Nieuw Vlaams Tijdschrift. Jaargang 3(1948-1949)– [tijdschrift] Nieuw Vlaams Tijdschrift– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 212] [p. 212] Vier gebede by jaargetyde in die Boland I. Vroegherfs Die jaar word ryp in goue akkerblare, in wingerd wat verbruin, en witter lug wat daglank van die nuwe wind en klare son deurspoel word; elke blom word vrug, tot selfs die traagstes; en die eerste blare val so stilweg in die rook-vaal bos en laan, dat die takke van die lang populiere al teen elke ligte môre witter staan. O Heer, laat hierdie dae heilig word: laat alles val wat pronk en sieraad was of enkel jeug, en vér was van die pyn; laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort my waan, tot al die hoogheid eindelik vas en nakend uit my teerder jeug verskyn. II. Uit hierdie ligte herfs Uit hierdie ligte en wye herfstyd straal 'n nuwe, namelose vreug in my dat ek verwilderd deur 'n wêreld dwaal waar dinge daeliks hul vervulling kry: die vleie staan weer soggens vol, en wit van waterblomme; en skeemrings wit soos graan wat die rykheid van veel somerlug besit, kom oor die geel boorde en stoppellande aan. Waarom die smart wat nou weer stilweg skryn, en hierdie preweling van nuwe woorde, dié gemis? Is alle wording pyn, en alle bid die tas van ons verstoorde hart na nuwe name vir die leed van die wondre uitbloei wat hy in hom weet? [pagina 213] [p. 213] III. Winter Nou lê die aarde nagtelang en week in die donker stil genade van die reën, en skemer huise en takke daeliks bleek deur die wit mistigheid en suising heen. Dis alles ryk en rustig van die swaar geheime wasdom wat sy paaie vind deur warm aarde na elke skeut en blaar, en ver en naby alles duister bind in vog en vrugbaarheid en groot verlange; tot ons 'n helder middag skielik sien die gras blink, en die jong graan teen die hange, en weet dat alle rus die lewe dien: hoe kon ek meen dat somer ryker is as hierdie groei se stil geheimenis? IV. Eerste sneeu Die blydskap het oornag soos nuwe sneeu die laagste hellings van my vroeë smart tot skoonheid omgeskep waar elke skreeu soos 'n sweep in die blink lig van die klowe hard en helder klink. Die ronde aarde staan wit oopgekelk en suiwer soos 'n blom - één glinstering waar die nuwe waters gaan; verwagtingloos, want alles het gekom. O hart, sal vreugde hoër gaan, en jy nie sterf? Daar kom in my 'n stil vermoede dat alle lewe só sy volheid kry en heerlik gaan in die rustige dood se hoede; dat jy sal spoel en breek en uitgestort in hierdie wit golf van die vreugde word. Vorige Volgende