| |
| |
| |
Uys Krige
Die kersgeskenk
Nog nooit het ek op 'n Kersmôre met so 'n misnoë op die wêreld uitgestaar soos op daardie oggend van die 25ste Desember 1944 nie. In die ingang van die groot tent wat gedien het as 'n Offisiersmenasie vir die Herstellingsdepot - een van die tien tenthospitale in die Cancello-gebied - het ek staan en uitkyk in die rigting van Napels, 'n groot vaal vlek onder die reën tien myl weg na die suidweste. Al meer as 'n weeklank het dit aanhoudend gereën, 'n treurige ou grys drupreëntjie sonder enige skielike vlaag of stortreën om sy eentonigheid af te wissel; maar die reën, het ek gevoel, was geensins die hoofoorsaak nie van die mistroostigheid wat gedurende die afgelope paar dae op my gees en gemoed toegesak het.
Voor my het die lang leë dag uitgestrek. Die reën sou so geduldig soos 'n muis aan die dag bly knaag en ek sou aanhou daaraan knae met my pynlike gedagtes... Die week tevore het kolonel Walker, Bevelvoerende Offisier van die Spesialiteitshospitaal te Napels, my vir ete genooi; maar dit was die vae soort uitnodiging wat 'n mens nie hoef aan te neem as jy nie lus het nie. Ek was nie van plan om te gaan nie. Ek het gehou van kolonel Walker, ek had 'n groot bewondering vir hom as mens sowel as sjirurg - as plastiese sjirurg was hy reeds beroemd - maar op daardie oomblik het die vooruitsig om in my jeep te klim en oor te ry na die hospitaal, 'n gevoel van onuitspreeklike moegheid in my gewek.
Die Spesialiteitshospitaal was 'n maxillo-gelaats- en plastiese operasiesentrum. Dit het die offisiere en manskappe met die ernstige gelaatswonde en brande behandel; en daarheen is gestuur die ergste been-gevalle van die verskeie Italiaanse fronte, selfs vanuit Suid-Slawië. In my hoedanigheid as Hooftandesjirurg van die Depot te Cancello, was ek die afgelope ses maande verantwoordelik vir al kolonel Walker se herstellen- | |
| |
des. Elke Sondag is ek per jeep na die hospitaal om drie of vier pasiënte daar te gaan haal; het hulle, terwyl hulle met gespalkte gesigte lomp en onhandig rondbeweeg, ongeveer twee maande lank by ons vertoef; moes ek hulle dan, na hul mooi verdering gemaak het, vir 'n finale ondersoek na die hospitaal terugneem.
Ons taak by die Depot was: om hul tande skoon te maak en hul spalke te was; om hul diëet dop te hou en te keer dat hulle nie te veel drink nie, want as hulle byv. 'n verkeerde soort vrug sou eet of dronk word, kon hulle maklik opgooi en begin stik; en dan moes ek, of een van my kollegas, inderhaas die drade knip wat die spalke verbind sodat hulle kon siek wees sonder om te verstik. Gedurende die afgelope ses maande, dus, is ek aan die Spesialiteitshospitaal gekoppel, so nie met ‘hooks of steel’ nie, soos Shakespeare dit uitdruk, dan minstens met honderde staalspalke wat die verminkte kakebene van my pasiënte soos 'n ysterklem vasgevat het. Tog, op daardie oomblik kon ek by my geen belangstelling vind vir die hospitaal, wou ek nie eens daaraan dink nie...
Die sifreëntjie het opgehou en ek besluit toe om die heuwel net agter die menasie uit te klim. Op sy kruin het ek in die gruispad stil gaan staan. Daar ver, myle hiervandaan, is die reusagtige bergmassa van Vesuvius uitgewis deur 'n enorme grys-swart wolk wat selfs die dorpies en gehuggies teen sy voorgebergte weggevee het. Regs is die Baai van Baie 'n vuil loodgrys, gespikkel met wit stippeltjies, maar bo Napels het die wolke oopgetrek en staan party geboue baie wit en helder uit kolle sonlig op. Dié blink kolle skuiwe voortdurend heen en weer; en toe ek weer na Napels kyk, staan die hospitaal daar regop en lenig in 'n volmaakte vierkant wit lig.
