Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929
(1929)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 131]
| |
Ampie.(Deel II.) Die Meisiekind.Deur Jochem van Bruggen. 137 bladsye. - Swets en Zeitlinger, Amsterdam. (1928.)'n Waardering.NA vier jaar het eindelik die langverwagte vervolg op ‘Die Natuurkind’ verskyn, wel 'n bewys hoe ernstig Van Bruggen se opvatting van sy kuns is. Ek wil meteens konstateer dat hy in alle opsigte daarin geslaag het om die hoë peil van die eerste deel te handhaaf. In die twede deel tree die Tys-famielie meer op die voorgrond en veral Annekie, wat nou as verloofde ‘meisiekind’ en vrou die hoofrol speel. By die lap dekgras, waar sy eerste liefde uitgebot het, vind Ampie weer vir Annekie, wat hom help om dié skone herinnering van die vlamme te red. Maar selfs by hierdie twee eenvoudige siele is dit nie sommer net 'n geval van ‘mekaar kry’ nie - daar is ernstige hindernisse wat moet weggeruim word voordat Ampie sy droom kan verwesenlik.
Gedurende die eerste maande egter, gee hy hom ongestoord oor aan sy verliefde fantasie. Hy leef vèr weg in 'n gelukkige toekoms, waar die tallose kwellings van die gewone, alledaagse lewe tot nietighede versmelt. Ampie, die onnosele flenterkind van die vlakte, het nou 'n digter geword, wat by die es van oom Flip se verlate huisie droomgesigte van sy toekomstige geluk sien. Weemoedig peins hy oor sy mislukte liefde vir die aanstellerige Hester, maar hierdie gedagtes laat net sy bewondering vir sy volmaakte meisiekind styg. Helder besef hy nou hoe Hester hom maar net as haar hotnot wou gebruik. Elke stappie wat hom teruggevoer het tot Annekie kry 'n nuwe betekenis - alles is mos so beskik deur 'n wyse Voorsienigheid, wat hom sy bestemde deel wou gee. Die pondokkie van Staander word 'n heiligdom vir hierdie eenvoudige aanbidder van die skoonheid van 'n vrou, en as hy die leë slaapkamer binnedwaal, waar die geheimsinnige moontlikhede van die toekoms hom oorweldig, dan rys daar spontaan uit sy boesem op die heilige drang om alles vir sy liefste op te offer, en slaak hy die innige versugting: ‘Ag Here, maak ons twee gelukkig hierso!’ So kom onder invloed van die liefde Ampie se beste eienskappe tot ontplooiing. Sy intelligensie mag beperk wees, sy uiterlik ru en onbeskaaf, maar | |
[pagina 132]
| |
hy beleef tog die teerste emosies. Sy gevoel van eie - waarde styg en met naïefoulike astrantheid beraam hy plannetjies om die nodigste dingetjies vir 'n eie boerdery in hande te kry. Die onnosele kind van die vlakte swerf nou nie meer gedagteloos rond nie. Hy het 'n doel in die lewe en met 'n onverwoesbare optimisme oorwin hy alle swarighede. ‘Sy planne kom vanaand tromp-op mekaar, soos 'n span osse, wat op die draaiplek onklaar getrap het’ (p. 12). In werklikheid is al hierdie planne gebaseer op oom Kasper se vrygewigheid, of op sy eie onbeperkte vermoë om skynbaar nuttelose ‘losgoed’, wat net in ander mense se pad is, tot bruikbare dingetjies om te toor. Hy dien Booysen met 'n gewillige werkywer en reken dat hy die volste reg het op sulke toevallige voordeeltjies of byverdienstes wat hom as voorman op die plaas toekom. Hy is trots op sy eie vindingrykheid wat sulke nuttelose ‘afval’ produktief kan maak. Hy voel dan ook nie die geringste skaamte om met herhaalde aansoeke tot Booysen te kom nie. As hy die