En die vrou van die kleremaker, sy was dit wat hom by sy diefstal gevang het. En daarna het hulle hom geslaan en gewond en hom weggestuur.
En die knaap het 'n knaap van sestien jaar geword, en 'n seun van agtien, maar ‘Geluk daarmee’ is vir hom nie gesê nie.
En sy gesig het baie bleek geword en die geluid van die hees is gehoor uit sy mond by oomblikke, en hy spuug bloed by tye - alleen sy oë het gebrand soos kole.
En die asem in hom brand, in sy siel gloei één groot begeerte, die begeerte na die geluid van die woord: Geluk daarmee!
Waarom? Waarom alleen hy so arm? Waarom dit, dat ander mense baie nuwe klere het en hy selfs nie een nie?
En die nuwe kleed het vir hom soos 'n obsessie geword.
En hy het niks meer gedoen nie as net te praat oor die nuwe kleed wat hy sou kry.
En in die openbaar het hy sy mening te kenne gegee dat die dae nog sal kom dat daar gedurig nuwe klere sal wees vir alle mense, vir almal. Die dae sal nog kom, dat vir elke mensekind sat gesê word: Geluk daarmee! Maar hierdie dae het nie gekom nie - en alleen ander dae het gekom.
En hy het siek gelê op sy bed in die hospitaal. Die hoes het erger geword. En die bloed het gestroom uit sy keel by oomblikke.
En hy droom sy drome wakend: sy oë sien van ver 'n nuwe kleed en sy ore hoor van ver die stem: Geluk daarmee!
In die eerste dae het die dokter van tyd tot tyd by sy bed gekom op die middag - maar nou het dit reeds opgehou. Dit is niks as dat binnekort hy sal opstaan van sy bed en sal uitgaan en die nuwe lewe sal begin in die nuwe klere. Maar sy krag het al minder geword. Sy keel versmag en sy tong is verdroog en sy oë brand.
En sy oë sluit hulle, langsamerhand. En hy sien voor hom 'n wonderbare gesig: Kyk, engele daal neer, klein engele, groot engele, engele by duisende, en in kort is die hele kamer vol van hulle; en die engele gaan op en gaan neer, gaan op en gaan neer, en ruis met hulle vleuels.
En plotseling, kyk, klere in hulle hande, almal wit klere, en sy ore hoor 'n lieflike gesang, 'n gesang waar g'n end aan kom nie: Geluk daarmee! Geluk daarmee! En plotseling, kyk, 'n swart engel....
En op daardie dag het hulle hom begrawe in die wit, nuwe klere: Maar: Geluk daarmee! het sy ore nie gehoor nie.
Kyk, dit is wat ek belowe het om vir julle te vertel oor 'n seun wat nie verdien het om 'n nuwe kleed aan te trek al die dae van sy lewe nie.
Maar julle moet tog nie al te jammer hieroor wees nie - dit was mos maar net 'n kleremakerseun. B. GEMSER.