groot druppels taai wit melk op die droë litte en op die skerpioene, maar soos hulle val word hulle pikswart, en hierdie swart kolle skyn tegelykertyd duister vlekke op sy brein te gooi. Hulle dans voor sy oë en laat hom die skerpioene nie meer goed sien nie.
Met 'n wanhopige inspanning van sy afgematte liggaam wend hy hom af van die walglike diere en wil by die ander deur uitvlug. Maar sy hoof val dof en swaar terug op die kussing, en vir 'n lang tyd klop die dik warm bloed soos gesmelte lood teen sy geslote ooglede.
Plotseling is dit of die band wat soos staal om sy slape pers en hom aan die bed gekluister hou, aan stukke spring. Groot druppels sweet breek op sy voorhoof uit, en met 'n mat-koel gevoel word sy hele liggaam soos in 'n weldadige bad opgelos.
Dolf voel homself sink... diep, diep wegsink... Dan weet hy meteens dat hy geduik het, deur glashelder water, die koel water van die sekelgat waar die snyruigte sy skaduwee oor gooi. Af... af... tot onder op die dryfsand, en as hy begin beangs word, merk hy tot sy verwondering dat hy hier kan asemhaal. Maar hoe hy ook al smag, geen druppel wil oor sy droë lippe nie, en as hy behoedsaam begin rondtas, gly sy vingers oral van versteende water af wat hom aan alle kante soos glasmure insluit. Nou merk hy dat die sand waarop hy kruip, droë woestynsand is, en dat die water bokant hom soos deurskynende kwartsriwwe hang waarin die sonstrale gebreek word. Soos dolkpunte steek hierdie skerp strale naar sy oë, wat hom genoodsaak om hulle vaster te sluit en moeisaam in die sandskemering verder te kruip. Dit kom hom voor of hy ronddwaal in 'n eindelose verskroeide landskap, waar die bome blaarloos is en die hitteduiseling om sy ore dreun. Hierdie gedreun word 'n wilde ritme, 'n gedans wat hom om en om sleep, tot hy die omtrekke van 'n verlate dorsvloer in die veld herken en die woeste maat van Kaffervoete in sy ore hoor slaan. Dit was 'n toneel wat hy eenkeer bygewoon en wat 'n stemming nagelaat het wat sy fantasie uit die vroegste kinderjare beheers het, hierdie musiek tot 'n hoogte van intensiteit gevoer waar dit klankloos word en die lug laat pols met die ritmiese bewegings en wilde uitstraling van verhitte swart liggame. Deur sy gedagtes rol vurige sirkels, hy voel homself oorrompel en meegesleep in die wilde rondedans, in sy ore suis die lied van 'n sonbesie...
As Dolf weer sy oë oopmaak, sien hy die naakte kwartsriwwe van die Usambaraberge bokant flikker, en deur die donker grillerige naboomtakke oor sy tent skiet die son fyn dolkstrale wat aan sy ooghare bly hang en blink weefsels vleg. In die middel hang die groot swart son self wat die hele landskap verdonker. Die lug staan in swaweldamp, die horison word vaag, en dreigende boomgestaltes dring hulle daar saam soos verskrikte diere. Dit