Internationale Neerlandistiek. Jaargang 2014
(2014)– [tijdschrift] Neerlandica extra Muros / Internationale Neerlandistiek– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 3]
| |||||||||||||||||||||||||||
Die rol van Nederland in die transnasionale beweging van enkele Afrikaanse skrywers
| |||||||||||||||||||||||||||
Afrikaanse skrywers binne die konteks van die transnasionaleDie Suid-Afrikaanse kortverhaalskrywer S.J. Naudé, wat in 2011 sy debuut gemaak het met die kortverhaalbundel Alfabet van die voëls, is in 'n onder- | |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 4]
| |||||||||||||||||||||||||||
houd by die verskyning van sy boek uitgevra oor sy besluit om sy loopbaan as regsgeleerde in Londen te beëindig en terug te keer na Suid-Afrika om 'n Afrikaanse skrywer te word. Volgens hom was sy Londense vriende verbyster oor sy keuse om hom te wy aan ‘'n marginale taak in 'n marginale taal op 'n marginale plek’ (Rautenbach 2011, p. 3). Alhoewel Naudé gelyk het oor die marginaliteit van die Afrikaanse letterkunde en die Afrikaanse taal, is dit tog so dat sommige Afrikaanse skrywers wel daarin slaag om buite die grense van Afrikaans en die land Suid-Afrika bekend te word en binne 'n transnasionale ruimte te funksioneer. Hierdie artikel is 'n verkennende ondersoek na enkele aspekte van hierdie proses. Alhoewel die begrip transnasionalisme 'n heel spesifieke betekenis het binne die sosiale wetenskappe, waar dit veral verwys na die ekonomiese, sosiale en politieke verbindinge tussen mense, plekke en institusies oor die grense van nasionale state heen (vergelyk Vertovec 2009, pp. 1-26), word dit dikwels binne die letterkunde-studie verweef met verwysings na die begrippe wêreldletterkunde, kosmopolitiese letterkunde en postkoloniale letterkunde wat elkeen 'n manier bied om te kyk na die beweging van literêre tekste oor nasionale grense heen.Ga naar eind1. Waar sosiaal-wetenskaplikes se omskrywing van die begrip transnasionalisme redelik neutraal is, word die begrip wêreldletterkunde onder andere verbind met die normatiewe idee van die bereiking van 'n bepaalde standaard wat toegang tot 'n transnasionale kanon moontlik maak. Volgens David Damrosch (2003, p. 15) huiwer die debat oor definisies van die begrip wêreldletterkunde tussen drie algemene opvattings daarvan: die wêreldletterkunde as 'n vasgestelde korpus van klassieke tekste, as 'n steeds-ontwikkelende kanon van meesterwerke of as 'n veelvoud van vensters op die wêreld. Self verkies hy om die begrip te omskryf as 'n verwysing na ‘all literary works that circulate beyond their culture of origin, either in translation or in their original language’ (Damrosch 2003, p. 2).Ga naar eind2. Binne elkeen van bogenoemde velde word daar verwys na die rol wat verskillende soorte magsverhoudings, naas 'n verskeidenheid ander faktore, speel in die beweging van literêre tekste oor nasionale grense heen en hulle opname in internasionale kanons. Casanova (2003) wys byvoorbeeld in haar literêr-sosiologiese studie oor die wêreldrepubliek van die lettere op die diepgaande ongelykhede in hierdie republiek wat volgens haar tekening daarvan Parys as hoofstad het. Daar word ook dikwels gewys op die gevare van eenselwigheid en homogenisering. Daar is byvoorbeeld al gesê dat die wêreldletterkunde die gevaar loop om monoglossies te raak en veral 'n Angel-saksiese model op die wêreld af te dwing eerder as wat dit Goethe se oorspronklike ideale van literêre verkeer tussen tale, interkulturele begrip | |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 5]
| |||||||||||||||||||||||||||
