| |
| |
| |
Uys Krige
Eerste ontmoeting met Roy Campbell
Dis nie oor Roy Campbell se werk wat ek hier wil skrywe nie. Ek wil eerder 'n portret probeer teken, al is dit ook hoe sketsmatig, van die man van wie ek soveel gehou het en aan wie ek soveel verskuldig is, na gelang van die allereerste van al die honderde ontmoetings wat ek gedurende 'n kwarteeu met hom gehad het.
Ek sou niet soveel aandag hieraan bestee was ek nie oortuig nie: dié ontmoeting is in baie opsigte openbarend van Roy Campbell se hele karakter en persoonlikheid. Dit werp ook lig op verskeie aspekte van Campbell se digkuns: die frisheid, onmiddellikheid en spontane uitbundigheid van dié poësie; die digter se essentiële lewensvreugde, geesdrif en vuur en sy geweldige vitaliteit; kortom sy sonnige, al fresco eienskappe.
En ons ontmoeting gee ons ook 'n kykie in die oord of kontrei wat die besieling was van Campbell se beste gedigte uit sy middelperiode, naamlik sy Provensaalse, heeltemal klassieke verse, die meeste waarvan bevat is in sy nogal, na my mening, miskende bundeltjie, Flowering Reeds.
Op 'n pragtige herfsmôre in Oktober 1932 het ek in die ‘Provensaalse Venisië’, die skilderachtige vissersdorp, Martigues, uit die Marseille-bus geklim. Paar minute later het ek my bloedig vererg vir die plaaslike posmeester wat, swaar-steunend op die ‘hoë, dwingende gesag’ van die wet, eenvoudig bot geweier het om aan my mee te deel waar Monsieur Campbell woon. En sommer op die daad het ek skoon uit Martigues gestap, reguit weswaarts in die rigting van Spanje. (Was dié koers nie dalk ‘profeties’ nie? Want ongeveer 'n jaar later is Roy en ek saam na Spanje.)
Dis helfelf in die môre, ek stap onder 'n lang breë laning deur van reusagtige plataanbome die toppe waarvan mekaar raak; bo my kop sing daar, onsig- | |
| |
baar tussen die groot blare baie waarvan reeds 'n rooigoue glans het, minstens 'n dosyn nagtegale asof hulle net die een skone doel het om my voort te fluit op die laaste skof van my reis, veertig myl ver, na die digter wat ek nog nooit gesien het nie, maar wat, lyk dit, ek al jare lank ken en gou-gou voel ek 'n hele ent beter.
Dis of ek 'n stralende Cézanne-doek binnestap. Agter my lê l'Estaque wat Cézanne dikwels met soveel liefde geskilder het; regs, feitlik aan my voete, die stil blou meer, l'Etang de Berre, waar hy so graag gekom het; en daarver, tronende oor die meer in die noordwestelike gesigseinder, toring die trotse Mont Victoire wat hy in skilderstuk op skilderstuk verewig het, massief teen die diepblou lug op.
Ja, sê die eerste boer wat ek raakloop so gou ek uit die diep koel kerkagtige skaduwee van die plataanlaning in die helder sonlig van die oop veld uitkom, l'Anglais leef in 'n mas (boerehuis), lá, daar doér, 'n paar kilometer hiervandaan, nie ver van die grootpad af nie, regs teen die heuwel aan wat afkyk op die étang.
Ek is die enigste persoon op hierdie lang wit pad wat lui kronkel deur wingerde, vrugte- en olyfboorde, en ek voel só vry, só sorgeloos, ek sou met die jubelende nagtegale begin wedyver, hierdie tintelende vreugde in my hardop wil uitsing as ek maar net kon, tongueless nightingale wat ek is.
Ongeveer 'n halfuur later swaai ek regs langs 'n klipperige plaaspaadjie van die grootpad af met mikpunt die tipiese Provensaalse opstal met hoë ligbruin mure, twee verdiepings en aantreklike dak van groot rooi teëls, wat daar alleen teen 'n steiltejie tussen sy olyfbome staan. Dis seker nie dieselfde ou seksietjie sanggenante nie, dink ek, maar in die olyfbome om my tierelier pal die nagtegale...