vernuf het om Booysen daarop te wys dat sy populierbome te dik staan en die moeite doen om die nuttelose bome uit te dun, dan het hy mos reg op 'n klompie pale vir 'n katel! As hy 'n hok maak vir die lastige, ‘onbesabelde’ sog, dan spreek dit tog vanself dat hy een varkie moet kry! Booysen het gelukkig voldoende pedagogiese insig om Ampie se werkywer deur billike belonings aan te moedig, al moet hy sy vrypostige annekseer-lus ook soms binne redelike grense beperk. Hy weet dat sulke indirekte voordeeltjies, ‘perquisites of office’ as 't ware, Ampie se werkvermoë vertiendubbel, sy selfrespek laat styg en hom prikkel tot getroue pligsvervulling. Een van die hindernisse wat voorlê is die teenstand van tant Annie. Met die skerpsinnigheid van 'n moeder het sy al gou die ‘strawwe vryery’ opgemerk, maar haar welgemeende, hoewel taklose waarskuwing spoor Annekie net aan tot koppige verset. Noudat die geliefde bedreig word, verander haar kalme geneentheid vir Ampie eensklaps in 'n gloeiende passie, wat klem en oortuiging verleen aan haar vernuftige argumente. Vol kinderlike vertroue bepleit sy Ampie se saak: ‘O Ma ken nog nie vir hom nie. Ampie begin nou al te sorg.... Ampie het baie groot kanse en sy planne is agtermekaar...’
Met 'n kragwoord probeer die moeder haar neerlaag dek. Sy is mos die arme sukkelaarster wat almal se swaar moet dra! Met veel meer tak voor sy die saak by haar man aan. Oom Tys het deur 'n noukeurige studie van die Bybel 'n verbluffende redeneervermoë ontwikkel, wat hom in staat stel om alle andersdenkende persone met 'n welgekose teks morsdood te gooi. Met sy eenvoudige logika bereik hy die sonderlingste gevolgtrekkings, en daar hy met 'n ruime mate van verwaandheid bedeel is, kan hy hom maklik verbeel dat hy | |
[pagina 133]
| |
eintlik predikant moes geword het. Tant Annie maak 'n goedgeslaagde aanval op sy verantwoordelikheidsgevoel en verplig hom om uit sy ‘hoëre regione’ af te daal tot die beskouing van die huwelikskanse van sy dogter. Maar die uitkoms is vir haar 'n verrassing! 'n Huwelik tussen bloedverwante - daarvoor is daar mos bewysgrond in die Bybel en al is Ampie ook hoe dom, hy wat oom Tys is, sal hom volleerd aflewer aan die predikant!
Met so 'n magtige bondgenoot as oom Tys is die saak vir Ampie gewonne. Pragtig word die styging in Annekie se liefde uitgebeeld in die hoofstuk ‘By die Dekgras’. Sy is nou nie meer die skamerige meisiekind nie, maar die vrou van aksie, wat alles reël, en daarby ook die teder beskermende moedertjie wat Ampie soos 'n hulpbehoewende kind opbeur en vertroos. Die aanneming, wat soos 'n reuseberg vir hom wil platdruk, lyk nou die eenvoudigste saak van die wêreld. Annekie se innige geloofsvertroue - ‘Jy sal nie afgewys word nie! Die Here sal jou deurhelp!’ - en haar intieme kennis van die eksamenstokperdjies laat in Ampie die ou ingebore optimisme herleef. Annekie is inderdaad 'n vrou-duisend! Haar liefde maak haar sterk. En sy leef, omdat sy so eg-menslik is. Op oortuigende wyse laat die skrywer ons hier voel dat die liefde, selfs in sy eenvoudigste en aller-primitiefste openbaring, altyd ons hart ontroer. Ander skrywers mag hul besighou met die ingewikkelde verhoudings tussen verkultuurde modernelinge, maar Van Bruggen hou ons aandag gespanne deur sy afbeelding van een van die oerinstinkte by twee eenvoudige