Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929
(1929)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 42]
| |||||||||
Iets Omtrent die Volksoorlewerings van die Suid-Afrikaanse Bantoe.I. Inleiding.ONDER die veelsydige en interessante voortbrengsels van die Bantoevolksgees moet hulle mondeling-oorgelewerde tradiesies seker as een van die belangrikste onderdele beskou word. Antropoloë en kunstenaars weet lankal dat die Bantoe in die algemeen, en daaronder ook die Suid-Afrikaanse Bantoe, 'n motief- en vormryke beeldende kuns, en 'n van diepgaande gevoel getuiende en ritmies hoogs-ingewikkelde musikale kuns besit, en dat die letterkundige siel van die Bantoe hom in 'n rykdom van voortbrengsels geuit het van 'n geaardheid, veelsydigheid en kunsgehalte soos ons by maar min primitiewe volke aantref. Maar terwyl die beeldende en musikale kuns, deur die strewe van kunstenaars en musici, langsamerhand meer en meer onder die Afrikaanse volk bekend raak, is die algemene onkunde omtrent die letterkundige sy van die Bantoe-kunsprodukte nog groot. En so wil ons, deur in hierdie reeks 'n paar feite en beskouings oor die onderwerp aan die hand te gee, belangstelling en neiging wek onder die lesers vir hierdie eienaardige en waardevolle voortbrengsels van menslike kunssin onder ons primitiewe inboorlinge. Ons het hierbo van letterkundige voortbrengsels gepraat, en het die woord daar in enigsins vrye betekenis moet gebruik; want helaas bly die grootste deel van die Bantoe-volkstradiesies nog ongeskrewe. Daar is weliswaar reeds 'n aantal fabels, sages, spreekwoorde ens. te boek gestel, soos b.v. deur JacottetGa naar voetnoot(1), HoffmannGa naar voetnoot(2), JunodGa naar voetnoot(3), PlaatjeGa naar voetnoot(4), en SamuelsonGa naar voetnoot(5), maar die oorgrote meerderheid van die volksoorlewerings rus nog in die brein en op die lippe van die inboorlinge, en word by die jaar minder in kwaliteit en kwantiteit deur die afbrekende kontak met die westerse beskawing. Tog sal niemand, na selfs die vlugtigste beskouing van die materiaal, die naam letterkunde daaraan wil onthou nie, en sal ons daardie naam ook hier gebruik. | |||||||||
[pagina 43]
| |||||||||
Watter soorte letterkunde besit ons Suid-Afrikaanse Bantoe? Die verskeidenheid is taamlik groot, en die verskilslyne tussen die afsonderlike klasse is soms maar onduidelik. Maar vir die gemak kan ons die oorlewerings verdeel in die volgende klasse:
Daar is nog meer indiwiduele stukke wat ons nie gemaklik onder een of ander van die bogenoemde kategorieë kan bring nie, en daar is moontlik nog meer kategorieë wat ons sou moet bytel. Maar die bostaande is wel die hooflyne, en sal vir ons doeleindes hier miskien van genoegsame volledigheid wees.
Laat ons nou 'n rukkie stilstaan en 'n idee probeer kry van die algemene kenmerke van die Bantoe-letterkunde. Dit is reeds gesê geword dat dit in hoofsaak tradisioneel is en van mond tot mond oorgelewer word. Wie die oorspronklike outeurs van hierdie of daardie stuk is, kan ons slegs in 'n paar gevalle te wete kom, want die meeste daarvan dateer uit die oerverlede van die volk. Slegs 'n enkele klas, n.l. die derde hierbo genoem, ontstaan nog in enige kwantiteit in die vorm van ad hoc-gemaakte sange, prysliedere ens. by een of ander groot geleentheid. So is daar b.v. ter geleentheid van die besoek van die Prins van Wallis aan ons land 'n paar jaar gelede veral in Natal en die Transkei prysliedere op hom gemaak deur die volksangers. Maar, soos gesê, daar ontstaan vandag maar min van dié soort letterkunde onder ons naturelle; die skrywers hou hulself meer besig met skoolboeke, stigtelike werke, geskiedkundige verhale, ens. Nou is die oorlewering van een of ander verhaal of lied nie algemeen nie, maar rus in die geheue van sekere mense in die stamme, die professionele sangers, die toordokters, die kapteins en hulle omgewing, en ander mense, meestal oueres, met goeie en geskoolde geheues wat daarin belangstel. Die mees-geliefde verhale, sange, mitologiese oorlewerings en dergelike is gewoonlik so taamlik aan elke volwasse lid van die stam bekend; maar gewoonlik is daar maar net sekere indiwidue wat 'n veelsydiger kennis van die ou letterkundige skat van hul volk het. Sulke indiwidue word dan algemeen bekend as vertellers, sangers, raaiselvraers, ens., en by feestelike en dergelike geleenthede is daar na hulle groot navraag. Die algemeen-bekende verhale, egter, word by enige gesellige geleentheid, om die kampvuur of op die veepos, by 'n bruilof of in 'n inwydingskool, smaaklik vertel, en so raak iedereen, jonk en oud, met die inhoud daarvan bekend. So | |||||||||
[pagina 44]
| |||||||||
het hul b.v. raaisel-spelletjies, waarby hulle raaisels met mekaar verruil, of spreekwoorde-spelletjies, waarby hulle spreekwoorde soek te pas te bring: genoeg om te bewys dat die oeroue letterkundige oorlewerings nog 'n vaste en belangrike plek inneem in die daaglikse lewe van ons Bantoestamme.