en die idee van 'n universele samelewing in stand hou (Jusdanis 2003, pp. 109-110). Dit is veral die letterkundes in Engels en Frans wat 'n groot impak en statuur binne die wêreld het vanweë die uitgebreide linguistiese netwerke wat dit opgebou het, die ekonomiese en politieke mag van die hede en verlede, die prestige van hulle literêre tradisies en die impak van hulle kulturele industrieë. Daar is dus die gevaar dat die begrip wêreldletterkunde as gevolg van hierdie hegemonieë uiteindelik slegs sal verwys na die letterkundes van Noord-Amerika, Wes-Europa en hulle kolonies (Jusdanis 2003, p. 123). Ook binne die konteks van die postkoloniale studie word daar verwys na die feit dat die teorie van die postkolonialisme gebou word rondom die tekste van 'n klein groepie skrywers wie se werk in Engels sirkuleer, terwyl postkoloniale literature in ander tale nie in die wêreldwye kanon van die postkoloniale literatuur verreken word nie (Menon 2010). Dit is teen hierdie agtergrond wat Françoise Lionnet en Shu-meih Shih (2005, pp. 5-11) argumenteer vir wat hulle 'n ‘minor transnationalism’ noem. Vir hulle is dit belangrik dat die transnasionalisme onderskei word van globalisering. Wat hulle betref, is die logika van globalisering tegelyk sentripetaal en sentrifugaal: dit neem die vorm aan van 'n universele kern of norm wat oor die wêreld versprei en dan ander kulture intrek om getoets te word aan daardie norm. Hierteenoor verkies hulle om transnasionalisme so te definieer dat dit 'n ruimte van uitruiling en deelname is waarin dit moontlik is vir kulture om geproduseer te word sonder die mediëring van 'n sogenaamd universele sentrum. Hulle definisie gee erkenning aan die feit dat transnasionalisme deel uitmaak van die proses van globalisering, maar ook dat dit op ander maniere en meer verspreid kan voorkom as wat bogenoemde beeld van sentripetale en sentrifugale kragte suggereer. As sodanig is die transnasionale nie gebonde aan die binêre opposisie tussen die lokale en die globale nie, maar kan dit voorkom in 'n verskeidenheid van lokale, nasionale of globale ruimtes en versprei wees oor verskillende ruimtes en tydperke. Hierdie siening van die transnasionale skep ruimte vir 'n ondersoek na die spesifieke besonderhede van bewegings oor nasionale grense heen en tussen tale wat nie noodwendig gekoppel is aan die magtige metropolitaanse sentrums van die wêreld nie. Dit is dus belangrik om in 'n bespreking van die transnasionaliteit van die Afrikaanse letterkunde ook hierdie siening in ag te neem en jouself af te vra in hoe 'n mate die transnasionale beweging van Afrikaanse skrywers opgevang is in 'n beweging na Europese en Anglo-Amerikaanse sentra en in watter mate daar ook sprake is van 'n ‘minor transnationalism’ waarin daar beweeg word na ander tale en letterkundes binne Suid-Afrika. | |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 6]
| |||||||||||||||||||||||||||
Die taal Afrikaans se historiese verwantskap met Nederlands kom ook hier ter sprake: aan die een kant skep Nederlands vir Afrikaans die moontlikheid van toegang tot die Europese wêreld waarvan dit deel uitmaak, maar aan die ander kant word Nederlands ook deur Casanova (2004, p. 256) getipeer as 'n klein taal wat in die verlede 'n belangrike tradisie gehad het maar nie meer 'n groot speler in die wêreld se literêre markplek is nie. Die beweging van Afrikaanse skrywers na Nederland verteenwoordig dus 'n besondere vorm van transnasionalisme: aan die een kant is dit 'n ‘vertikale beweging’ tussen 'n marginale letterkunde en 'n Europese sentrum; aan die ander kant kan dit ook gelees word as 'n ‘laterale’ beweging tussen 'n marginale letterkunde en 'n letterkunde wat deel vorm