plaasvind onder 'n kapokval van tere liefdeswoordjies. Hy lyk nie ongevoelig vir die weldadige invloed van so'n strelery nie, maar vind dit ongepas by die ete. Nou en dan stop hy in die middel van sy môremaal.’ Come, boykie; finish your breakfast.’ ‘Boykie’ laat hom egter nie maklik beweeg nie. Weer word 'n handvol suiker uit die pot oor sy bord gestrooi, en Fido sukkel deur die laaste deel van sy môremaal met al die onverskilligheid van 'n rykmanskind. Nou eers laat hy hom die gestreel langs rug en maag sonder lydelike verset welgeval, terwyl 'n woordevloed van moederlikheid om sy ore warrel: ‘Mother's big baby - is his little tummy full? Won't he have a little more porridge? Mother's only, only sweetest little child.’ ‘Hullo, old man’, - 'n man van middelbare leeftyd kom uitgestap, besig om aan elke kruisbandlissie sy besondere dagtaak op te dra. ‘Well, how did you sleep, old man?’ Fido stap nader en spring met vuilwit voorpootjies teen sy baas op. So bly hy staan tot die gevryf langs nek en ore hom verveel. ‘Did he eat all his breakfast?’ vra die pleegvader, terwyl hy die bord beskou, wat moeder juis tussen die agter-stoep-tafelgeselskap inskuif.
‘Yes, daddy, but he simply won't eat his food unless I strew sugar over it.’ Speels-ontevrede hurk hy by Fido op die stoep, rol die oudjie op sy rug, en gryp-gryp orals langs sy maag. Van hierdie stoeiery hou ons maat. Met diepgekloofde bek waarin rye tande glanswit dreig, verdedig hy dan hierdie, dan daardie deel van sy maag en bors. Eindelik word die kieliery met twee hande tegelyk 'n bietjie dol na sy sin, hy spring onverwags op, hardloop so 'n halfmaan deur die klein agterplasie, en poseer in uitdaende vang-my-as-jy-kan voor sy baas. Laasgenoemde klop die stof van sy broek en roep na die kombuis: ‘Girls, where is Fido's soap and towel?’
Onmiddellik val ore, kop en stert by Fido. Hy sluip skelm-skelm die koolhok binne asof 'n doodvonnis oor hom uitgespreek is. Die baas kom met 'n stuk seep die stoep afgestap, sleep 'n lang wasbalie onder die kraan, en hak 'n rooigestreepte handdoek van die draad. Hy kyk verwonderd rond, fluit, roep: ‘Fiiido, Fiido, Fido,’ maar Fido is skoonveld. Hy dink 'n oomblik na, loer wantrouig na die steenkoolhok, terwyl 'n glimlag van meelydende wete oor sy gesig wegplooi. Op sy tone sluip hy nader en buk onder die lae deurtjie in.
'n Dowwe gestommel, 'n steenkooldamp, en daar kom die twee tevoorskyn, Fido in hewige verset teen sy baas, wat hom aan die halsband voortsleep. Met vier pote vasgeplant beveg Fido elke duim grond tot by die wasbalie. Hy word ingetel, beur nog eenmaal in laaste wanhoopsworsteling onder wye gesputter van waterdruppels, maar dan breek sy versetskrag. Met opgeduikte ruggie en nat-treurige bakkies ondergaan hy die seep-en-water marteling. ‘Just another second and daddy will wrap you up nicely in your warm towel - daddy wipe the little face - Ah, that's a good boy - now!’