aangepas by wat hy wil uitdruk? Wie sal hier sê wat oorsaak en wat gevolg is? Die twee verskynsels - die manier waarop dit geskilder is en die uitdrukking, die gevoel - bestaan naasmekaar, maar.... in 'n vaste verband. Tegniek en uitdrukking is aanmekaar verbonde, soos orals in hierdie wêreld, stof en gees. Die stof is vir die gees die vat en dis net deur die stof dat die gees vir ons tot werklikheid word. 'n Wisselwerking bestaan dus tussen die gekose onderwerp en die gekose materiaal en dit is dus die oorsaak van die, oppervlakkig gesien, soveel verskillende maniere van werk, wat ons op hierdie tentoonstelling en so baie ander waarneem. -
Die verskil in voorkome van die skilderye is dus nie 'n gevolg van besluiteloosheid van die kunstenaar nie, al hang dit dan gedeeltelik saam met sy sug om te eksperimenteer en om altyd nuwe en by voorkeur beter middels te vind om homself in sy kuns uit te druk.
Die kunstenaar gee in die tegniek sy persoonlike karakter weer. Soos b.v. die karakter van iedere mens in meerdere of mindere mate in sy handskrif weerspieël word. Dit moet egter nie aanleiding gee tot 'n verkeerde gevolgtrekking nie. 'n Skilder wat 'n verbasende knap tegnikus is, wat sy vak goed verstaan, is daarom nog nie 'n groot kunstenaar nie. Die ou skryfmeesters, wat met die verepenne sulke wondere van die skryfkuns verrig het, was mos nie die vernaamste karakters van hulle tyd nie, en die mees karaktervolle mense was gewoonlik maar slegte kalligrawe. Daar's mense wat moeilik praat, maar wat jou ademloos laat luister na die diepe betekenis en die waarheid van hulle woorde, en daar's mense met 'n gladde tong wat bog praat. Dis wel gelukkig as by 'n mens die innerlike waarde gepaard gaan met die uiterlike vaardigheid en so ook by 'n kunstenaar. Dis gelukkig as sy kunstenaarskap gesteun word deur 'n groot kennis van die tegniek, maar hierdie kennis alleen maak nog nie 'n kunstenaar nie.
En daar is kunswerke gemaak, deur skilders wat die wette van die materiale nie volkome geëerbiedig het nie, want - genie staan onder en bo die wet. Maar die wet is daar en ons sien hom vervul in Pierneef se werke:
Die kunstenaar rig hom by die verwerking van sy materiale na hul onderskeidelike aard en is daaraan onderdanig en getrou.
* * *
Op die tentoonstelling was daar 'n sekere seksie skilderye wat deur die meeste besoekers met belangstelling beskou is, soms met bewondering, ook met verwondering en verbasing, en deur sommige onder duidelike blyke van afkeer. Dit was die afdeling wat genoem is kubisties of futuristies - name wat baie misbruik word vir alles wat in die skilderkuns sig vreemd of onbegryplik voordoen. (Sien afb. 4 en 5.)