van die Europese sentrum, maar nie noodwendig 'n sentrale rol daarin beklee nie. Wanneer Buelens (2012, p. 34) skryf oor die verbande tussen die Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse literêre sisteme, beklemtoon hy ook bogenoemde ‘vertikale’ of hiërargiese verhoudinge deur die Nederlandse sisteem te tipeer as ‘de grote broer’, die Vlaamse as ‘de middelste broer’ en die Afrikaanse as ‘het kleinste broertje’. In die lig van bogenoemde bepaal ek my by die vraag na die wyse waarop die letterkunde in Afrikaans as ‘'n marginale taal in 'n marginale land’ deel het aan 'n transnasionale beweging oor grense heen en die rol wat kontak met Nederland in hierdie proses gespeel het (die rol van Vlaandere is materiaal vir 'n verdere ondersoek). Ek fokus verder op die rol van taal, die impak van genre, die aansluiting by transnasionale intellektuele diskoerse en literêre strominge, die belangrikheid van politieke faktore en die spanningsverhouding met die nasionale. Ek bepaal my by die werk van 'n vyftal steeds aktiewe Afrikaanse skrywers wat internasionale aansien het en ook bekend is in Nederland, naamlik André Brink, Breyten Breytenbach, Etienne van Heerden, Antjie Krog en Marlene van Niekerk. By die keuse van die vyftal skrywers wat ek hierbo noem, het ek my laat lei deur dié mate waarin hulle loopbane gekenmerk word deur elemente wat gesien kan word as 'n aanduiding van 'n bepaalde literêreGa naar eind3. status in die transnasionale domein, soos die aantal vertalings van hulle werk, resensies in invloedryke dag- en literêre blaaie buite Suid-Afrika, vermeldings in die internasionale media, nominering vir internasionale literêre pryse, akademiese studies oor hulle werk in die transnasionale domein, erkennings soos eredoktorsgrade, uitnodigings om buite Suid-Afrika op te tree, goedkeuring deur ander skrywers van wêreldstatuur, die aanwesigheid van hulle tekste op lyste van die 10 of 100 beste boeke van 'n bepaalde tyd of streek, ensomeer. 'n Mens moet onmiddellik byvoeg dat hierdie tekens van literêre status nie slegs bepaal word deur literêre voortreflikheid nie, maar ook deur buite-literêre | |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 7]
| |||||||||||||||||||||||||||
faktore. 'n Mens sou byvoorbeeld 'n hele aantal name van voortreflike Afrikaanse skrywers kon noem wat nié op dieselfde wyse sigbaar is in die transnasionale domein nie. Die vyf skrywers wat ek hier bespreek, is ook deur verskillende personeGa naar eind4. uitgesonder as tans die mees prominente Afrikaanse skrywers in Nederland. Hiernaas is daar 'n hele aantal ander Afrikaanse skrywers wie se werk ook in Nederlands vertaal is en in die Nederlandstalige wêreld bekend is (Karel Schoeman, Wilma Stockenström, Ingrid Winterbach. Eben Venter, Dalene Matthee, Marita van der Vyver, Riana Scheepers, Dan Sleigh, Annelie Botes, E.K.M. Dido, Ronelda Kamfer, Deon Meyer, Irma Joubert en Karen Brynard), maar wat nie op dieselfde wyse sigbaar is in die transnasionale domein buite Nederland nie. Ek fokus dus hoofsaaklik op aspekte van hierdie vyf skrywers se loopbane om die rol van Nederland in die transnasionale beweging van Afrikaanse skrywers te belig. | |||||||||||||||||||||||||||
