Nog die kampvegters vir die wagwoord ‘Kuns om die kuns’ nòg diegene wat beweer dat kuns niks met etiek uitstaande het nie, sal durf sê dat hierdie nie groot kunswerke is nie.
Het Kottler 'n boodskap? Ja, maar hy het dit nie hardop verkondig nie, want ons wil dit nie hoor nie. Dit is in sy hart, maar hy is te fyngevoelig om meer te doen as dit net vir 'n paar te fluister. Hy sou ons van die Skoonheid wat Afrika is, vertel het, as ons hom net die kans gegee het.
Hy het vurig begeer om ons die werklike Suid-Afrika te toon, naak en maagdelik en onbederf deur die knoeiende hande van wat ons beskawing noem; maar ons wil nie die regte, naakte Afrika sien nie. Ons gee die voorkeur daaraan om hom in Europese kleredrag uitgedos te sien. Ons het Afrika weggesteek. Ons het sy ruwe berge met uitheemse bome beklee, net soos ons die glansende liggame van sy mans en vrouens in kleurlose, vuil, afgedraagde klere gesteek het. Ons is besig om hom so goed te beskaaf, dat daar nooit Suid-Afrikaanse kuns (soos ons van Franse, Vlaamse of Italiaanse kuns praat) kan wees nie, maar net ‘Kuns in Suid-Afrika’. 'n Eie nasionale kunsvorm kan alleen opgroei waar dit die eie nasionale kenmerke van die land en die mense weergee. In alles wat met kuns in verband staan, is ons nie Suid-Afrikaners nie; ons is nog maar net in-Afrika-gevestigde Europeane.
Is daar g'n boodskap in Kottler se ‘Rustende Meidjie’ (No. 1), wat uit die stam van 'n sipresboom gesny is nie? Ons het hom nooit die kans gegee om vir ons die een of ander boodskap wat hy miskien het, te gee nie, omdat die werke van hom wat uiting daaraan gee in sy ateljee bly, sonder enige tasbare teken van waardering. Hulle kry nie kopers nie. Sy ondersteuners het net portrette van hom verlang. Sy heel eerste ondersteuner was die Verteenwoordigende Raad van die Stellenbosse Studente wat die opdrag gegee het vir die brons borsbeeld van Generaal de Wet. Sinds die tyd het Stellenbosch ook die brons borsbeeld van Professor de Vos gekoop. (No. 5.)
Hy het portrette gemodelleer van die Goewerneur-Generaal, van Generaal Hertzog (No. 2), Lady de Villiers, Regter Japie de Villiers, Mnr. H.C. Hull (No. 8), Sir George Cory, Rabbie Bender, Eerw. Andrews (No. 4), Mnr. C.J. Sibbert, e.a., en het 'n groot aantal pragtig-mooi portrette van kinders voortgebring.
Kottier slaag altyd daarin om 'n pakkende en absoluut sprekende gelykenis te kry. 'n Mens kan jou nie in sy sitters vergis nie. Maar bowenen buitendien gee hy ook nog 'n essensiële uitdrukking van die temperament van sy onderwerp, soos 'n mens met een oogopslag kan sien by die de Villiiersen Hull-portrette.