siele. Ampie se optimisme maak weer plek vir die ou beklemmende gevoel as hy Vlakplaas se woning instap. Oom Tys lewer 'n lekeprekie, wat Ampie opnuut laat wanhoop aan sy kansie om deur die gevreesde aanneming te kom. Annekie weet egter hoe om hom te bewerk en wy hom in die geheime van ouers-vra in. Hierdie middernagtelike toneeltjie vol komiese trekke is besonder goed geslaag. Annekie dring soos altyd daarop aan dat alles in verband met die bruilof ‘propper’ moet gaan en as gevolg moet Ampie nog 'n behoorlike bekendmaking selfs aan oom Kasper skrywe - 'n vermaaklike brief waarin Ampie dit nog regkry om 'n paar ‘losgoed’ te annekseer. Op die tog na die nagmaal is Ampie weer vol rebelse gedagtes. Sy vrees vir die aanneming laat hom al die onnodige omhaal verwens. Waarom kan hy Annekie nie eenvoudig ‘vat’ as vrou nie? 'n Aanmerking oor sy slegte drywery gee hom 'n kans om sy opgekropte bitterheid uit te haal op die onskuldige osse en as sy bui gesak is, kry hy weer nuwe moed. By die katkisasie kom hy onder die besef van sy sonde en begryp selfs waarom die bliksem ou Jakob getref het. Mooi word die ewolusie van sy | |
[pagina 134]
| |
godsdienstige begrippe aangedui en sy klimmende bewondering vir Annekie, wat al haar maats uitstof deur ratse antwoorde.
Bart, noual twintig jaar, is aangesteek deur die diamantkoors; die groue verveling van die eensame lewe op Vlakplaas en sy afkeer van gereelde plaaswerk dryf hom na die delwerye. Op Vlakplaas het hy hoegenaamd geen vooruitsigte nie en as hy maar 'n paar pond kan los kry sal hy 'n fortuin gaan uitgrawe. Pragtig is die toneeltjie waar Bart met sy meerdere ‘wêreldkennis’ spog, maar Ampie hom sa netjies troef met die argument dat hy nog nie mondig is nie.
Met meer sukses bewerk Bart sy pa, wat ook al geluister het na die lokstem van die delwerye. Bart is 'n gebore diplomaat en as gevolg van sy slimpraatjies verower hy die moeisaam opgegaarde spaarpennings van sy moeder, wat bedoel was vir Annekie se bruilof.
Vir baie lesers sal hierdie droë bruilof seker maar net 'n droewige spektakel wees. Maar let op hoe die skrywer deur sy suiwere weergawe en pittige plastiek, lewe en beweging, kleur en geur gee aan die bywoner-plegtigheid. Alles lyk so simpel, so plat-ordinêr, maar daarby tog weer so menslik en so innig dat elke besonderheidjie ons ontroer. Van Bruggen staan nie van ver om met 'n hoogmoedige glimlag die spektakels van hierdie bruilofsmense te betrag nie. Hy het met hulle geleef, met hulle gewerk en... diep in hul siele gekyk.
Trots oor sy mondigheid het Ampie eindelik aan alle eise van wet en kerk voldoen, en agteraf beskou, was al die lastige formaliteite tog darem nie so erg nie - ‘Hy sien kans om elke dag te trou’ - as hy maar Annekie se hand kan hou! Langs die sewentienjarige bruid sit hy nou; 'n wit laken waarop ‘orals blink sigaretspapiertjies vasgehaak is’ moet die feesatmosfeer aandui in oom Tys se pondokkie. Maar die hoofrol op die bruilof word eintlik gespeel deur Ampie se moeder wat, uit haar gewone versuftheid opgeskrik, nou astrant die voortou vat. Waar sal ons nog so 'n voorbeeld van skrynende ironie kry as die gelukwens van hierdie verdwaasde moeder: ‘Hier staan julle vandag soos ek en Dawid vanmelewe ook gestaan het. Deur ons is jy vandag so 'n aansienlike man as jy nou is. Wandel in die voetstappe van jou vader, dan sal jy jou nooit hoef te skaam nie, en jy sal nooit nodig hê om te bedel nie!’ Die huwelikslewe het vir Ampie se moeder niks as eindelose ellende en ontbering gebring nie, maar in hierdie vlaag van helder-bewustheid sien sy dit nog steeds as die glanspunt van haar bestaan. En hoe leef die moedertrots oor haar eersgeborene nie weer op nie, as sy Ampie as ‘'n aansienlike man’ so | |