Die Afrikaanse letterkunde binne Suid-AfrikaTen einde die transnasionale beweging van genoemde Afrikaanse skrywers te beskryf, moet daar eers enkele opmerkings oor die posisie van die Afrikaanse letterkunde binne Suid-Afrika gemaak word. Alhoewel daar meningsverskille is tussen literatuurhistorici oor presies waar die beginpunte van die Afrikaanse letterkunde lê (vergelyk Van Coller 2012), is daar redelike eenstemmigheid daaroor dat die ontwikkeling van Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde vanaf die laat negentiende eeu verbind was met die nasionalistiese strewes van wit Afrikaners wat gevoel het hulle is onderdruk deur die Nederlandse en Britse kolonialisme. In die periode vanaf die einde van die Anglo-Boereoorlog in 1902 tot met die erkenning van Afrikaans as offisiële taal in 1925 ontwikkel die Afrikaanse letterkunde wel in samehang met die ontluikende Afrikanernasionalisme (vergelyk Hofmeyr 1987). In hierdie opsig korrespondeer dit met ander postkoloniale letterkundes wat in opstand gekom het teen koloniale oorheersing en daarna deur 'n sterk nasionalistiese fase gaan (vergelyk Brink 1991). Dit is egter ook in hierdie periode dat Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde toenemend so gedefinieer is dat dit die bruin sprekers van die taal gemarginaliseer het. In hierdie opsig het wit Afrikaners dus opgetree as koloniseerders van die ander rasse in Suid-Afrika, ook van die bruin Afrikaans-sprekende bevolking vir wie hulle op grond van ras uit hulle definisie van die Afrikaner en Afrikanernasionalisme uitgeskryf het. | |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 8]
| |||||||||||||||||||||||||||
Alhoewel dit 'n oorvereenvoudiging van komplekse prosesse is, kan 'n mens beweer dat die Afrikaanse letterkunde vanaf die sestigerjare sigself geleidelik begin losmaak het van 'n gedienstigheid aan die Afrikanernasionalisme (elemente hiervan is reeds vroeër merkbaar in die werk van Uys Krige, Jan Rabie en Peter Blum). Die literêre debute van skrywers soos André P. Brink en Breyten Breytenbach lui 'n fase in waarin skrywers toenemend in hulle werk begin protesteer teen politieke onderdrukking deur die Afrikanernasionalistiese regering en selfs meer as in die verlede aansluiting soek by 'n ruimer literêre en intellektuele tradisie, veral die Europese. 'n Mens sou selfs kon praat van 'n anti-hegemoniese fase in die Afrikaanse letterkunde wat al hoe sterker word na die Soweto-opstande van 1976.Ga naar eind5. Die verandering van die Suid-Afrikaanse politieke landskap in 1990 deur die ontbanning van die ANC en die vrylating van Mandela sowel as die oordrag van politieke mag met die eerste demokratiese verkiesing in 1994, het gelei tot die herposisionering van die Afrikaanse letterkunde binne die groter Suid-Afrikaanse konteks. Afrikaans was nie meer een van twee amptelike tale in die land nie, maar een van elf amptelike tale met Engels wat steeds meer die rol van lingua franca en de facto amptelike taal in die land vervul. Die Afrikaanse letterkunde wat tot op daardie punt 'n aansienlike tradisie en robuuste literêre sisteem opgebou het, moes nou sy plek inneem naas die ander letterkundes in die land en 'n ruimte vind binne die konteks van 'n veeltalige en multikulturele Suid-Afrikaanse nasie. Alhoewel die Afrikaanse letterkunde dus in sy vroeë ontwikkelingstadiums ten minste ten dele 'n nasionalistiese letterkunde genoem sou kon word, was dit nooit die nasionale letterkunde van Suid-Afrika nie omdat dit maar een van die letterkundes in 'n veeltalige land is. Die idee van 'n nasionale Suid-Afrikaanse letterkunde word trouens algemeen bevraagteken. Attwell en Attridge (2012, p. 2) beweer naamlik: ‘the country's literary range is so extensive that it places the idea of a national literature in question’. Alhoewel die term Suid-Afrikaanse letterkunde wel in omloop is, word die situasie op grondvlak gekenmerk deur diversiteit en selfs fragmentering (Olivier 1995, p. 38). Die interaksie tussen die verskillende letterkundes en letterkundige sisteme in Suid-Afrika is dus nie so