Waarom, vra ek my af, het jy nie na Rome gegaan wat jy sedert Mei 1934 nooit weer gesien het nie? Al van gister af het jy verlof en dié verlof sal nog vyf dae duur... Gistermôre wou twee van jou kollegas hê jy moet saamgaan Rome-toe, maar jy't bly weier. En toe hulle daarop aandring, het jy half vererg gevra: ‘What do I want to see that junkshop for?’ Maar dit was
| |
| |
natuurlik nie die waarheid nie...
Nou motreën dit weer. Nee, dink ek terwyl ek deur die modder aankruie langs die heuwel af na die menasie, jy verlang nie na Suid-Afrika, jy verlang nie eers vanmôre na jou vrou en kinders nie. Watter geskenk, mag ek vra, verwag jy van die lewe vandag? Dalk sou dit nogal plesierig wees, besluit ek, om 'n akkedissie te wees in die son, of 'n ou krap roerloos iewers op 'n droë strand buite bereik van die gety.
En wat omtrent jóu geskenk vandag aan die lewe, vra ek my af. Die kêrels gaan opsoek, hulle een na die ander op die rug klop, met al die ou gemeenplase voor die dag kom en hulle 'n Gelukkige Kersfees toewens wanneer jy in werklikheid hulle slegs wil toewens om na die hoenders te gaan?
Ek was skaars in die menasie of die telefoon lui. Toe ek die gehoorbuis optel, herken ek onmiddellik dié stadige, diepe stem. Dis kolonel Walker wat my herinner aan sy uitnodiging verlede week. Ons was mos bietjie vaag, hy wou net seker maak.
Ek voel maar 'n bietjie olik, sê ek.
‘Dan moet jy juis kom, ons sal jou opvrolik!’
‘Rêrig, my Kolonel, ek kan nie, ek het werk om te doen.’
‘Skei uit, Malan, ek weet goed jy't 'n week verlof en julle het maar min pasiënte op die oomblik.’
Terwyl ek in die buis inpraat, sien ek die kolonel duidelik voor my - lank en skraal en gladgeskeer met 'n ietsie weg van die Harley Street-sjirurg. Ja-nee, hy sou selfs die telefoonbuis met dieselfde presiesheid hanteer as 'n snyinstrument.
Ek probeer hom flous, maar wegkomkans is min. Ek is egter vastbeslote om hom nie sy sin te gee nie. Omdat hy hom altyd nerfaf werk, hy snags te alle ure sy personeel wakkermaak teneinde op die daad te begin opereer aan die pasiënte wat die vliegtuie inbring van die verkillende vegfronte, plaas dit my onder enige verpligting teenoor hom??
'n Tikkie iesegrimmigheid moes in my stem ingesluip het, want: ‘Maar wat het vanmôre oor jou lewer geloop, ou kêrel?’ vra hy op sy vriendelik-nonchalante
| |
| |
manier liggies vermanend. ‘Seker maar net die weer.. Spring in jou jeep, man, en sny spoor hierheen! Ons Welvaartsoffisier het homself oortref. Jy moet net sien die kos wat hy alles uit sy mou geskud het. Hy het selfs 'n hele trek kalkoene uit die Yanks losgeslaan. En gistermôre het daar 'n trokvol spesiale Rooikruis-pakette opgedaag, die joos weet waarvandaan. En elke pasiënt het minstens een paket van die huis af gekry. C-saal het gisteraand 'n Kersboom gehad... 'n jolige affêre... waar was jy, vriend?’
So gou die kolonel Saal C noem, staan dit so daadwerklik voor my gees - hier in die triestige ou menasietjie - as toe maande gelede ek dit vir die eerste keer binnegestap het. Die saal bevat die hospitaal se ergste gevalle en die kolonel het my daarheen geneem om die Indiër, Ranjat, te sien, wat twee maande tevore op die Bologna-front deur 'n mortier gewond is. ‘Hy het baie opgebring,’ het Walker gesê, ‘en ek kan niet uitvind waarom nie. Sy maag is in orde, kyk bietjie na sy tande...’