[pagina 135]
| |
beskou! Al die jare van swaarkry tussen haar rumoerige kroos het nie die stralekrans om ou Goor Dawid se hoof laat verbleek nie! Hy is nog steeds die ideale eggenoot van haar jong dae. Almal moet vir hom padgee, sodat hy sy seun kan gelukwens. Hoe sterk voel ons hier die tragedie van die huwelik tussen swaksinniges, met sy nasleep van menslike verwording tot in verre nageslagte. Ook Goor Dawid, eenmaal amper die moordenaar van sy kind, besef vandag iets van die trots van sy vaderskap. Ampie het hom wel ontgroei, maar hy het tog deel aan sy seun se sukses. ‘Hulle het hom deeglik opgebring en kyk waar staan hy vandag!’ As ‘die twee ruwe hande mekaar pak en mekaar onbarmhartig vasknyp’ by die gelukwens, dan kom daar tog 'n soort toenadering tussen hierdie ontaarde vader en sy seun. Die aankoms van die Booysens veroorsaak heelwat verwarring onder die bruilofsgangers. Interessant is dit om te sien hoe hulle reageer op die besoek van hierdie ‘hoë lui’. Oom Tys verwens Bart wat hom van die middele beroof het om sy naam op te hou; Dawid word meteens gedienstig en maak die stringe los; die kleinspan is skoon oorbluf en ‘hul lyfies is styf soos boontjiestokke’. Maar dis weer Ampie se moeder wat die situasie beheers. Hier is nou 'n kostelike geleentheid vir die Nortjé's om te wys dat hulle nie niksgewend is nie: ‘Ampie, my kind, hier kom hulle, hou julle naam op!’ En haar moedertrots vind uiting in die spoggerige uitroep: ‘Ek sê, nig Grieta, waar op die aarde wil jy 'n mooier bruidspaar hê, as daardie twee?’ Booysen slaan meteens die regte toon aan en slaag daarin om die halfbewustelose bruidegom uit sy dommeling op te skrik. Maar dis net vir 'n oomblikkie, want hierdie bruilofgedoente is vir Ampie 'n foltering. Hy is so gelukkig, maar wil tog net graag alleen met sy vroutjie wees. En soos 'n opgewonde kind, moeg gespeel en oorspanne, bars hy in trane uit. Dis eers in hul stille woninkie dat hy werklik tot die besef kom van wat daar met hom gebeur het.. Ook hierdie eerste aand is mooi van uitbeelding. Ampie wil nog wegsak in sy bedwelmende geluksroes, maar Annekie voel meteens die verantwoordelikheid van haar taak as huisvrou. Na 'n bietjie speelse stoeiery moet Ampie kleingeld maak van 'n paar stompe, want daar moet vetkoek gebak word. Nou vind sy groot geluk 'n uitweg in heftige aksie. Hy duik oor die onderdeur en ‘met die dissonantse geluide soos van 'n hotnot wat drie dae al nuwejaar gehou het sak hy toe met die groot byl op die stompe in dat die yster sing en die spaanders spat.’ Kinderlik is die blydskap van die jonggetroudes oor hul groot kosvoorraad, waarvoor oom Kasper gesorg het. By die vroomgestemde Annekie | |
[pagina *11]
| |
KOTTLER.
6. HOTTENTOTMEIDJIE (Gips). | |
[pagina 136]
| |
wek dit innige bewondering vir die Booysens se godsvrug en 'n begeerte om ‘ons ou-mense te help as hul uitraak’. Met so 'n oorvloed weet hierdie bywoner-bruidjie amper geen raad nie!
