Sanherib, toewens. Ek het gewens om 'n kasteel te bou tussen die hemel en die aarde, en ek wens dat U vir my sal stuur 'n wyse, kundige man uit U omgewing om dit vir my te bou, en om al my vrae te beantwoord. As U vir my so'n man sal stuur, sal ek insamel en vir U stuur die inkomste van Egipte vir drie jaar, maar as U vir my nie 'n man stuur wat al my vrae sal beantwoord nie, dan moet U insamel en vir my stuur die belastinge van Assierië vir drie jaar.’ Sanherib is oor hierdie brief tegelyk verbaas en vertoorn; hy raadpleeg sy wyse, waarsêers en sterrekundiges, maar niemand weet uitkoms nie. Almal erken dat alleen Haikaar in staat sou gewees het om die moeilikheid op te los. As die koning van sy troon af en in die as gaan sit het, kom die offisier wat Haikaar moes teregstel maar dit nie gedoen het nie, die ware toedrag vertel. Haikaar word ontbied, en in al sy ellende met lang hare soos van wilde diere en naels soos arendskloue, vuil en verkommerd voor die koning gebring; hy word begenadig, met die kleed van die koning self begiftig, en na 'n veertig dae van rus verskyn hy in sy ou glorie aan die hof. Die koning vertel hom dan van die brief uit Egipte, en Haikaar neem aan om aan die versoek te voldoen. Hy gaan terug na sy huis en gee bevel aan jagters om twee jong arende te vang, en hy beveel wewers om twee kabels te maak elk tweeduisend el lank, en aan timmermans bestel hy om twee groot kaste te maak. Dan neem hy twee klein seuns, voed hulle en die arende elke dag goed met lamsvleis, en leer die seuns om op die rug van die arende te ry, elke dag 'n bietje hoër, deurdat hy elke dag die kabels 'n bietjie verder laat vier, totdat hulle die volle tweeduisend elle bereik het. As hulle aan die sport gewoon geword is, sê hy vir hulle dat, as hulle daar hoog in die lug swewe, hulle moet skreeu: ‘Bring vir ons kalk, bring vir ons stene, dat ons kan bou die kasteel vir die koning, want ons het niks te doen nie’.
As alles voorberei is, word dit aan Sanherib vertoon, wat verbaas is oor die wysheid van sy ou visier. Hierna word hy afgevaardig na die koning van Egipte, wie se guns hy al spoedig win deur sy verstandige en sierlike taal, deur die pragtige vergelykinge wat hy vyf dae agtereen weet te vind vir die telkens anders aangeklede koning en sy hofstaat, totdat die groot dag kom waarop die wens van die Farao, in die brief geuit, sal vervul moet word. Uit die twee kaste wat hy saamgebring het, laat Haikaar die arende kom, vasgebind aan die lang kabels, en die vertoning geluk heeltemal na die program. As die twee seuns hoog uit die lug om kalk en stene skreeu, sê die koning dat hy die plan om 'n kasteel te bou opgegee het; waarby Haikaar nog triomfeer dat, as sy heer die koning van Assierië hier was, hy verskeie kastele in 'n enkele dag sou gebou het. Nog ander bewyse van sy gevatheid in die oplossing van strikvrae weet Haikaar te gee, totdat hy met eer en geskenke oorlaai terugkeer. By sy terugkoms word die ontaarde seun Nadan aan hom oorgegee, deur hom gevange gesit in 'n donker hok by die huisie, en telkens