Die saal het groot vensters wat 'n uitsig verleen op die baai en Vesuvius in die verte; en die eerste ding wat my getref het toe ek binnestap, was sy sonnigheid. Die ruim, lugtige verpleegvertrek is die ene lig, daardie sonderlinge wit statiese somerlig van die Middellandse See. Maar toe ek die pasiënte sien, vergeet ek die sonlig. Heelparty het 'n arm of 'n been verloor; daar was drie met albei bene af. Een kêrel, met sy bene teen die romp afgesit, lê onder 'n vensterbank waarop 'n erdepot staan met 'n enkel deurskynende Alpeviooltjie daarin.
Ons het voor 'n stewiggeboude jongman gaan staan; en dit was moeilik om langer as net 'n paar oomblikke na sy gesig te bly kyk. ‘Een van ons suksesvolste snyoperasies,’ het die kolonel in sy koel, afsydige stem gesê. ‘Jy moes hom gesien het toe hy hier uit Suid-Slawië aangekom het. Ons moes van vooraf begin, hom feitlik 'n nuwe gesig gegee.’ Ek het van die geval gehoor en ek wis daardie grynsende gelaat was een van Walker se skitterendste prestasies. Die man het aanhou met babbel in 'n hals-oor-kop krom Engels waarvan ek geen sin kon snap nie, terwyl hy sonder ophou wan- | |
| |
staltig glimlag. Dit was 'n paar oomblikke voor ek besef waaraan sy gesig my herinner: een van my seuntjie se blokkiesprente wanneer hy dit niet mooi reg kon inpas nie.
'n Jong Engelsman het in die saal rondgekuier - 'n aantreklike geelkop-seun van ongeveer twintig, minstens ses voet lank met 'n gesonde gelaatskleur en 'n sorgelose houding. Sy linkerarm, vasgeklem deur 'n spesiale soort spalk om sy bors gegespe, het roerloos regop bo sy kop uitgesteek in treffende kontrast met die ratse beweeglikheid van die res van sy liggaam; en die armspalk is verleng deur 'n staalstafie aan die voorpunt waarvan klein beweegbare selluloïede doppies aan die verstyfde vingertoppe met gomlastiekbandjies vasgeheg is teneinde die hand oefening te gee. Die jongman het geen rechterarm gehad nie: kort onderkant die skouer is dit afgesit.
Die Indiër-offisier vir wie ons kom sien het, het agter 'n skerm gelê aan die oorkant van die saal. ‘'n Mortierbom het hom in die gesig getref,’ het die kolonel my tien minute vantevore in sy spreekkamer vertel. ‘Ek dink nie hy sal die paal haal nie. Ons moet hom wysmaak dat hy wel sal lewe, dan het hy miskien nog 'n kans... Ons hou hom al twee maandelank aan die lewe. As ons hom nog twee maande aan die gang kan hou, sal ons miskien 'n verloorplanting kan doen.’
Toe het ons agter die skerm ingestap. Net die Indiër se gesig - en dié was met 'n moeseliendoekie bedek - het bo die komberse uitgesteek. Die kolonel het vooroor gebuig en die doekie opgelig. Waar daar 'n gesig moes wees, was daar net 'n swart holte. Geen oë, geen neus, geen mond, geen lippe nie. Die voorkop is egter onaangeraak en die sterk kakebeen het ál sy ondertande behou. ‘Moet iets anders wees wat verkeerd is,’ het ek kolonel Walker 'n paar minute later meegedeeld, ‘sy tande is in 'n goeie toestand...’
Aan die ander kant van die telefoondraad hoor ek die kolonel sê:
‘Saal C was gisteraand plesierig verby... Daar het selfs 'n vermaaklikheidsgeselskappie opgedaag en die pasiënte het dit vreeslik geniet...’
| |
| |
Nog nooit tevore het ek die kolonel so spraaksaam gehoor nie.
