Natal, Kasper van Staden se oudste seun se jong bruid, peinsend langs haar bruidegom op 'n mooi versierde rusbankie daar by 'n gloeiende kaggel van 'n rooisteengebou se voorhuiskamer.
Maar die simpatieke vrou van Van Staden, die bekende togganger van Schoemansdal, het alreeds opgemerk en nie gewag nie. Sy staan op, tree oor en gaan haar hand op die skouer van haar skoondogter strelend neerlê, om saggies te fluister: -
‘Beur op, Helena. Beur op, my kind. Jy is nou ons skoondogtertjie en so goed as ons eie liewe kind. Aanstaande jaar as die jag in die skietveld daaronder aan Sabie en Loendie geluk, en die handelwaens weer met ivoor en heuning en spek gelaai is, dan gaan jy met klein Kasper saam om jou liewe ouers in Pietermaritzburg te sien, gehoor, my kind?’
Watter trooswoorde vir 'n vèr-verwyderde verlangende? Tog elke keer, as die donker venstertjie lemoenbome daarbuite vertoon, dan voel klein Kasper dat sy jong gehude vrou peins na die Drakensgebergtes, waaroor diéselfde weerligvlammetjie van vanaand saans in die verlede altoos oorgewink het, agtertoe na ou Naa-tal.
‘As die Heer in ons harte woon, Helena,’ so sê die troostende moeder van die bruidegom weer vir haar skoondogter, ‘moet ons nie omgee waar ons woon nie: of dit nou hier in die afgeleë oord is of daar vèr by die seewater; of dit nou in 'n hartebeeshuis is of in 'n paleis - dit moet nie saak maak nie.’
'n Klompie skaapwolkies, waardeur die maan gedurig klim, lê oor die swart grasdakhuis van die van Stadens in Schoemansdal vanaand. Die motreën is bedaar. Diekant staan die lemoenboord nat, stil en alleen. Onder sulke bome het Helena en haar vader so menige keer gewandel. Of as oom Fanie Minnaar, haar pappie, gesit en lees het op een van die groot stamme, het sy en die meidjies, Dolfina en Martien, op die kweekgras altoos rondgejakker.
Statig en deftig, so in haar geblomde ylblou krinolien, met die af en toe se glinster van die maanstrale op haar rooibruin bos geskeie hare, is die bruid langs haar bruidegom eindelik daarbuite vanaand in 'n wandeling in een van die strate van Schoemansdal, 'n beeld van skoonheid. Die paddakoor word in 'n watervoor gehoor. Die bruidegom stap nie alleenlik na ou Kassemier, die Portugees se winkel-toe nie, nee, maar hy neem sy bruid ook tegelyk saam om haar aanstons aan die bure voor te stel.
Hoe fris is die môre op Schoemansdal na die terugkeer van die handelwaens van Port-Natal! Hoe opgeruimd almal na die verfrissende bui reën van die voornag! Donkerblou is die weer in die vroeë oggend agter die groen lemoenbome opgesteek, en vèrweg langs die noord-oostelike gesigseinder val die lentereëns, in 'n breë witskuinste, miskien as 'n belofte om aanstons