Nieuw Vlaams Tijdschrift. Jaargang 7(1952-1953)– [tijdschrift] Nieuw Vlaams Tijdschrift– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 926] [p. 926] Lied van die reëndruppel Ek keer terug vir my vlerke, laat my terugkeer! Ek wil sterf, sterwe... weer wees wat ek was weleer. Ek wil weer water wees silwer en blond, silwer onder die helder sterre, blond in die môrestond! Ek wil weer gister word en ek wil môre wees. Ek wil my in my dood uitstort, skenk my my vorm, my vlees! Want die kruik is in skerwe, gebroke die koord, net één drang nog, één droom: die plek van my geboort! Ek keer terug vir my vlerke, terug na my oord... O slaat die slotte stukkend! Gooi oop die poort! Ek het te lank gedool, gedwaal... op dié dowwe drumpel weifel ek. Ek het te ver gesoek, geswerwe... in dié engte tas ek, twyfel ek [pagina 927] [p. 927] verlore... Ek klop, ek roep, ek snik: laat my in! laat my in! Ek wil weer wees wat ek was in die begin. Ek wil weer water wees: 'n helder poel hier aan die krans se voet, silwer en koel tussen sy varings waar geen golwe spoel. Ek wil weer water wees, water wat droom tussen sy beelde roerloos van blom en boom, 'n spieël van stilte sonder gety of stroom met al die onrus gedaan, gedaan die geweld, omring van die kalm berge, die glansende veld. Ek keer terug... laat my terugkeer! Laat my toetree tot hierdie bron van vrede, my tuiste, my stee. Ontvang my, omhels my... o laat my rus van die onrus, die wee. Hier wil ek sterf, hier wil ek lewe weg, vér weg van die see! UYS KRIGE Vorige Volgende