Ek staan op die voordeurtrap en klop aan. 'n Stewige entjie vroumens met swart hare wat in dik olierige stringe los swaai oor haar sterk skouers, wilde donker oë en 'n blas vel, steier, so lyk dit, uit die kamer se donkerte hier voor my op en, verras, stap ek twee treetjies tru.
| |
| |
Non, non, Monsieur, skree sy my byna toe in 'n aksent wat so onmiskenbaar Provensaals is as die Mistralwind, sy's niet Madame Campbell nie, sy's Mireille - o skaduwee van die groot Provensaalse digter, Mistral, met sy meesterstuk, Mireille! - die bonne, die bediende, ja, ja, die bediende! Monsieur slaap nog, maar sy sal hom wakker maak, nou op die plek, tout de suite; Monsieur moes al lankal opgestaan het, want sy wat Mireille is, moet aangaan met haar werk, sy kamer aan die kant maak, kyk waar staan die son! Pardonnez-moi... en daar trek sy met die groot steil trap an bo en slaan sy met 'n verbasende beweeglikheid van haar bonkige liggaam plek-plek sommer twee, drie treetjies oor.
Ek staan op die hoogste treetjie van die stoeptrap en luister na die nagtegale. Die sonlig lê soos 'n goue patina op die klassieke Middellandse toneel oral om my; en nou vir die eerste maal word ek bewus van die boomsingertjies, hoe daar oral, teen die bome aan, ontelbare sonbesies aan 't snerpe is, asof in 'n bibberende begeleiding, skril en koorsig, vir die moeitelose, soet-vloeiende lied van die nagtegale.
My gedagtes trek ver, baie ver na 'n skroeihete dag op die Swellendamse plaas van my Uys-oupa jare der jare gelede... Maar deur die oop venster bo my hoor ek Mireille skor protes aanteken. En hoe 'n man slaperig mompel. Dan klap daar 'n deur.
'n Lang man kom die donker mankolieke trap afgestrompel. Hy het 'n verweerde matroosbroek aan en 'n donkerblou jersey. Dis duidelik dat hy in sy klere geslaap het. Die volgende oomblik staan hy op die drumpel, knip-knip hy sy groot groenerig-blou oë in die skielike skerp sonlig en skud hy, kragtig, my hand.
Dis of daar iets manliks en guls in my invloei uit hierdie ferm handgreep, dié forse reguit blik en Roy Campbell se hele wakker, gretige houding. Geraak deur hierdie openhartige ontvangs deur 'n beroemde digter wat my glad nie ken nie en vir wie my koms 'n volkome verrassing is, kyk ek noukeuriger na hom.
Dis 'n indrukwekkende kop, heeltemal kaal van voor en in die middel, fier gedra op breë skouers. Die
| |
| |
gesig - lang, spitspuntig en met fyn trekke - is buitengewoon; maar die treffendste gelaatstrek van hierdie een-en-dertigjarige jongman is ongetwyfeld sy oë. Hulle is terselfdertyd helder en geheimsinnig, lyk onskuldig sowel as wêreldwys; met in hul uitdrukking iets afgetrokke en onnaspeurbaar, maar tegelyk naby en intiem-vriendelik.
Toe hy egter sy mond oopmaak, kry ek 'n skok. Hy't gisteraand bietjie dronknes gehou met 'n klompie Martigues-vissers, sê hy, hy't 'n helse nadors, sou ek omgee om vyftig tree saam met hom na die put toe te stap? Daar was 'n Krige saam met hom op Oxford, Jack Krige van Johannesburg, die beste student van sy jaar, 'n eersteklas kêrel, seker my neef...
Dis nie sy reg-op-die-man af, byna bars, hees ge mompelde aanhef wat my verbaas het nie, maar sy aksent. Dis selfs erger as my eie in Engels, so ruig-Suid-Afrikaans dat jy dit met 'n Knysna-tandsaag sou kan sny. Dit laat my, terwyl ek daar langs hom in die stil sonnige Virgiliaanse landskap staan, selfs 'n bietjie heimwee voel; tower voor my op die grysblou klipkranse van ou Tafelberg, die hoë dreunende branders by Oemkoemaas en die grootse blougroen glooiinge van die Vallei van 'n Duisend Heuwels...
Die groot emmer vol duike het in die put afgeratel, ons twee kalm beelde op sy stil, groenglimmende oppervlakte in 'n honderd dobberende waterskrefies versplinter. Nou kraak-kraak die emmer terug.
Roy gryp dit in sy twee hande en kantel dit oor sy kop met een snel, rukkerige beweging. Hy komt orent, skud sy kop 'n paar maal op 'n lomp, halwe nors manier asof hy saam met die glinsterende druppels wat van sy nat harspan spat, ook 'n paar laatste grys spinnerakke uit sy gees wil losskud.
‘That's better!’ bulder hy byna. ‘Much better, come on, man, let's get going! It's getting late...’
Ek moes 'n bietjie verwonderd gelyk het want: ‘I've got a bicycle,’ vervolg Roy. ‘And it's strong enough for the two of us. You just hop onto the crossbar and we'll slip into Martigues. There's a nice cafe there under the plane-trees by the canal. The vin ordinaire isn't bad
| |
| |
and those fishermen are bloody good compagny. You'll like'em. Come on, man!’
