Ek hoor dat daar 'n ster is.
(Enige jare gelede is daar gemeld dat die ster Beta Ceti plotseling verander het van die twede tot die eerste grootte. Dit moet daar in die verte plaasgevind het vier eeue gelede, want die ster is 2,350,000,000,000 myle hiervandaan.)
Ek hoor dat daar 'n ster is
wat van ons af so ver is;
dat dit meteens in nagt'like uur
vergroot is in die diep asuur;
en dat die glans al lank vertrek het
al eeue en eeue 't dit geduur -
voor ons dit hier ontdek het.
O Ruimteveld wat ek nie skat nie,
en duur van tyd wat ek nie vat nie,
wat, wat is ek, verganklikheid,
by só 'n ruimte en só 'n tyd?
En sien die Heer my, nietling, aan
wat in die ruimte nêrens is,
en in die eeue skaars bestaan?
My siel, die ruimte is groot maar voel nie,
die tyd het duur maar ken geen doel nie.
Maar jy deurvoel die oneindigheid;
jy sien hoedat die eeue slyt;
en jy, wat op hul gange let,
het smart, wat hul nie het!