lands, dat dit 'n opmerklike grammatikale vereenvoudiging ondergaan en allerlei buigingsuitgange oorboord gegooi het; dat dit woorde afgekort en saamgetrek het; dat dit 'n aantal nuwe woorde geskep het en 'n aantal woorde ontleen het uit ander tale. Wat veral 'n belangrike rol gespeel het in die vorming van 'n idioom wat afwyk van die stamtaal, was die invloed wat die ander landstaal, Engels, daarop uitgeoefen het. As mens Afrikaans met Nederlands vergelyk, dan merk jy eers hoe anglisisties dit van beeldspraak en sinsbou is. Soms vra iemand my of ek dalk later in Nederlands sal gaan skrywe as ek lank genoeg in Holland bly om die taal goed baas te raak. Dit kan ek my nouliks voorstel. Afrikaans is nie alleen die taal van my bewuswording nie, maar ek voel oortuig dat dit poëties bruikbaarder is as Nederlands, veral vanweë sy groter soepelheid en bondigheid. Die blote feit dat mens gewoonlik 'n aantal lettergrepe minder nodig het in Afrikaans as in Nederlands om presies dieselfde uit te druk, is al prosodies 'n wins. Die Afrikaanse digters het elk op sy eie manier daarby gebaat. Ek hoop dat u, naas die werk van Van Wyk Louw en Dirk Opperman, ook kennis gemaak het (of sal maak) met die merkwaardige Peter Blum. Hy het o.a. die Kaapse kleurlingtaal gebruik om satiriese verse te skryf van 'n skerpsinnige ratsheid wat mens jou nouliks in 'n geykte boeketaal kan indink.
Ek het netnou van bondigheid gepraat. Daar is natuurlik baie soorte digters en baie soorte poësie. My eie voorkeur gaan op die duur al hoe meer uit na 'n gedronge, kernagtige vers wat hom deur 'n geslote vorm niet laat verlam of ontsenu nie, maar wèl laat uitdaag en stimuleer. My lieflingsdigters en diè deur wie ek ongetwyfeld beïnvloed is, is Emily Dickinson, William Yeats, Robert Graves - om my maar te beperk tot die name wat eerste by my opkom. Toe ek as student kennis gemaak het met Dirk Coster se bloemlesing, Nieuwe Geluiden, het daar, om 'n afgesaagde beeld te gebruik, precies 'n hele nuwe wêreld vir my oopgegaan. Dit spyt my dat ek later niet gereelder Nederlands gelees het nie. Frans en Duits lees ek ook, maar hul poësie ken ek maar in toevallige stukkies en brokkies, hoofsaaklik uit bloemlesings.
Ek het opgegroei in 'n Wes-Transvaalse dorpie, naby die grens van Bechuanaland, en het 'n streng Gereformeerde opvoeding gehad. My vader was dominee, en hy het sestig jaar gelede in Amsterdam teologie studeer. My moeder het nooit buite Suid-Afrika gewees nie, maar sy is meer Europees