Haar vrome bewondering vir die Booysens gee egter aanleiding tot 'n wanklank in Ampie se gemoed. Vir haar is dit die natuurlikste saak van die wêreld dat Ampie nou nes haar pa sy pligte as huisvader moet uitvoer. Hulle gaan mos ‘na die Woord lewe’. Maar Ampie se hart rebelleer teen wat hy as onnodige omhaal voel. In sy hart is hy nog steeds die losbandige natuurkind, wat alleen terwille van sy liefde effens toegee aan Annekie se ideaal om ‘propper’ te lewe. By die tafelgebed kan hy nog verbyskrams, maar die gedagte aan boekevat beneem totaal sy eetlus. Vroutjie is natuurlik vererg oor hierdie gemis van waardering vir haar kookkuns, maar Ampie het alweer 'n oulike koudleiplan - die wedstryd met die vetkoeke. Annekie gaan egter onverstoor haar gang en hy moet deurdruk met die huisgodsdiens. Die lees uit die Bybel gaan nog, maar as dit by die gebed kom, voel Ampie soos 'n moeg gejaagde dier wat deur die honde gegryp word. ‘Sowaar, ek kan nie bid nie, Annekie, so wragtig waar nie!’ klink sy hulpelose smeekstem. Die onbarmhartige wêreld het die natuurkind weer vasgevang in sy striknette. En as Annekie hom sy hulpeloosheid verwyt, bars die ou dierlike drifte weer los in hom, sodat hy dreig om haar om te stamp.
Pragtig volgehou tot die einde toe is hierdie beskrywing van die bruifofsnag, met die wedersydse vertedering wat tot 'n gelukkige versoening lei. Met 'n koppie koffie as vredesoffer en 'n vriendelike ‘Môre, my vrou’ keer Ampie terug tot die nuwe lewe wat hom wag. In 'n drifbui kan hy soos 'n wilde dierasie te kere gaan, maar die liefde laat die teerste roersels van sy hart tril, totdat sy eerste spontane gebed opstyg. Hy en Annekie sal same soos die môrester opklim tot in die hemel.
Elke besonderheidjie in die bruilofstafereel hou ons aandag gespanne. Daar is 'n dramatiese element in die komposiesie, wat ons van verwikkeling tot kliemaks voer. Suiwer en innig van aanvoeling is die emosies van bruid en bruidegom, wat deur elke gebaar en woord hul ganse wese vir ons blootlê.
Met die naamgee van die eerste kind kom Ampie weer in verset teen die aloue gewoontes waaraan sy vrou so hardnekkig kleef in haar sug om alles behoorlik te doen. Die ou wrok teen sy vader herleef weer as die hele tros Nortjé's die kraamkamer inborrel om moeder en kind om te krap met hul luidrugtigheid. En die herinnering aan sy vader se onregverdigheid laat hom | |
[pagina 137]
| |
meteens dink aan die trooster van sy jeug, ou Jakob.Ga naar voetnoot*) Na die moet sy seuntjie heet! Oom Tys vind natuurlik 'n Bybelse voorbeeld wat presies op hierdie geval pas; sy bewysgronde, soos Van Bruggen dit tiepies uitdruk, kom so met broek en baadjie uit die Bybel uit.’ Annekie moet swig vir hierdie onomstootlike argument en haar man se verering van sy ou jeugmaat maak haar hart so week, dat ook sy die kind spontaan Jakoppie noem. Hierdie insident en ook Ampie se gevoelens as hy die nuwe donkie ‘Kortkom’ kry, laat ons besef hoe knaend die honger na simpatie in Ampie se troostelose jeug moes gewees het. Hoe diep het sy eenvoudige maar gevoelige siel nie gely as gevolg van die onsimpatieke omgewing waarin hy opgegroei het nie. Noudat hy eindelik in vrou en kind 'n steunsel in die lewe gekry het, bestaan daar ook die moontlikheid van 'n verdere ontwikkeling van sy wese, wat die skrywer ons seker in 'n vervolg sal gee.