Veertig sekondes later sit ek hoog en droog maar nie alte gemaklik nie - met 'n tamaai karba in sy netjies inmekaar gevlegde rietjieshouer in my arms - bo-op die fiets se dwarsstang; gee Roy net een sprong en is hy in die saal; druk hy my styf teen die fiets se handvatsels vas soos hy ver vooroor leun om sy spoed te versnel - en plotseling is daardie kalm landskap nie langer staties nie, kom dit my tegemoet geskiet en is daar 'n gedruis soos van die dawerende Mistralwind in my ore, suis ons langs die myllange heuwel af terwyl ek die karba vasklou asof my lewe daarvan afhang en Roy 'n ‘running commentary’ in my regteroor inskree op my neef, die omringende landskap, rugby, Martigues se vissers, hul hoogs interessante gebruike en gewoontes, Roy se voorliefde vir Byron en Pope, die voortreflikhede van Provensaalse kruie soos roosmaryn en tiemie en die joos weet watter ander onderwerpe nog.
Alte seker, die Franse speel 'n los oop vurige skouspelagtige soort rugby, weerklink Roy se stem triomfantelik in my oor. ‘They give the ball plenty of air, fling it about as gaily as if it were a great golden orange...’ En Rimbaud het gesê Baudelaire is 'n god. Watter digter, Baudelaire, marmer en musiek tegelykertyd. Marmer wat betref sy vorm, musiek wat betref die fyn innerlike ritme van sy singende versreël. Hoe op aarde sou 'n mens daardie fantasties-eenvoudige, magiese slotreël van Receuillement kon vertaal: Entends, ma chère, entends, la douce Nuit qui marche? (Luister, liefling, luister hoe soet die tred nou van die Nag.) Of:... Surgir du fond des eaux le Regret souriant (... sien hoe, glimlaggend, die Spyt styg uit die diepste waters) uit dieselfde magnifieke sonnet?
En Rimbaud is ook 'n god. Die wonderlikste van alle wonderkinders.
Et, dès lors, je me suis baigné dans le poème
De la mer infusé d'astres et latescent...
(En daarna het ek my gebaai in die gedig
van die see deurtrek met sterre en melkwit...)
| |
| |
Roy se stem, nou, het 'n trae, wiegende onderseese toonval. Maar 'n oomblik later weergalm dit weer kragtig in my regteroor:
Million d'oiseaux d'or, o future Vigueur...
Oh que ma quille éclate! Oh, que j'aille à la mer!
(Miljoene goue voëls, O Krag van die toekoms...
O, dat my kiel mag bars! O, dat ek na die see mag gaan!)
Daar's nie aan te twyfel nie, die ganse moderne poësie vind sy ontstaan in Baudelaire en Rimbaud. En hoe hanteer die Franse agterspelers, en selfs hul voorspelers, nie 'n nat bal nie! Hulle kan hom sommerso tot vyftien, twintig tree ver aangee en die bal glip nooit uit hul hande nie. Watter vaart, watter vuur, watter brio! Dalk is hul voorspelers nie so goed soos ons s'n nie. Nie so doelbewus, stelselmatig, ‘wetenskaplik’ nie. Juistemint, watter geesdrif vir rugby lê hierdie mordus (‘gebetenes’ of dweepsiekes) aan die Suide tog nie aan die dag nie.
Ken ek Valéry se Cimetière Marin? 'n Meesterlike gedagte-gedig waarin die digter se gedagte vlerke kry en dit al stygende aanhoudend sing; en waar daardie heerlike moeitelose vlug volhou word, man, vanaf die eerste versreël tot die laatste! L'argile rouge a bu la blanche espèce (Die rooi klei het die wit geslag gedrink) en Roy se luidsprekerstem het gesak tot 'n eerbiedige, half-elegiese gefluister - ... Tout va sous terre et rentre dans le jeu... (alles gaan onder die aarde in en keer terug tot die spel.) Wat 'n onvergeetlige reël: L'argile rouge a bu la blanche espèce...
Gosh, dreun die stem weer in my oor, maar Carnecerito (die slagtertjie) de Méjico is 'n onverbeterlike romantikus, hy vergryp hom aan al die klassieke norms van die stiergeveg, nee, hy verkrag deurentyd dié norms. Maar watter moed, que valiente! Domingo Ortega is die beste torero wat hy dusver sien optree het. Wat 'n grasie, elegansie, vernaamheid, begaafheid. Bien jy Domingo op sy stukke, is dit kompleet asof jy 'n beskrywing deur Homerus lees van die Griekse held, Achilles, in aksie. Hy sal my na die eerste corrida neem van die seisoen in die 2000-jaar-oude arena te
| |
| |
Arles vroeg volgende jaar.
