Ek kan my egter nie weerhou van die volgende as tiperende voorbeeld nie. Die louteringsoordeel van die laaste weke het oom Gerrie week gemaak, veral na hy nagte aaneen by die siekbed van sy kind getuie was van haar ylende geworstel om haar man te oortuig hoe onmoontlik dit is om haar volk en haarself te verloën. En nou worstel hy met homself op sy eie bed: ‘Iets wat die ydelheid in hom krenk, knaag in sy bors... Sy oortuigings waarin hy homself so onwrikbaar vas gewaan het, is met een slag omvergegooi. Lena se liefde vir die Engelsman kan hy nie kleinkry nie... en tog... en tog... oom Gerrie voel bang om die gedagte wat nou by hom opkom, te laat vorm vat... en tog... soos dinge vandag staan, sal die twee wit rasse moet saamsmelt... saamsmelt om een waaragtige Suid-Afrikaanse volk op te bou. As die Engelsman nou op die telegram wat hy môreoggend teen wil en dank sal wegstuur, plaas-toe kom, dan sal hy om sy kind ontwil versigtig met hom te werk gaan. En - draai oom Gerrie hom op sy sy - dit sal glad en geheel nie met sy wense strook nie. Tog, dit hang natuurlik alles daarvan af in watter gees die meneer hier sal aankom. In elk geval, en oom Gerrie blaas vyandig, hy sal my eers beloof om hom hier of in die Vrystaat te vestig... anders... Gestadig, met die vae hoop dat hy hom nog op die Engelsman sal kan wreek, maar tog met die skerp-bewuste, innige vertroue dat Lena nog weer haar geluk terug sal vind... en met die wete dat dit ook haar oorlede moeder se bede sou gewees het, het oom Gerrie hom, vol swaarmoedige gedagtes, deur die slaap laat oorweldig.’
Tyd en ruimte verbied om stil te staan by die menigvuldige skoonhede van hierdie roman. Daar is b.v. die digterlike natuurbeelding ('n enkele maal bederf deur verkeerde woordgebruik, soos ‘wolwitte wolke wat daar teen die hemelblou in kiese kleure gedoesel lê’); die stemmingsvolle interieur-skilderinge, soos b.v. op p. 122-123; die sterkgestileerde momente van intensdramatiese spanning, soos op p. 156-157 (waar oom Gerrie sy vrou dood vind, met 'n portret van Lena op die vloer), p. 177-189 (waar Lena die tyding kry dat haar moeder dood is en 'n laaste poging aanwend om by Harold troos te soek); daar is verder die plaaslewe, binnenshuis en buitenshuis, by droogte en donderweer, met sy wekgeluide in die vroeë môre en sy tallose skemergeluide in die aand, alles deurgeur van die plaasatmosfeer, en nog soveel meer. Deur dit alles heen die skryfster se opvattinge oor liefde en huwelik, haar afkeer van politiek en dogmatiek, waarby predikante sowel as parlementslede 'n flinke veeg kry.
Maar bokant dit alles staan haar voortreflike mensbeelding, orals veruiterlik of verinnerlik deur fyn-suggestiewe trekkies, 'n woord, 'n gebaar, 'n gelaatstrek, 'n beweging, wat onmiddellik die onsigbare en onderbewuste aan