uitgebreid en algemeen as wat 'n mens sou verwag nie. Dit is waarskynlik die resultaat van 'n gebrek aan kennis van meerdere Suid-Afrikaanse tale by talle sprekers, die wantroue en geringskatting van sommige tale en die institusionalisering van die letterkunde-studie in universitêre departemente wat fokus op die letterkunde in 'n enkele taal eerder as op vergelykende studies. By die vraag oor die transnasionaliteit van die Afrikaanse letterkunde kan daar dus ook gevra word of die Afrikaanse letterkunde binne Suid-Afrika | |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 9]
| |||||||||||||||||||||||||||
buite sy eie taalgrense beweeg het. 'n Voorlopige antwoord sou wees dat die Afrikaanse letterkunde in die loop van tyd sterker aansluiting gesoek het by die Nederlandse, Duitse, Engelse en Franse literêre tradisies as by die ander letterkundes in Suid-Afrika. Dit is wel so dat heelwat Afrikaanse werke in vertaling die skuif na die Engelse literêre sisteem in Suid-Afrika maak. In talle gevalle gebeur dit met 'n omweg, soos wat blyk uit die volgende uitspraak van Etienne van Heerden (2007): [...] die Afrikaanse skrywer moet by wyse van vertaling na Engels en internasionale blootstelling 'n posisie binne die Suid-Afrikaanse kultuurlewe bekom. Almal is dit nie beskore nie. Soos met baie literature word net 'n hand vol skrywers na Engels vertaal. Wanneer jy vertaal is, is dit dikwels 'n moeilike reis van ontheemding na 'n soort ongemaklike stieftuiste. [...] So raak die grense losser, en dit sal interessant wees om hierdie spel tussen 'n Suid-Afrikaanse Engelse literatuur (verlore aan die suidpunt van Afrika) en 'n sterk, onrustige en hardnekkige Afrikaanse literatuur dop te hou. Heelwat werke deur Afrikaanse skrywers (soos byvoorbeeld Karel Schoeman, Breyten Breytenbach, André Brink, Antjie Krog, Marlene van Niekerk, Ingrid Winterbach, Eben Venter en andere) wat óf vertaal is óf oorspronklik in Engels geskryf is, word opgeneem in die kurrikula van Departemente Engels in Suid-Afrika, is die onderwerp van akademiese studies deur nie-Afrikaanssprekende literatore en word bekroon met literêre pryse vir werke in Engels. Geskiedenisse van die Suid-Afrikaanse literatuur, soos dié van Chapman (1996, 2006) en Heywood (2004), sluit ook die Afrikaanse literatuur in, al is dit dan volgens heelwat Afrikaanse literatore op onbevredigende wyse.Ga naar eind6. Attwell en Attridge se multi-outeur literatuurgeskiedenis The Cambridge history of South African literature (2012) getuig ook van 'n poging om al die letterkundes in Suid-Afrika op te teken en in gesprek met mekaar te laat tree. As gevolg hiervan volg sommige van die hoofstukke in The Cambridge history of South African literature 'n vergelykende benadering tot Suid-Afrikaanse tekste in verskillende tale. Die Afrikaanse letterkunde se uitwisseling met die letterkunde in die ander inheemse tale in Suid-Afrika is egter beperk, sodat daar nouliks sprake is van die soort uitwisseling tussen klein letterkundes wat deel uitmaak van dit wat Lionnet en Shi as ‘minor transnationalism’ beskryf. Daar is 'n aantal Afrikaanse skrywers wat tematiese en stilistiese elemente uit Suid-Afrika se ander inheemse tale en kulture in hulle werk integreer, soos Alexander Strachan, Riana Scheepers, E.K.M. Dido en Antjie Krog. | |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 10]
| |||||||||||||||||||||||||||
Antjie Krog se vertaling van die belangrikste gedigte uit die ander inheemse tale van Suid-Afrika na Afrikaans in die bundel Met woorde soos met kerse (2002) is 'n poging om die literêre produkte in inheemse tale bekend te stel in Afrikaans. Afrikaanse literêre werke is vertaal in ses van Suid-Afrika se inheemse tale, maar in die meeste gevalle is dit slegs enkele werke en dateer hulle uit 'n vroeër tyd (vergelyk Toerien 1998). | |||||||||||||||||||||||||||