Wat kan ons nou sê oor die algemene kenmerke van die styl van die verskillende klasse van die letterkunde? Ten eerste moet ons 'n blik slaan op die rol van die taal in die letterkunde. Die Bantoetale is tale van primitiewe volkere, en as sodanig skuil daarin 'n naiwiteit, 'n frisheid van uitdrukking, 'n plesier in die woord as gevoelsuiting, wat ons by meer geskoolde tale mis. Die Bantoetale het 'n ryke, soms 'n waarlik oorvloedig-ryke woordeskat met betrekking tot die dinge en gebeurtenisse in die daaglikse lewe van die Bantoe. Daarby 'n taalbou, logies en akkuraat, maar tog elasties en subtiel, met allerlei moontlikhede van woorduitbeelding en woordvorming, allerlei fyn skakeringe van bedoeling, en daarby 'n skilderagtige idioom wat betref die mees gewone dinge. As ons daarby dink aan die diepsinnige verwikkeldheid van die Bantoe-psiege, en tog tegelykertyd aan die frisse eenvoud van hulle natuurbeskouing, dan moet ons wel oortuig wees dat die Bantoetale 'n rake instrument van letterkundige voortbrengsels moet wees. En so is dit ook inderdaad. Op die dooie papier, sonder die illustrasie van die verklarende stem, kan ons ongelukkig maar so min sê van hierdie aantreklike deel van die onderwerp; daar is b.v. die ryke klanknabootsing, die direkte weergewing van 'n natuurgeluid, die indirekte aanduiding van 'n klank, 'n beweging, 'n geaardheid, 'n stemming, deur 'n enkele onomatopetikon. So b.v. in Sesoetoe: ke be ke dula tuu (ek het gesit tuu, d.w.s. tjoepstil), ka sepela gwasha-gwasha emi, gwasha-gwasha-emi (ek het geloop gwasha-gwasha emi, d.w.s. skuif-skuif en skielik stil); die trein se geluid is ke tswa Kapa, ke tswa Kapa, ke tswa Kapa... iedereen wat die moeite doen om die sinnetjie 'n paar maal agtermekaar taamlik vinnig op te sê, sal dadelik die nabootsing van die onmiskenbare geluid van 'n stomende trein hoor, en dit sal sy eenvoudige plesier daarin nog verhoog as hy eers hoor dat die betekenis van die frase nog daarby ad rem is, n.l. ek kom van die Kaap. Buiten hierdie direkte natuurafbeelding en indirekte aanduiding van verskynsels, het die Bantoetale 'n skat van idiomatiese uitdrukkings wat aan styl en trant van 'n stuk 'n oeregte primitief-Afrikaanse kleur gee, maar waarmee ons ons uit plaasgebrek nie nou kan besighou nie.
Dit spreek egter vanself dat die styl afwissel volgens die inhoud van 'n stuk. So word die verhale, mitologie, fabels ens. mees op 'n intiemgesellige manier voorgedra, in breedvoerige styl en met 'n huislike woordeskat; die styl van die geskiedkundige oorlewerings en baie van die sange is meer voornaam, maar oor die algemeen sober en somtyds amper pedanties-nou- | |||||||||
[pagina 45]
| |||||||||
keurig; in die spreekwoorde en raaisels, en gedeeltelik ook in liedere, vind ons 'n gedronge, amper 'n verwronge lakoniese styl, kort en bondig en haarfyn geknip; in die prysliedere en krygssange, in die feesliedere en treurmares vind ons 'n emosionele uitstorting, 'n hiperboliese taal, 'n opwelling van passie, van verdriet, van triomf, van baldadigheid. Dis die mees lieriese voortbrengsels wat die Bantoevolkere besit.
In volgende artiekels sal ons die verskillende genres afsonderlik bespreek, en ons beskouings soveel moontlik met voorbeelde toelig.
G.P. Lestrade. |
|