Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929
(1929)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina *15]
| |
WENNING. LOURENCO MARQUES
(In die besit van Mevr. v. Elden, Pretoria.) | |
[pagina 159]
| |
Die Nuwe Brandwag
| |
In Memoriam.
| |
[pagina 160]
| |
ondergegaan het terwyl dit, veral wat sy kunsloopbaan betref, nog vroeg-dag was.
Ek het nie die voorreg gehad om Visser persoonlik te ontmoet nie, maar uit ons briefwisseling sowel uit sy nagelate werke het ek hom leer ken en waardeer as 'n beminlike persoonlikheid, iemand wat jou onwillekeurig aangetrek het deur sy ernstige en nobele lewensopvatting, sy kinderlike godsdienssin, sy sprankelende vernuf, sy uitgesproke sin vir humor, sy lewensblye optimisme.
Daarby was hy 'n geleerde wat, naas sy liefde vir die mediese wetenskap, 'n veelsydige belangstelling openbaar het, veral ten opsigte van musiek en literatuur. Soos waarskynlik geen ander Afrikaanse digter het hy diep gedrink uit die kultuur van die oorsese lande, wat bewys word deur veelvuldige navolginge en bewerkinge van uitheemse motiewe en bronne. Maar by dit alles het hy tog in sy diepste wese die warmvoelende Afrikaner gebly wat so innig-roerend sy heimwee vertolk het in Terug na die Karo: - Waar smôrens nog weerklink 'n lied
Op stil-gewyde toon,
En waar die Heer Sy seën gebied
Omdat daar liefde woon;
Waar daar nog deur die lewe vleg
'n Silwerblanke koord;
Die man eenvoudig en opreg
En slaaf net van sy woord;
Die vrou nog trou aan haar gemaal,
Gelukkig met haar kroos;
Waar nog die seun sy perd opsaal,
Die dogter nog kan bloos.
| |
[pagina 161]
| |
Hier iewers op die vrye veld,
Met geur van awendblom,
Sononder op die wye veld -
Laat hier... die Donker kom!
As ek Visser se eintlike betekenis vir ons literatuur met een woord moes karakteriseer, sou ek hom wil noem: die apostel van sonnig-stralende Lewensvreugde. Luister maar na sy Bede, byvoorbeeld, waarin hy smeek nie om 'n plek in die hemel nie, maar ‘'n Plekkie op die aarde weer, U nuwe aarde wat sal wees’: - 'n Heiligdom van boom en blom
Waartussen voëltjies bly gesels,
Klein armpies my nogeens omhels,
Klein voetjies my weer teëkom.
Laat sag daar 'n Verskyning ruis
Wat grasie, vreugde en skoonheid is,
En liefdes soet geheimenis
Bekoring bring aan hof en huis;
'n Bergtop in die vrye lug
Met groue newels aan sy voet,
Pers wolke wat die aandson groet;
Wit swane op 'n verre vlug.
Laat lag en lied net soos weleer
'n Hemel huis vir liefde maak -
Dit het ek reeds op aard gesmaak -
Skenk ons die liewe aarde weer!
Nie dat Visser geen smart geken het nie, inteendeel. Sy huweliksmart was des te skrynender gewees, omdat sy huweliksliefde soveel innniger en teerder gewees het | |
[pagina 162]
| |
as dié van die meeste prosaiese sterwelinge. Daarvan getuig o.m.: 'n Lied van marmer-wit gesig,
Van dierb're oë sonder lig;
Die liewe lippe bleek en kil;
Die warme hart vir ewig stil;
Die hande op haar bors gekruis
Vir lange rus in laaste huis;
Madonna-lelies op haar skoot,
O, kalme Skoonheid van die dood!
Die Heer het menige ligpaleis
En daarheen sal haar siele rys,
En daarheen volg my liefde haar na -
Laetitia Beatifica!
Onverbreekbaar was die liefdesband, en daarom kon selfs sy diepste smart getemper word deur dankbaarheid ‘vir elke wonderdag van lewe, liefde en lag’, kon dit omgeskep word tot vreugde’, want Moedertjie kom elke nag, en nou is daar één Engel meer’: - Wel weet ek - waar sy ook mag wees -
Op sterrebaan, in ligpaleis,
Daar kom 'n blydskap oor die gees,
'n Lig as van die Paradys.
Dis ondoenlik om Visser se digterlike werksaamheid hier verder in besonderhede na te gaan, omdat dit reeds elders gedaan is, maar op twee kenmerkende aspekte van sy kuns wil ek tog nog die aandag vestig. Die eerste is sy behandeling van Bybelse motiewe. Uit die inhoud van sy digbundels is dit duidelik dat hy uit 'n huisgesin kom waar die Bybel nog 'n ereplek ingeneem het, | |
[pagina 163]
| |
maar wat hier veral tref, is sy besondere voorstelling van bekende gegewens, aangevul en verlewendig deur 'n sterk verbeeldingselement. Ek dink aan sy sonnette-reeks Die Offerande van Isak, waarin die simboliese betekenis van die offer so treffend belig word, en aan die kinderlik-digterlike tekening van 'n Knaap in Lank Gelede in Nazareth. Dan is daar sy humoristiese siening van Toe die wêreld nog jonk was, so lewenswaar dat ‘die Raadslid vir Jerusalem’ ten slotte in lewende gestalte voor ons staan as oertiepe van ons eie Boerebeskawing, waar hy op die dorp gaan woon vlak by die dokter en die predikant: - En so verslyt Metusalem
Sy ou-dag op Jerusalem,
En drink en rook op sy gemak
Sy koffie en sy pyp tabak.