Die rol van taal en genre in die transnasionale beweging van Afrikaanse skrywersVir Afrikaanse skrywers speel taal 'n deurslaggewende rol in die moontlikheid van toegang tot 'n transnasionale ruimte. Vir die skrywers van 'n klein taal soos Afrikaans is vertaling essensieel vir toegang tot die transnasionale domein. Volgens Barend Toerien se Afrikaans literature in translation (1998) is Afrikaanse literêre tekste in 43 tale vertaal. Die meeste vertalings is na Engels en daarna in dalende volgorde na Nederlands, Duits en Frans. Dit is nie vreemd dat vertaling in Engels en Nederlands die belangrikste opsies vir Afrikaanse skrywers van literêre tekste is nie. Afrikaans het ontwikkel uit die Nederlands van die eerste Europese setlaars in Suid-Afrika en vir die grootste deel van sy geskiedenis naas Engels gefunksioneer. Die studies van Van der Ree (1996), Van den Bergh en Doeleman (2000) en Venter (2002) toon aan dat daar vanaf die negentigerjare van die vorige eeu 'n merkbare toename in die aantal vertalings van Afrikaanse literêre tekste in Nederlands was. Casanova (2003, pp. 257-258) wys daarop dat skrywers in klein tale met 'n jong tradisie se verhouding met hulle taal dikwels moeilik en kompleks is. Hulle moet kies tussen die opsie van vertaling, self-vertaling of skryf in 'n ander taal wat hulle mag afsny van hulle taalgenote enersyds en die opsie van terugtrede in 'n klein taal wat hulle beperk tot 'n bestaan binne nasionale grense andersyds. Dit is dan ook die geval in Afrikaans: onder die druk van politieke sensuur kies André Brink reeds vroeg in sy loopbaan om sy romans self te vertaal en mettertyd gelyktydig in Afrikaans en Engels te skryf; beide Breyten Breytenbach en Antjie Krog besluit om verskillende redes om van hulle belangrikste werk slegs in Engels te publiseer (vergelyk Breytenbach se The true confessions of an albino terrorist en Antjie Krog se Country of my skull). In beide gevalle doen hulle egter moeite om hulle tekste in 'n Afrikaans-klinkende Engels te skryf of te vertaal sodat die merk van hulle moedertaal Afrikaans in die Engels sigbaar en hoorbaar bly. | |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 11]
| |||||||||||||||||||||||||||
Die beduidende rol wat genre speel in skrywers se toegang tot die transnasionale domein, blyk wanneer 'n mens Afrikaanse skrywers se toetrede tot die Nederlandstalige literêre wêreld vergelyk met hulle toetrede tot die Engelstalige literêre wêreld. Indien gekyk word na die Afrikaanse skrywers en tekste wat toegang tot die internasionale domein en 'n verskeidenheid tale gekry het, blyk dit dat die waarskynlikheid groter is dat prosatekste (in die vorm van romans en outobiografiese fiksie) buite Afrikaans bekend sal raak as poësie. Dit mag wees omdat die roman en outobiografiese fiksie meer toeganklik en populêr is as die poësie wat 'n beperkte gehoor het; ook vanweë die feit dat poësie moeiliker vertaalbaar is as prosa as gevolg van die kompleksiteit van poëtiese taalgebruik. Die sterk raakpunte tussen die tale Nederlands en Afrikaans beteken wel dat Afrikaanse digters 'n groter kans het om toegang tot die Nederlandstalige literêre toneel as tot die internasionale toneel in tale soos Engels, Frans en Duits te kry. Daarvan getuig die feit dat 'n Afrikaanse digter soos Elisabeth Eybers 'n besondere statuur in Nederland verwerf het ten spyte van die feit dat sy in Afrikaans bly skryf het ná haar verhuising na