Appollinaire is die fynste van lierdigters, 'n moderne troebadoer par excellence.
L'amour s'en va comme cette eau courante...
Et comme l'Espérance est violente...
(Die liefde glip weg soos hierdie lopende water...
Hoe langsaam die lewe tog
En hoe gewelddadig die Hoop...)
Wat 'n musiek tog, dit hou aan met vloei deur jou geheue, rimpel oor die drumpel van jou onderbewussyn...
La joie venait toujours après la peine.
Sous le pont Mirabeau coule la Seine...
(Die vreugde het altyd die smart opgevolg.
Onder die Mirabeau-brug vloei die Seine...)
Alte seker, die kort liriese gedig, Le Pont Mirabeau, het die tema van die Seine of enige stedelike rivier skoon uitgeput vir alle digters na Apollinaire. Maar mens weet nooit met 'n ware digter nie. Hy kan jou ten enige oomblik verras. Of verblind. Of jou met 'n koevoet van 'n hekeldig oor jou kop moker. Nee, sy kop is nie meer omgekrap van gisteraand se dopstekery nie. Hy voel oukei, piekfyn.
En Appollinaire is nie net modern nie, hy's klassiek terselfdertyd - in die singende Franse tradisie vanaf Ronsard of selfs vroeër, ja, vanaf François Villon aan die begin van die vyftiende eeu tot op hede. Ken ek sy La Chanson du Mal-Aimé? Daar's vir jou 'n praggedig, een van die allerbeste van ons tyd. ‘Modern’ verby en met wat 'n singvermoë!
En die groot seedigter, Tristan Corbière, stug, streng, taai, weerbarstig, voortvarend. Nee wat, man, sy hangover is skoonveld. Il s'est volatilisé (Hy't verdampt). Hy voel so reg soos 'n roer. Le vierge, le vivace et le bel aujourd'hui. (Die mooi, die maagdelike en die lewendige vandag)... Weer reg, dis Mallarmé, 'n fabelagtige versreël. Waar haal die digters al hul toorgoed vandaan? En Verlaine, watter suiwer liriese gawe
| |
| |
had hy tog nie, le pauvre Lélian... hy doepa jou sommer met 'n deuntjie. Die Martigues-vistermans het hom geleer wat 'n mens alles met 'n doodgewone ou mosseltjie kan aanvang. Die grote Mistral is sonder twyfel die grootste epiese digter van sy eeu. Hy sal my vanaand 'n mosselgereg voorsit wat my smaak sal streel soos 'n Verlaine-liedjie die oor. Marcel Lalanda, land, maar daar's vir jou 'n uithaler stiervegter! Verlaine...
Roy en ek trek nog altyd gonsend langs daardie nimmereindigende steilte af... Daarom was dit bepaald 'n verligting om 'n rukkie later langs die laatste lang koel gelykte onder die reuseplatane voort te glip en weer die nagtegale hul silwer lied hoog en yl oor ons te hoor uitsprinkel.
Halfnege dié aand het ons met twee vol karba's teruggekeer na die mas, Roy se vrouw, Mary - van 'n donker Spaanse skoonheid, maar onverstoorbaar Engels in haar hele houding en nugter reaksie op Roy se onversaagde uitbundigheid - en hul twee dogtertjies, Teresa en Anna.
Tot kort voor ons vertrek uit Martigues was ons gesprek steeds soos 'n marathon-wedloop - met Roy los voor, gevolg op 'n afstand van 'n paar myl deur drie vissers, 'n Franse aristokraat en beeldhouer, 'n Spaanse huurmotorbestuurder, 'n skoenmaker, leerlooier, voormalige sirkus-hanswors, oud-stiervegter, die plaatslike grafgrawer, 'n Ierse swerwer-kitaarspeler en ek iewers in die middel van dié bonte jockeytrek.
Sonder die prikkeling van 'n dergelike gehoor het Roy se welsprekenheid geen iota of tittel van sy vuur of sy omvang ingeboet nie, het dit aangehou om hemel en aarde en alles wat daarop is te omhels ‘with 'n fine frenzy rolling’.
Die volgende môre - toe die son stralend uit die Middellandse See opstaan om die lang grysgroen kanale van Martigues soos met bloed te laat loop - was Roy en ek, in dié volgorde, nog glad nie uitgepraat nie...
van: Uys Krige; Lea-Girt;
Tweede Strand; Clifton; Kaapstad.
|
|