‘...en heelparty het na jou verneem,’ rond hy sy beskrywinkie van die vorige aand se polmesarie af.
Ja, daardie groep mans in Saal C het ek in die afgelope paar maande seer sekerlik leer ken. Anderson, die man wat sy twee bene verloor het, het verbasend vinnig herstel. Net verlede week het hulle hom sy krukke gegee en het ons toe almal sy eerste half-aarselende, half-struikelende ontdekkingstog oor die oop ruimte in die middel van die saal met gespanne aandag staan en aanskou.
En ek het nogal bevriend geraak met die jong Engelsman, Beaumont. Die tipiese bedorwe enigste seun van 'n ryk Engelse familie van die opperste stand, was my gevolgtrekking na ons eerste gesprekkie; maar ek het gou ontdek ek het die bal misgeslaan. Die oorlog mag veel van hom weggeneem het, maar dit het hom ook veel gegee: 'n sekere rypheid van gedagte en gevoel bokant sy jare. En met die Serbiër wat gou die Engelse taal baasgeraak het, kon ek na hartelus praat oor my stokperdjie, die skilderkuns.
Sedert my eerste ondersoek van sy tande, het ek Ranjat slegs vier- of vyfmaal gesien. Dikwels, wanneer ek die saal binnekom, was hulle met hom besig en wou ek hulle nie hinder nie. Spraak was natuurlik vir hom onmoontlik. As 'n mens met hom praat, antwoord hy jou met kort, besliste handgebare. Sy hande was sy lewenskragtigste kenmerk; dit het gelyk of hulle glad niks te doen het met daardie gruwelike gaping nie; en selfs rusbevange was hulle veelseggender as enige hande wat ek nog nooit gesien het.
Op 'n keer het ek hom dopgehou terwyl hy eet. Langs sy bed het suster Bradford gesit, 'n middeljarige vrou met 'n rooi, onaantreklike gesig. Alhoewel sy nooit ophou werk het nie, had sy altyd 'n vriendelike woord en 'n vrolike glimlag vir iedereen; en was sy almal se gunsteling. In Ranjat se mond was daar 'n gomlastiekpypie vasgeheg aan 'n klein swart apparaat soos 'n maagpomp wat suster Bradford met haar regterhand hanteer het; en sy was besig om stadig melk in
| |
| |
daardie beweginglose liggaam te pomp. Na ongeveer tien minute was sy klaar en het Ranjat haar met 'n handgebaar bedank. Toe ek hom weer sien, lees die Serbiër vir hom voor uit 'n boek. 'n Rukkie het ek daar staan en luister na dié diep, afgemete stem met sy vreemde, fassinerende klinkerwendinge. Ondanks sy mismaakte gesig was daar 'n eienaardige dromerige uitdrukking in die man se diepblou oë. Ek het weer stip op die gesig gelet. Dit herinner my bepaald aan 'n lappieskombers... Die boek se naam was Alice in Wonderland.
‘...En ons is aangenaam verras deur die nonne van die Loreto-Klooster,’ hoor ek die kolonel se stem rustig voortvloei oor die telefoon. ‘Herinner my om jou daarvan te vertel as jy hier kom...’
Ek is nog besig om te hink en pink as hy die knoop deurhaak met:
‘Maar moet nou niet onsin praat nie, ou seun, sorg dat jy opdaag. That's an order...!’
'n Halfuur later het ek in my jeep geklim en die gruispad afgery in die rigting van Napels. Die buitewyke was nie so erg nie, maar die middestad nog altyd 'n verskrikking. Weinig van die bomskade is herstel. Straat op straat van verpletterde hol huise, almal 'n vieslike geel kleur. Napels hier het vir my gelyk soos ry op ry van dooie, hol tande... Vedere Napoli e morire... sien Napels en sterf... Waar, maar alte waar, ek was siek, siek tot sterwenstoe van Napels.
So gou ek die netjiese, silwerskoon hospitaal binnegetree het, het ek beter gevoel. En ek het 'n hele ent beter gevoel na die kolonel en ek twee koppies tee in sy kantoortjie op die tweede verdieping klaargedrink het.
