Nieuw Vlaams Tijdschrift. Jaargang 7
(1952-1953)– [tijdschrift] Nieuw Vlaams Tijdschrift– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 353]
| |
[Gedichten van Ernst van Heerden]WinternagGent Die sneeu het alle skerptes uitgewis:
van géwels, nok en skoorsteen; en 'n láát
wit vlok-bestuifde rytuig gly en sis
deur hierdie ongewone stille straat.
Die strakke winterlane is plots gehul
in glinsteringe oor iep en es gesprei,
met alles oornag mollig-rond en gul
tot hierdie wit eenselwigheid herlei.
En elke hart is vroeg reeds ingesneeu,
so vredig-warm by toegeneë vuur;
wie hoor ontroerd nog hoe 'n eensaam meeu
sy honger uitkras bo die buitemuur?
Ek swerf langs lamppaal en geslote hek,
aanskou die maan se ver en kille gang,
verwonder oor die sneeu se glans, soos ek
oorvloedig en vergeefs na jou verlang.
| |
[pagina 354]
| |
Bos-wandelingBelgiese Ardenne Die berke, hulde-kerse
in die bome-katedraal,
staan eenkant in die dwarsskip,
flikker skaars (hier is ook weinig wind).
Hoe traag die lang wit skemering
en lome son wat uur na uur
brandskilder op die gras;
maar later sluit die koepel bo ons
ook die eerste sterre uit;
die dreef is koel en mosbegroei.
Ek wou so graag die parktuin sien,
maar, jammer tog, die hert is dood.
| |
[pagina 355]
| |
VliegtuigritDie koker van die lot
dra hierdie uitverkorenes ver verhewe
bo die voëlsang en landskapgeur;
hoe word ons teëgehou,
terwyl die klein bedryf
daaronder steeds ontvou, ontvou?
Vanwaar die toornige gedruis?
want ronk en arendskadu op 'n koringveld
het skraal en (skynbaar) nutteloos verband.
Die tijd stel agtervolging in,
ruk-pluk soms aan die romp,
en wolke waai my venster teen.
Waar is die son, die mosaïek?
| |
[pagina 356]
| |
Europese reisDie boorde van die vreugde trek
'n oureool van geure om die lig,
oorstelpend hier by berge-sig
en langs die stygende spiraal-trajek.
Ek tel die stede soos 'n rosekrans
langs Seine, Ryn en Po,
en wil bedees neerbuig en glo
aan wat daar spreek uit hierdie stenedans.
Verstaan die vreemdeling wel vreug of smart?
want by 'n slagboom oor die weg
is hy begaan oor geld en reg,
voor grys doeane van die hart.
| |
[pagina 357]
| |
DoolhofMoet ek die draaie tel? Wat links
is word nou regs en andersom;
(het hier 'n ander langs gekom?)
Die web mag roer as ek hier ruk,
maar erts is weinig broos (of hoe?) -
ingang en uitgang ewe toe.
Ek duisel, afgrond-bang en grou,
voel onder hierdie hand
klein vlyme aan die wand.
| |
[pagina 358]
| |
SpeurverhaalDie lyk is in die vlei ontdek,
half onder blare, anderkant die hek
- oop hierdie keer, die ysterhaak gebuig -
(hul soek nog na die moordenaarstuig);
Jy spreek nie meer, jou mond hang bloederig oop,
van meer as geld en eer is jy gestroop;
ek knyp my hande vas en fluister hees:
‘die huis se sleutel moet tog êrens wees’,
spoeg in die sand, die wonder sien gebeur:
yl maanlig vyl my venstertralies deur.
| |
[pagina 359]
| |
StoeiersHier beuk 'n borskas met geweld
teen ribbes waar 'n krag
soos vuurbrand agter tralies uit wil slaan;
hier hyg die oertyd in 'n held
wat beur met draadsterk mag
om vyandsklem en -wurggreep te weerstaan;
(word kwaad met kwaad of goed vergeld?)
O onbeslegte dag:
twee Laokoons se stryd hou ewig aan.Ga naar voetnoot(1)
| |
[pagina 360]
| |
Vlaamse stadEk staan bo die porselein-mense
die poppekas-stad weeg lig
aan dun toue vas aan elke
vinger vasgeknoop
ek sing falsetto
swyg
die blaasorkes maak hierdie steeg
bomvol geluid
my voete tokkel aan
die keisteenstraat hul oë
vra
simfonieë
die Leie is 'n kleurekleed
her- en derwaarts rimpel-flikkering
verby die Recollettenbrug
één eindelose hiëroglief
die vaart ken drukte en rumoer
en kettingklank
daar is 'n kind verdrink
hul sleep met nette snags
maar die vyf verslankte seuns
se fyn ballet-gebaar
het selfs die beiaard laat
versteen
| |
[pagina 361]
| |
en ‘Jezebel’ dring deur gordyn en muur
slaan anderkant die plein
weer vas
en tart die ongeskonde toring-draak
die reën sif orals in
my baldekyn word nat
die goeie fee is dood
en alle vensters dig en koud.
| |
[pagina 362]
| |
Televisie-vertoningEk sien 'n spieëlgestalte roer en uit
die flikkering kom: hy wandel op die meer,
die blindes sien, met palms en groot geluid
gaan hy 'n stadspoort in, 'n derde keer
slaak hy sy tuingebed en roep die haan verraad,
weet hij gelate wat hom nog moet deer:
die spottery van spu, gekroonde haat,
die onafwendbaarheid van lot en lis,
tot op die heuwel daardie laaste daad...
maar bitter is die spons en klein die nis
waarin die saad geberg word; tot die water
van Tibérias met die onverwagte vis
my aan myself herken, en Émmaus later...
ERNST VAN HEERDEN
|
|