De Nieuwe Stem. Jaargang 3(1948)– [tijdschrift] Nieuwe Stem, De– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 3] [p. 3] Uys Krige Vergesig Kruine van koper, klowe van git en teen die verste roosrooi berg 'n dorpie ver en vaag en wit. 'n Tijdelose stilte hier asof die berge bid. Die aand drijf in die helder dag doér hier en daar 'n swarte wig. Maar die reusagtige vallei is één glansende vergesig met tussen mij en daardie dorpie niks as net 'n goue see van lig. Dis of ek in een wêreld staan en uitkijk op 'n ander, want twintig jare is verby en hier, lijk dit, het niks verander. Daar stijg 'n weemoed in mij op langsaam soos 'n silte brander. Nog is die Laeveld één glans, één gloed, die berge God se goue kandelare. Maar waar's die wonder, waar die verrukking van die helder jare, hul wat so hoog gestaan het teen die tijd en toe grond-toe moes neig, net soos die are? Kruine van koper klowe van git. 'n Seun het weggegaan en ver geswerwe. Nou keer hij terug. Net dit. 'n Man bijt deur die skil van sy gedagtes tot in die harde, bitter pit. [pagina 4] [p. 4] Plaashek Bloedrooi die alwijn langs die slingerpad. Dis of daar vonke uit elk vuurpijl spat. Maar niks, niks roer nie... net 'n luggie wat skrams aan die ritselende grassate vat. Daarbo die blou, blou lug, daaronder die rivier wat deur die boorde kronkel met 'n groene swier. Niks stoor die ijle swewende bergstilte hier. Na al die jare maak ek weer 'n plaashek oop. Waar het mij paaie tog nie geloop om mij hier bij 'n hek te bring van al mij waan gestroop, maar met mij denke helder en in mij hart die hoop. Die hek staan in die skad'wee van 'n kremetart. Die stilte in mij's volkome met niks troebels, niks verward. Ek lig die knip... Ek maak 'n hek oop in mij hart. Vorige Volgende