Beaumont se vingers wil maar nie loskom nie, het die kolonel my vertel. Die oponthoud is verontrustend. Die behandeling behoort al te geslaag het. Anderson spring al soos 'n kaartmannetjie rond op sy krukke. Gister het hy selfs in die tuin allerlei kapperjolle uitgehaal. ‘Maar ek voel baie bekommerd oor Ranjat. Alhoewel sy longe en maag niks te wense oorlaat nie, lyk dit of hy agteruitgaan.’
| |
| |
Die nonne het blykbaar 'n sterk indruk op die kolonel gemaak daar hy my omtrent hulle begin vertel sonder dat ek hom daaraan moes herinner.
‘Drie van hulle het laat gistermiddag hier aangesit gekom. Die jongste enetjie kon Engels vlot praat. Hulle het van ons grandi mutilati gehoor, en hulle het vir elkeen 'n geskenkie gebring. Elke Loreto-non het 'n sakdoek gemaak, het die nonnetjie, Suor Elvira, gesê, en toe die pakkie in haar hand aan my oorhandig...’
Toe die kolonel stilbly, hoor ek 'n rumoer uit die rigting van Saal C aan die onderent van die gang. Dis mansstemme wat skree; en tussen die geskree deur klink daar voetegestamp op.
‘Dis baie mooi sakdoeke,’ vervolg die kolonel. ‘Lyk vir my die nonne het van die stof gebruik wat hulle spesiaal vir hul gewade aangekoop het. Ek wys die sakdoeke nou-nou vir jou.’
Ek is nie juis lus om op dié oomblik Saal C te besoek nie, maar ek lewer geen kommentaar hierop nie. ‘Daar was drie sakdoeke te min vir die mans, toe het Suor Elvira self drie gemaak. Dit was deksels gaaf van haar om vooraf uit te vind presies hoeveel mans daar in Saal C is.’ Weer het die kolonel opgehou met praat, want die geraas in die agtergrond het intussen 'n bohaai geword.
'n Paar oomblikke lank sit ons doodstil daarna en luister. Dis 'n ware vrolikheid op note: blye uitroepe weerklink; af en toe styg 'n enkele uitbundige kreet hoog bo dié geroesemoes uit; en nou bulder forse mansstemme in 'n koor die woorde van Roll Out The Barrel wat 'n radiogram so pas begin uitdreun het.
As ons die gang afstap, sluit meer stemme aan by die singery. Die kolonel maak die deur oop en ons gaan die saal binne. Die son het deurgebreek, party van die vensters staan wawydoop en die vertrek, behang met papierwimpels, lyk silwerskoon en bly in die sagte môrelig wat dit van end tot end vul. In die verste hoek, naby Ranjat se skerm, staan 'n Kersboompie, opgeluister met gekleurde klokkies, silwer sterre, fonkelpapier en ander versiersels wat glinster in die breë straal sonlig wat oor die boom val en in 'n lang wit
| |
| |
strook oor die vloer lê.
Ek kyk om my. Langs sy bed het elke pasiënt sy Kersgeskenke mooi netjies gerangskik: 'n das, 'n hemp, sokkies, 'n blikkie lekkers, skeergereedskap, boeke, ens.; en daar is skaars 'n hopie sonder 'n sakdoek fyn afgewerk om die soom.
Die eerste man wat ek raaksien, is Anderson. Hy sit op die rant van sy bed, stamp met sy krukke op die vloer op die maat van die musiek en sing Roll Out The Barrel luidkeels. Vlag agter sy kop, in die rooibruin erdepotjie op die vensterbank, wys die Alpeviooltjie, slank, tenger en ingetoë, roserig deurskynend in hierdie helder lig; en agter die viooltjie troon die magtige Vesuvius, nou blou en wolkeloos, teen 'n vlekkelose hemel op.
