Tragiese skuld by Sophokles is onerkende menslike swakheid. By Aischulos kom die versoening deur straf, by Sophokles deur belydenis van nietigheid. Die proses van versoening is by Aischulos hoofsaaklik 'n regsproses, by Sophokles 'n psigologiese proses. Hy is dan ook die grootmeester van geraffineerde karakterontleding, al is dit meer van karaktertiepes as van indiwidualiteite.
Teen die end van die 5e eeu egter is die politeïse filosofies ondermyn by die leidende geeste, en die oorgelewerde opvatting van die godsregering in stryd met die verligte sedelikheidsbesef. Religieuse geeste verkeer in die stryd van opstand teen die oorgelewerde geloof en die ontwikkeling van 'n nuwe geloof. Baie versink in sinisme en skeptisisme, enkeles styg op tot 'n vaagbelynde henoteïsme, 'n groot aantal vind vrede in 'n nuwe panteïsme.
Die invloed van hierdie geestesstryd het Euripides, die jongste van die groot driemanskap, tenvolle ervaar. Die politeïstiese wêreldbestuur is vir hom 'n intellektuele en sedelike gruwel, al moet hy noodwendig daarvan gebruik maak as die oorgelewerde raamwerk van sy kuns-genre. Hy word dan ook nooit moeg daarvan om die mitologiese voorstellinge te hekel nie. Hy besef dat daar iets beters moet wees, dat die godheid regverdig en heilig en goed moet wees. Maar helderheid het hy nie. Positief kom hy nie veel verder nie, as tot 'n verheerliking van die goddelike skoonheid van die lewe in al sy verwarring en ellende.
Die mens met sy hartstogte en ideale is vir hom die enigste houvas wat hy het, want hy sien iets goddeliks, iets van onverwoesbare skoonheid in die menslike psiege, wat te meer tot openbaring kom na mate die noodlot hom met harder slae beuk.
Skuld? Ja, wie is skuldig: god of die mens? In elk geval die mens se lot is 'n gevolg van sy lewe, van sy karakter; of dit 'n regverdige gevolg of selfs 'n godbewerkte gevolg is, dit weet hy nie.
Daarom is die spel van menslike hartstogte en menslike vernuf vir Euripides 'n passie. Dit is die strydveld waar sy siel in opgaan.
En as die uitslag ellende is: moord, ontug, smart en dood, dan is dit nie al nie. Want daar is 'n skoonheid in wat onverganklik is, 'n skoonheid wat náglans en násing in Euripides se poësie.
Tragiese skuld is by hom wesenlik antroposentries, al mag die inkleding, wat hy moes oorneem uit sy stof, 'n teosentriese skyn vertoon. Dit is vir hom menslike hartstog, van watter aard ook al, rein soos by Hippolutos of sieklik en verdraaid soos by Medeia.
Die versoening van die konflik is by hom slegs potensieel teologies; eerder is dit metafiesies. Maar hoofsaaklik is dit esteties-religieus. Die