Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929
(1929)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 88]
| |
Die Namib-Woestyn, Suidwes-Afrika.Ga naar voetnoot*)Verlate, verdor, deur die lewe verstoot,
is my wese verbitter met nyd,
en ek voer in die diens van my Meester, die Dood,
met alles wat lewe 'n stryd.
Heet soos my sonskyn en diep soos my sand
en hard soos my berge se rots,
is die wreedheid van weerwraak wat binne my brand
met die haat van gekrenkte trots.
Geen skoonheid, geen skadu, geen groenheid of gras,
geen vleie my vaalte versier;
seëvierend verdryf ek indring'rig gewas
en folter vir mens en vir dier:
ek teken mirages met tergende spot
vir verdwaaldes, gemartel deur dors,
en my sande dans juigend met helse genot
oor geraamtes verstrooi op my bors.
Maar saands as die mis oor my westlike strand
soos 'n lykkleed my kaalte bedek,
en die nagwinde kerm oor my eensame sand,
en skadu 's my lengte oorstrek, -
dan word ek meteens met weemoed omgewe,
al bly ek hoogmoedig en wreed,
en ek smag na die wellus van groenheid en lewe
en sug in my eensame leed.
E.A. SCHLENGEMANN.
|
|