Die plaat het end gekry, maar iemand het die lewendige deuntjie weer aan die gang gesit. 'n Paar tree van ons af dans die Serbiër met 'n boerse uitgelatenheid, maar tog elegant en maatvas, een van sy nasionale danse. Daar hy blykbaar nie die woorde ken nie, neurie hy die deuntjie, maar hy neurie dit byna net so hard as Anderson dit uitdawer. En hy grynslag van oor tot oor, sy gesig verwronge soos 'n groteske komediemasker.
Almal skop 'n herrie op - deur te sing of te skree of met iets, meestal 'n skoen of 'n stewel, teen die vloer te stamp. Een lang kêrel met 'n winkelhak-wond oor sy regterwang tik-tik met 'n tandeborstel teen 'n glas; en daar's 'n seun wat regop soos 'n laaistok op sy bed met sy vuiste sit en trommel op 'n leë Rooikruisblik.
Nou eers word ek bewus van die oorsaak van al hierdie opgetoënheid. Oorkant die saal tiekiedraai Beaumont, in sy slaappak en kamerjapon, tussen die beddens rond, buig hy oor elke bed om die bed se eienaar sy hand te wys wat nog altyd in die spalk vasgeklem sit. En met sy gesig blosend van vreugde en opgewondenheid skree hy:
‘Hoerê! Hul werk, boetie! Hul werk! Man, kyk bietjie na my vingers! Hul buig! Hul roer, kyk, kyk!’
Dis nie te betwyfel nie, die vingers beweeg, floutjies
| |
| |
miskien, maar tog beweeg hulle terwyl hulle die gomlastiekbandjies styf rek en dan weer laat ontspan. Toe ons die saal afstap, gooi Beaumont 'n wye draai en kom hy na ons aangewals.
‘Hul buig, hul roer, hul sing!’ roep hy steeds die hele wêreld toe. ‘Nou kan ek my skeer, my gesig was! My das self knoop! Lank lewe die onafhanklikheid! Sal suster Bradford nie in haar noppies wees nie?’
Hy is amper op ons voor hy ons gewaar.
‘Thank you, sir!’ juig Beaumont die kolonel toe waar óns drie vlak voor Ranjat se skerm te staan gekom het. ‘U was reg! Heeltemal reg! Soos u altyd reg is! Dankie, dankie duisendmaal vir die present!’ En terwyl hy hom na my wend, sê hy:
‘Een van die dae speel ek weer die klavier, Dok! What price “Chopsticks”? Of die Emperor Concerto? Kyk net na hulle!’ En terwyl hy met sy opgehewe vingers beduie, slaag hy amper daarin om sy vuis te bal. Pieng! hoor ek een van die gomlastiekbandjies morsaf breek.
Met hierdie verheugde gebaar het Beaumont sydelings geswaai. Skielik is hy doodstil, kyk hy oor die skerm. En nou kyk ons aldrie af op Ranjat.
Gestut deur vier groot kussings, sit die Indiër regop in sy bed. Die hare wat gewoonlik in dik swart krulle oor sy voorkop val, is teruggekam en die voorhoof lyk besonder breed bo die doekie. Hy het 'n splinternuwe slaappak aan, donkerblou met 'n goue-en-groen sydraak op elke borssak; en langs hom sit suster Bradford hom en voed uit die pompie. Sy praat saggies met hom, so saggies, dit lyk of haar lippe slegs die woorde vorm, hulle nooit werklik uit nie; en haar gesig straal met so 'n geluk dat ek vir die eerste maal dink sy is mooi.
Ek kyk weer na Beaumont. Hy staar nog altyd met 'n uitdrukking wat 'n mengsel is van ontsag, deernis en skaamte, na Ranjat. Dan gewaar ek waarna hy staar. Nie na Ranjat se gesig nie, maar na sy hande.
Kalm en vreedsaam rus Ranjat se sterk linkerhand op 'n vlamkleurige, fyn-afgewerkte sakdoek terwyl die kneukels van sy regterhand op maat van die
| |
| |
musiek 'n triomfmars afklop op die bedtafeltjie langs hom.
En skielik styg my gees, ken ek 'n vreugde wat ek in geen jare ondervind het nie.
|
|