Geestig is ook sy toepassing van Nat en Sap op die wingerdbedryf van Noag. 'n Twede genre, waarin die humoristiese element (wat dikwels oorslaan tot satiere) veel sterker verteenwoordig is, kan saamgevat word onder die benaming Puntdigte. Van hierdie digsoort kom verskeie reekse voor in albei bundels van Visser. Daaronder tref 'n mens sommige aan wat herinner aan 'n sewentiende-eeuse naamgenoot, nl. die lewenslustige Roemer Visscher; ander weer laat dink aan Huygens, maar meer nog aan Staring en De Génestet. Trouens, Visser het in sy onderwysersdae, volgens 'n mededeling in een van sy briewe, verskeie gedigte in Hooghollands geskrywe, waaronder 'n hekeldig teen die destydse Vereenvoudigde Spelling: - ‘Het zijn apen die nog redeneeren:
De taal en 't volk gaan hand aan hand!’
Als 'n tiental wijzen konfereeren,
Ach, wat vermag niet het verstand?
| |
[pagina 164]
| |
Als ooit 'n Babelsche verwarring
Zuid Afrika tebeurt zou vallen,
Zij maakten in 'n uur of wat
Een taal verstaanbaar weer voor allen!
Hy het gemeen dit moes òf onvereenvoudigde Nederlands òf onvervalste Afrikaans wees. Maar al die dinge het hy later betrag met 'n gevoel van ‘Sla de zonden nimmer ga, die mijn jonkheid heeft bedreven’. Ten slotte 'n paar aanhalinge uit sy briewe wat die leser wellig sal interesseer.Ga naar voetnoot*) Ek laat hier volg sy eie relaas van sy geboorte, aangesien omtrent die plek nou al twyfel skyn te bestaan: - ‘Ek is gebore 1 Maart 1878 op Zaaifontein in die distrik Fraserburg. Weens die groot droogte van '77 moes my vader daarheen trek om veld te kry vir sy vee. Daar in die tuin onder 'n groot safraanpeerboom het oom Gert Visser my, na ek uit Europa terug was, die tentvloer gewys waar ek gebore is. Dit was spesiaal ingerig vir die geleentheid, omdat daar te veel jongmense in die groot huis was. Miskien daarom dat 'n tuin vir my nog steeds so 'n bekoring behou het. Dieselfde nag is daar 'n klein Du Toit op Zaaifontein gebore, en arme ou tant Wiesie wis nie waarheen nie. Maar met behulp van Moeder en tant Wiesie het ek hom gewen by vyf minute! Sit omen!! En die reën kom net daarna!’ Op 'n aansporing van my kant om sy prosasketse, waarvan twee in die Nuwejaarsnommer van Die Burger (1924 en 1925) verskyn het onder die tietel Gedaantes en Gedoentes uit die Karo, te vervolg en later in 'n buntel uit te gee, het hy o.m. geantwoord: - ‘U weet, medisyne is my wettige huisvrou en sy lê beslag op al my beste kragte en ure, en veel kans is daar nie om die Vriendin - die Kuns - op haar sonneheuwel te gaan besoek nie. Daarom sal my letterkundige poginge, vrees ek, in die woorde van | |
[pagina 165]
| |
Facsimile: UIT 'N BRIEF VAN A.G. VISSER, 23 Maart, 1925.
| |
[pagina 166]
| |
Hullebroeck (toe hy die opbrengs van een van sy konserte betrag) ‘maar povertjes!’ bly. Nogtans, die weinige wat 'n mens doen is nie sonder eer selfs in jou eie dorpie nie. Nou die dag kom daar 'n pragtige donderwolk uit agter die Suikerbosrand, en ek sê aan 'n sekere persoon: Is dit nou nie presies so nie: - ‘Maar dit groei in die blou
tot 'n stapelbou
van marmer wat krul en leef!’
‘Ag nee, Dokter,’ sê hy, ‘daardie ou versie wat jy nou probeer maak, kom nie naby Waar Ou Heidelberg hang aan die Suikerbosrand nie!!
Ek hoop ek sal dit eendag aan J.F.E.C. kan vertel.’
Laat ons dankbaar wees dat Visser, in die kort tydjie wat hom gegun was, tog af en toe die sonneheuwel kon gaan besoek het. Die vergesigte wat hy daar gesien en die skeppingsvreugde wat hy daar gesmaak het en in klank en beeld vertolk het, sal vir ons 'n inspirasie bly tot in lengte van dae. REQUIESCAT IN PACE! Stellenbosch, Julie, 1929. E.C. PIENAAR. | |
[pagina *16]
| |
WENNING.
KAFFERBASAAR. (In die besit van Mevr. J. Giliam, 'n dogter van die kunstenaar, Pretoria.) |