| |
| |
| |
Uys Krige
Kom, dokter, kom...
Hul sê jy is ons almal goedgesind,
wit, bruin en swart en oud en jonk, man, vrou en kind,
want jy is mos die Kaapse Dokter, kwaai ou wind,
al breek jy ook die akkerboom se sterkste takke af,
al kom jy soos 'n malkop hings hier aangedraf,
als is jy één groot sweep wat sonder ophou striem en sny en straf
want soos jy almelewe net maar waai en waai en waai
terwyl jy duisende derduisende appels van die bome skaai,
waai jy miljoene dodelike kieme in die blou ou Baai.
Jy mag die goue druif bederwe wat bestem is vir die kuip,
jy mag meer skade aanrig as selfs hy wat deur die donker sluip.
Wat maak dit saak? Dis jy wat die kwaai ou siektes in die see versuip.
Al blaas of brul of bulder jy dus ook hoe boos,
jy waak in jou witpak oor ons, Dokter Suidoos.
Daarom verhef ek nou my stem bo joue sonder te blik of bloos.
Wat baat dit om die liggaam skoon te hou, skoon soos 'n boot se kiel,
wanneer die woekerende siektes van die gees, die siel,
eerbied en agting, naasteliefde en trou, tot in die grond verniel?
In hemelsnaam wat was verkeerd? Moet ons ou Kaapse boedel
juis só beredder word? Word alles dan besoedel
deur ons teenwoordigheid? Dié kiem, dié siekte, hierdie plaag, waar orals woed hul?
| |
| |
Is jou vel wit, lê alles, alles, wawyd voor jou oop.
Maar is dit bruin, word alles enger, nouer ja, mag jy nie hiersô staan of daarsô loop,
word jy 'n burger van die Kaap-Hy's-Sonder-Hoop.
Elk Slegs Vir Blankes-bord is soos 'n splinter in ons hart.
Waar kan ons gaan met ons gedagtes vol opstandigheid en gans verward?
Strand-toe miskien? Skreeu al die meeue daar nie dalk: Apart! Apart! Apart!’?
Jul hiet, gebied na hartelus. Gister die trein. Vandag die bus.
En môre wat? Ons woonbuurt? Of die blou blou lug? Dis wet op wet te kus
(maar nie deur ons!) en ja, te keur (deur Blankes slegs). Laat jul ons nooit met rus?
Sê, Dokter Wind, is ons nie mense nie? Of is ons kieme,
smette, swamme, swere, geskik slegs vir die arts se mes, sy steke, prieme?
Dié vloek, dié straf sny deur ons erger as jou sterkste strieme.
Want dié vernedering en dié smaad dag in dag uit bring vroeg of laat
'n diepe grief en daardie grief word weer 'n kankerende wrok, 'n haat
en haat's 'n bose kring, baar haat op haat op haat.
En haat bring vrees en pyn en angs vir hater èn gehate.
Teen haat help niks, selfs nie die beste van ou Boererate.
Is daar 'n geestestoestand op Gods aarde meer verlate?
Dus laat ons, Dokter, nie alleen, verlate in dié pyn, ons wrok, verlore
in diè angs, ons haat. Maar bulder luid, al luider in ons ore
en blaas oor daardie blou ou berg met 'n gegalm van duisend kore
| |
| |
seëvierend... En ruk die vrot ou takke af van al ons hate, wrokke! Vee
die siektekieme van ons algers siele voor jou uit! Ja, sleep hul mee
en smyt hul soos 'n bak vol vullis in die suiwer see!
Opdat hier in ons aller harte, hard en koud en blind en stom,
opnuut, nes 'n Godsgawe self, 'n steggie van die hoop mag blom,
so swak, so tingerig, maar o so fyn, so fraai, so vol belofte! Kom, Dokter, kom...
| |
Woordelys
Kaapse Dokter: benaming vir Kaapstadse Suidooswind |
Skaai: steel. |
Witpak: verwysing na wolkekleed oor Tafelberg wanneer die Suidoos waai. |
Dalk: miskien. |
|
|