Nederland, maar nie werklik bekend geraak het in ander tale nie. Breytenbach is die enigste Afrikaanse digter van wie bundels in verskillende internasionale tale vertaal is; selfs Krog se bundels is slegs in Engels en Nederlands vertaal. Die subsidiebeleid van die Nederlandse en Vlaamse vertalersfondse en die interaksie deur middel van werkwinkels vir vertalers dra waarskynlik ook daartoe by dat Afrikaanse digters meer gereeld in Nederlands vertaal word as in ander tale. Daar is ook 'n ruim aantal Afrikaanse digters wat 'n mate van blootstelling verwerf in die Nederlandstalige konteks deurdat hulle genooi word om op te tree by literêre geleenthede (vergelyk Wilma Stockenström, Gert Vlok Nel, Ronelda Kamfer, Danie Marais, Charl-Pierre NaudéGa naar eind7.), maar nóg binne Suid-Afrika nóg binne die groter wêreld deurdring tot nie-Afrikaanse gehore. Vir Afrikaanse digters bied Nederlands en die Nederlandstalige wêreld dus wel 'n unieke geleentheid om toegang te kry tot 'n groter gehoor as net die Afrikaanstalige. | |||||||||||||||||||||||||||
Die rol van Nederland in enkele Afrikaanse skrywers se transnasionale loopbaneVan Coller en Odendaal (2005) gee 'n chronologiese oorsig van die wisselende verhouding tussen die Afrikaanse en Nederlandse literêre sisteme vanaf die koloniale era tot aan die begin van die 21ste een. Hulle wys enersyds op die vrugbare interaksie en uitwisseling in sekere periodes (veral tussen 1934 en | |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 12]
| |||||||||||||||||||||||||||
1955), maar beklemtoon ook andersyds dat die Nederlandse sisteem nooit op dieselfde wyse beïnvloed is deur die Afrikaanse sisteem as wat omgekeerd die geval was nie en dat daar veral vanaf 1955 tot 1989 om politieke redes 'n sterk afwysende houding vanaf die kant van die Nederlandse teenoor die Afrikaanse sisteem was. Interessant genoeg is dit juis in hierdie periode en politieke klimaat dat Nederland die ruimte verskaf waarin sommige van die genoemde Afrikaanse skrywers hulle eerste toetrede tot 'n transnasionale ruimte maak. Ek skets vervolgens die breë buitelyne van die vyf skrywers onder bespreking se transnasionale loopbane en die rol wat Nederland daarin gespeel het. André Brink is die Afrikaanse skrywer wie se werk in die meeste tale (dertig altesaamGa naar eind8.) vertaal is en wat op die hoogtepunt van sy loopbaan in die laat sewentiger- en vroeg tagtigerjare van die vorige eeu waarskynlik die grootste internasionale sigbaarheid verwerf het. Reeds in 1964 vertaal Brink sy tweede ‘literêre’ romanGa naar eind9. Die ambassadeur in Engels en word dit in Suid-Afrika gepubliseer as The ambassador (dit verskyn in 1967 by Longmans in Londen as File on a diplomat). Die eerste vertaling van 'n Brink-roman in Nederlands verskyn in 1966, naamlik K. Maartense se vertaling van Brink se eerste ‘literêre’ roman Lobola voor het leven (wat tot dusver nog nie in Engels vertaal is nie). Na aanleiding hiervan verskyn daar 'n berig en 'n vraaggesprek met Brink in die Nederlandse pers waarin hy verklaar dat hy gekant is teen enige regime en dat hy as Suid-Afrikaanse skrywer 'n bepaalde kulturele en politieke plig het. Volgens Borowska (2011, p. 79) bepaal hierdie eerste inset die Nederlandse beeld van Brink as polities betrokke skrywer vir die volgende veertig jaar alhoewel daar later meer krities oor die literêre gehalte van sy werk geoordeel word. Brink is die eerste van die skrywers hier onder bespreking wat die Reina Prinsen Geerligsprys verower en wel in 1965 vir Lobola vir die lewe en Die ambassadeur. Hierdie prys is in 1946 ingestel ter nagedagtenis van Reina Prinsen Geerligs wat