Opmerklik is dit hoe ook in hierdie deel Van Bruggen se taal vasgegroei sit in die bywonerpsiege. Dis nie afgeluisterde sinnetjies nie, so terloops opgeteken ter wille van die snaaksigheid, maar spontaan ontspringende beeldspraak, wat op voortreflike wyse die bywoner-sfeer karakteriseer. Hierdie beeldende taal kan die kunstenaar alleen skep as hy hom diep ingeleef het in die siel van sy mense en hul omgewing. Dit is 'n skeppende arbeid wat hoë eise stel aan die verbeelding van die skrywer. Van Bruggen voer sy mense meestal handelend op; hy bring hulle in dialogiese kontak, sodat ons die klank van hul stemme hoor en hul voor ons oë sien beweeg. En selfs waar hy beskrywend optree, bly hy as vanself binne die gedagtesfeer van sy eenvoudige mense.
As voorbeelde noem ek die volgende: ‘Die lewensvolle oomblikke van die laaste ure het sy siel gebrei soos 'n voorslagvel, wat deur die breier op- en inmekaar verfrommel, bruikbaar word.’ (P. 56.)
‘Die delwerye trek hom soos 'n soutplek 'n uitgevarste bees.’ (P. 82.)
‘Soos die ore van 'n dommelende donkie skielik opklap as hy iets vreemds geware, staan Ampie en Annekie gelyk, penorend voor oom Kasper.’ (P. 103.)
‘Hy voel soos sterk suipkalwers wat van lewensvolheid en begeerte agteropskop.’ (P. 109.) | |
[pagina 138]
| |
‘Lewe na die Woord! - Dis weer die klipbank wat nie nate het nie. (P. 130.) ‘Hy dink glo dat sy nou soetbroodjies sal bak en flikflooi, terwyl hy met die krulstert rondloop.’ (P. 135.) ‘Sy planne kom vanaand tromp opmekaar, soos 'n span osse wat op die draaiplek onklaar getrap het.’ (P. 12.) Dit hoef geen betoog dat hierdie taal volkome pas in Ampie se denksfeer nie. Dis die manier waarop Ampie self die dinge voel en sien, en Van Bruggen se eie taalbewussyn is as 't ware op non-aktiwiteit. As 'n ouderling gaan sit in die kerk, dan sien ons die handeling deur Ampie se oë aldus: ‘Die ouderling het sy bobaadjie agter oopgesmyt en toe gaan sit....’ (P. 99.) En dis nie deur enkele tiepiese bywoneruitdrukkings soos gedeps kontant, uit wans uit ens, dat hierdie effek verkry word nie. Dit is eintlik 'n herskepping van die bywoner se hele taaleie, wat alleen kan ontstaan in die gemoed van 'n kunstenaar, omdat hy sy karakters nie alleen van buite-af observeer nie, maar van binne-uit kreëer. Daarom ook kan Van Bruggen hom so volmaak inlewe in al die wisselende stemminge van Ampie, wat hy op seldsaam gelukkige wyse weergee. Daar is die optimistiese Ampie, wat alle swarighede kafloop en hoë lugkastele bou op die goedgeefsheid van sy baas; die berouvolle Ampie wat bewe by die gedagte aan die toornige God, maar deur sy eienaardige logika tog tot 'n soort begrip kom van die ganse wêreldorde, die dood van ou Jakob inkluis (P. 77); die opstandige Ampie wat soos 'n malmens te kere gaan teen alle ingestelde gebruike, maar dan weer in 'n helder oomblik so naïef kan redeneer oor die noodsaaklikheid van die trouseremonie (P. 95); die mondige Ampie, so ernstig onder die indruk van sy verhoogde status, ens. Stap vir stap kan ons nagaan hoe Ampie uit die skrale gegewens van sy beperkte ervaringsfeer en met sy steeds verrassende logika 'n soort verklaring vind vir al die raaisels van sy heelalletjie. En sterker en sterker word onder die lees die oortuiging dat ons hier te doen het met 'n lewende, 'n waaragtig lewende mens, wat volgens die wette van sy eie sielsaard op natuurlike wyse groei en ontwikkel.
Mag die skrywer daarin slaag om ook in die volgende deel die hoë peil van hierdie kunswerk te handhaaf.
Vryheid, Februarie, 1929. P.C. SCHOONEES. |
|