Nieuw Vlaams Tijdschrift. Jaargang 2(1947-1948)– [tijdschrift] Nieuw Vlaams Tijdschrift– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 169] [p. 169] Laatste heiden Toe die eerste los bui oor die blare val was die vreugde daar, die kinders het mal in die reën gespeel en diep in hul longe die klam lug gesnuif of koel op hul tonge die druppels laat breek; die oues teen bome het stiller gekyk hoe dampe afstoom van kors-droë klippe en talmend opstyg langs die stamme, die blaarlose twyg; die reën het gekom, die reën na die roep van korhaan en deur nagte aaneen die paddas en kriekies. Maar later toe die druppels deur die rooi hibiskuskelke en piesangblare skeur, en uit die watervlies rysmiere twee-twee tou teen stele gras en aan die hoogste stengels klou, toe sterk fonteine orals uit die splete borrel, erdwurms slymrig boontoe kruip, die eerste korrels hael die wildevy en -dadel saai, die vlerkie breek sodat die bruinpatrys dit spring-spring langs hom sleep, bosbokke na mekaar toe draf en bulk en stom gaan staan in halwe kringe en met rûe krom teen wrind; die wolke krys en met geel kloue bome uit die aarde ruk, was elke kind en vrou en agter al die kalmte elke man bevrees vir die ongekende toorn van die Watergees. [pagina 170] [p. 170] En hy, die leier van die heidense ras, wat die taaiste en ook die slimste was, het onrustig gepeins: Is dit ons te wagte na al die gevegte, die besittings en nagte van fees en van vrou? Is dit nà die spot tog die ‘uitverkore groepie’ se God wat in slypende wind en verblindende mis ons begeertes met weerlig en hael uitwis en die waters waarna ons so hyg bo die mes se kerf teen die stam laat styg? Is dit nou die wraak van die aardse dinge wat ons jaag met 'n haat na die hemeltinne? Agter ons in takke van die bome vasgekeer spring die wildekat en apies klaend heen en weer; maar uit bosse voor die waters wat ons volg, maanhaarleeu en kalf, duikerlam en wolf, vinnig voor 'n Herder, één kudde teen die bult, draf ons langs mekaar, wedersyds geduld; wedersyds geduld, leeu en lam, deur die nood één draf ons oor die klippe, draf ons deur die reën, draf ons langs mekaar, Sy kudde aangehits met wit swepe na die hoogste spits. Maar nou groei die haat om die vinnigste klim in Sy guns na die Rots, die enigste kol wat vannag in genade sal bly; en ek gryp my mes teen die steilte en sny en steek my pad langs die hygende flanke oop dat ek vryer kan trek aan die wortels en loop oor die lys na die Rots; en my kierie die klink teen kneukels en koppe wat een vir een sink terug deur die reën en rol en ingly slap in die waters wat wyer en kwaaier uitsprei waar die voëls moeg en honger in klompe neerstort in die donker of tjulp op drywende stompe. U stroom groot en grys om die klip en die wêreld bly slegs 'n enkele stip in U roering en kolk - laat vannag het ek [pagina 171] [p. 171] die laaste kriekie met my hand gedek - en nou dat dit rooi oor die waters skyn en 'n walvis spuit soos 'n kleinvis verdwyn ken ek U eers: U is gloed, U is groot, U is groot, 'n malende vloed. Al was ek op aarde U sterkste mens tot die end... Maar die blink sens van die golwe maai oor die rots en alles bly stroming en grootse geklots van diep branders buite U Ark van Genade... en wat is die mens, en wat is sy dade sonder U? Ek spartel in seë, o God, snik in U branding, sink tot slik. Toe breek uit nastuiwende wolke hoog en diep in die waters 'n groot reënboog. D.J. OPPERMAN. Vorige Volgende