heersende stylkenmerk: die dekoratiewe verdeling van die ruimte. Sommige beskouers van sy werk het dit te vaal gevind, te kleurloos in vergelyking met die bont werklikheid van Suid-Afrika. Maar dit moet nie vergeet word dat ons felle sonlig die kleureskema van 'n landskap nie verdiep nie, maar vervlak. Onder bewolkte lugte spreek elke kleur met sy eie waarde, onder die oppermagtige son gaan dit op in die lig, en verbleek. Nie dat 'n skilder nie 'n wonder van kleure hier kan vind nie, maar 'n arties met dekoratiewe aanleg keer hom vanself tot die meer egalige stemminge. Hy laat sy kleure terugstaan vir die lyne, en is daarby tog volkome eerlik teenoor die werklikheid ook. Een skilderytjie, die portret van 'n ou Boer, met verweerde hare, baard en hoed, teen die agtergrond van 'n wye, vaal-sanderige wêreld, het die harmonie tussen mens en land pragtig uitgebeeld. Eén lig, eén kleur, eén stemming woon in die landskap en in die seun van die veld.
Die sappige landskap van die winter in die Westelike Kaapprovinsie onder laag afsakkende wolke het Luyt steeds met figure bevolk: ploegers wat hul lang sweep swaai oor 'n span esels; 'n jong wat met 'n wit perd die wingerd ploeë; 'n vrou wat varkblomme dra; 'n vrolike karretjie wat die stoep opry van 'n Oud-Hollandse woonhuis, prykend onder eikebome, met wisteria-bloesems oor die muurtjie. Altoos dra die mens die natuur se geskenke huistoe of werk daarvoor, altoos geniet hulle hulle lewe. Geen wonder dan ook dat Luyt se insending op die tentoonstelling in Wembley 'n baie eervolle onderskeiding in die Engelse pers gekry het nie.
Die groot stuk ‘Die slag by Bloedrivier’, mag ons hier nie vergeet nie. Op die tentoonstelling in Stellenbosch was dit die oorheersende komposiesie, nie te sterk van kleure nie, maar des te sterker van dramatiese spanning, sowel in lyne as in uitdrukking. Die stuk is deur 'n aantal vriende aan die Uniwersiteit gegee, waar dit nou hang en wag op 'n nog waardiger plek aan die muur.
Na sy siekte het Luyt in Rondebosch gewerk, meeste tekeninge met die gevoelige kryt, soms 'n fyn-deurvoelde landskap, meestal weer figure of koppe. Die tentoonstelling in Kaapstad was 'n ware verrassing, en omtrent alles is gekoop deur liefhebbers wat nog iets wou bemagtig voor Luyt vertrek. Ons hoop dat daar weer eendag van sy werk ook hier sal te kry wees.
Intussen werk hy in Wassenaar by Den Haag verder, en sy Afrikaanse sketsboek is 'n ryk bron. Ek het by hom 'n paar groot stukke gesien, heeltemal Afrikaans van karakter, in die Hollandse winter geskilder, wat met sy koue en newel nie die warmte uit die doeke kon verdryf nie. Selfs sy Hollandse werk sal die spore bly vertoon van sy verblyf onder die Suiderkruis.