, en teen die hang Die vygies juig met een groot kleur-gesang; Ek wil die langsteel-garingbome sien Wat uitstaan teen die ondergaande son, Terwyl die sweep se voorslag klap van ver Waar vetstert Afrikaner-skape blêr En staan-staan oor die bulte kraal-toe wei Terwyl die rooi stof oor die kudde hang. Ek wil die bobbejaan verskrik hoor kla As hy uit turksvy-laning word geja; Gee my die gannabos en botterboom Die wit pendoring langs die spruit se wal, Die melkbos met lanterns aan elke tak Die plakkie sierlik prykend in die vlak; En O, die glorie van sonsondergang As wolke dik lê aan die Westerkim; Dis goud en purper, pers en diepste rooi Wat hy op hierdie kanopie uitstrooi Totdat die pragkleur breek, en stilletjies Versag in teerste blou en karmosyn - Dis nag in die Karo! O Wonderuur! Die Suiderkruis hou wag oor sy gebied; Luister - daar skreeu 'n kiewiet; en wild-droewig huil 'n Jakkals om die kraal waar skape skuil. Gee my die krag van die Karo - die forse lyn Van ysterklip en kaal Kareedoringstam; [pagina 175] [p. 175] Die wyn-lug wat oor wye vlaktes waai Met allerhande kruie-geur belaai. Ek wil die springbok oor die pad sien spring Wanneer die kapkar oor die rant uitslaan; Die draaghout op die disselboom hoor kap En perdepote wat in die gruispad klap. Gee my die aandblom met haar heuning-geur En gousblomplate wat die heuwels dek; Gee my die woorde om dit te prys; en O, Gee my die grootste gees van die Karo! I.D. DU PLESSIS. Vorige Volgende