en bekwame manne. Hul het al hul tyd en krag gewy aan die kerkdiens, deur daagliks die koor te oefen, hulself te ontwikkel en gewyde musiek te komponeer. Daar was nie tyd vir privaat werk nie. Die koor het bestaan uit beroepsangers en die gemeentegesang het beperk gebly tot samekomste buite die hoofdiens. Al die faktore in oorweging geneem, is dit begryplik dat die kerkmusiek van die dae tot 'n ongekende hoogte kon opgevoer word.
Toe het die Hervorming gekom met Luther in Duitsland en Kalvyn in Frankryk. (Waar ons kerkmusiek nou verwant is aan die Hollandse, sal 'n ondersoek na die Hervorming in Holland noodsaaklik wees.) Soos bekend is, het die grootste deel van die Hollandse gemeenskap onder invloed van Kalvyn gekom; 'n klein deel onder die van Luther. Luther, wat in prinsiepe nie vir afskeiding was nie, omdat hy 'n oop oog gehad het vir die goeie punte in die R.K., was 'n groot musiekkenner en liefhebber. Dis aan hom te danke dat die Duitse kerk musikaal ver bokant die Kalvinistiese kerke staan. By hulle speel die musiek 'n groot rol in die diens. (B.v. die Liturgie.) Hul gemeentesang is baie beter en die posiesie van orrelies is een wat baie kennis en vaardigheid vereis.
Die Kalvinistiese groep het hulle skerper afgeskei van die R.K. en gepoog om 'n kerk te stig wat so min moontlik aan enige gebruik van die R.K. kon laat dink. So het hulle in die begin daartoe gekom om, in hulle strewe naar soberheid en eenvoud in teenstelling met die R.K. diens, so ryk aan uiterlike vertoon, alles wat uiterlik skoon is, te verwyder uit die diens. Die pragtige kerkgeboue, waardeur soveel kuns en arbeid ten toon gesprei word, is vervang deur kaal, onartistieke geboue. Die simbool van die kruis, wat op alle kerke te vind was, is deur 'n haantjie vervang. (By die Lutherse 'n swaan.) En al die musikale prag van die diens het verdwyn met die afskaffing van die mis. Vir die laaste het in die plek gekom die gemeenskaplik sing van psalms (later ook gesange). Die wysies van die psalms is grotendeels van Franse oorsprong en is oorspronklik ritmies gekomponeer... In die loop van die jare, en deur die oormatige gebruik van slegs 'n paar van die melodieë, het die ritme, 'n mens kan amper sê, uitgeslyt en die sinlose, betekenislose gegalm van vandag is die resultaat.
Eerlik gesê, is die musiek wat die Kalvinistiese kerk in die plek gestel het van die gewyde kuns van voor die Hervorming, seker nie 'n verandering ten goede nie. Dit lê nie binne die grense van hierdie beskouing om die skoonheid in die kerk te verdedig nie. Dis 'n kwessie van dogma. Waar ons egter, deur in sekere mate die musiek toe te laat in die kerkdiens, bewys dat dit nie stry teen Kristelike beginsels nie, daar moet ons konsekwent wees en nie tevrede wees met iets minder as die beste nie. Waar die skema van ons