Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1929(1929)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 6] [p. 6] Veld-akwarelle. I. Torkwaas, topaas en toermalyn, En wisselende aleksandryn; Sardoniks wit gestreep; porfiet, En malwa-groen blink malagiet; Die heuning-geel van krysopraas; Die diepsee-pêrel met sy waas Van môre-grys eer dou-voor-dag Die daglig in die ooste lag; Safier wat blouer bloukleur gee As die diep dieptes van die see; Die bloedrooi skyn van 'n robyn Nuut-uitgegrawe uit die myn, En peridot en amatis Waarin twee tinte om voorrang twis. II. Gevul met volop groen en nuwe geel, Gebore uit die milde voorjaarsreën, Wat nagte lang sy vrugbaar nat verleen Aan dood-verdroogde vlak en veld wat steel Van wat daar is, om daarmee weer te deel Met blommesaad wat vir die winter ween, Lê uitgestrek 'n nuwe wêreld. Teen Die berg se uitgekerfde kranse speel Die kleurvernis van nuwe môremis, En oor die werf stroom wierook uit die vlei, Die ruik van grond wat nat is, en van sand Wat gister nog die jagtende akkerdis Geskroei het met sy hitte nou verby, En van die lewe wat opbruis oor die land. [pagina 7] [p. 7] III. Rooskleurige suurknolle Met feselryk blombolle Geplant in swart vet grond; Die loof geil groen; dik rond Die lang sterk stengels; mooi Beblom met rose-rooi. 'n Lewendige kleur-juweel, Waaragter, vèraf, geel Bo wit sand, tussen vers Blaar swangere kraal en kers En vygiebosse pryk Die nuwe gousblomryk. En verder waar die vlei Nog troos van water kry, Groei tussen ruigtegras Sandlelies bleek soos was, En grys trompetters stort Hul stofmeel, opgeskort Vir skemerure, as die kwynende maan Vertoef bo vèraf bulte voor hy ondergaan. IV. 'n Kronkelkloof waarin die kreupelhout - Daars lepelboom en stinkhout en rooi-els En wilde oliewenbos, al jare oud, En kippersol wat met die wind gesels Hoog bo die laer maats wat minder groen En minder sierlik uitsteek bo die grys - Wag tot die late môrestraal hom soen En tot die son sy gloei-goud sterkte wys. 'n Bok-getrapte voetpad loop daardeur, Beskadu met boomvarings waar dit draai Om wind-verweerde sandsteen wat verkleur Met koggelmanderkleure, wat verraai Die oes van lewe wat die klipskeur hou, Sodra die môre blink sy holtes vind En bo nog sonder wolke strek die blou En die dooi blare bewe met die wind. C.L. Leipoldt. Vorige Volgende