in die Tweede Wêreldoorlog omgekom het en is vanaf 1945 tot 1979 jaarliks toegeken aan skrywers tussen die ouderdom van 20 en 25 jaar. Die Reina Prinsen Geerligsprys vir Suid-Afrika is in 1952 ingestel vir outeurs tot 30 jaar oud en die beoordeling is gedoen deur 'n jurie van Suid-Afrikaanse skrywers en literatore (vergelyk Michaël, Raaf & Hoekman 1986, pp. 167-170, 181-182). Brink se groot deurbraak in die internasionale wêreld kom met die roman Kennis van die aand wat in 1973 in Afrikaans verskyn en die eerste Afrikaanse literêre werk is wat in Suid-Afrika ingevolge die sensuurwet verbied word. Sy Britse uitgewer W.H. Allen maak reklame vir die Engelse vertaling Looking on darkness in 1974 deur daarna te verwys as ‘the novel that scandalized white South Africa’ (McDonald 2009, p. 106). Dit is ook | |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 13]
| |||||||||||||||||||||||||||
die eerste Brink-roman wat in Frans vertaal word en wel as Au plus noir de la nuit in 1976. Hierna word Brink wêreldwyd bekend as polities betrekke skrywer, 'n etiket wat hy reeds vroeër in Nederland verwerf het soos hierbo genoem. Die feit dat Brink reeds vanaf die sestigerjare self sy romans in Engels vertaal en later ook sy romans in Afrikaans sowel as Engels skryf en tegelykertyd in beide tale publiseer, vergemaklik waarskynlik sy opname in die transnasionale domein. Omdat hy prosa skryf, en nie poësie nie, vind sy werk ook by groter gehore inslag en word dit wyer in ander tale vertaal as dié van byvoorbeeld Breytenbach, veral op die hoogtepunt van sy loopbaan in die 1970's en 1980's toe politieke romans soos 'n Oomblik in die wind (17 tale), 'n Droë wit seisoen (23 tale), Gerugte van reën (14 tale), Houd-den-Bek (12 tale) en Die muur van die pes (12 tale) wye internasionale publisiteit gekry het. Saam met Nadine Gordimer en J.M. Coetzee word hy, in die woorde van die literêre agent Isobel Dixon, gereken tot een van die ‘Holy Trinity’ wat ten onregte in Brittanje gesien word as verteenwoordigend van die totale Suid-Afrikaanse literêre kultuur (Cowley 2003). Dit hou verband met die feit dat sy romans reeds drie maal (in 1976, 1978 en 2012) op die kort- of langlyste vir die Britse Booker-prys was. Brink sluit in die verskillende fases van sy skrywerskap aan by belangrike Westerse diskoerse: in die 1960's het sy werk die invloed van die modernisme en eksistensialisme gereflekteer; in die 1970's is sy werk gedryf deur sy betrokkenheid by die politieke opstand teen apartheid en dus ook die filosofie van littérature engagée; in die 1980's en daarna het die politieke fokus van sy werk behoue gebly, maar is hy ook beïnvloed deur die postmodernisme, dekonstruksie, postkolonialisme en feminisme. Nederland is een van die ruimtes waar Brink vroeg reeds transnasionale blootstelling ervaar, al word dit ná die verskyning van Looking on darkness oorskadu deur sy internasionale loopbaan. Die belangrikste rede vir sy internasionale aansien is die literêre sukses van sy politieke romans. Alhoewel Breyten Breytenbach hom in die vroeë sestigerjare in Frankryk gevestig het, het sy eerste treë in die rigting van 'n transnasionale literêre status gekom deur kontak met Nederland waar hy reeds vanaf die 1960's as skilder en digter bekend geraak het. Die verloop van Breytenbach se verhouding met Nederland is reeds deur Goedegebuure (1993) en Van den Bergh (2003) beskryf. Soos wat hulle uitwys, begin Breytenbach reeds in 1964 om sy skilderye in Nederland uit te stal en publiseer hy vanaf 1969 tot 1972 gedigte, prosa en tekeninge in die Nederlandse tydskrif Raster. Vanaf 1970 tree hy gereeld op by geleenthede soos Nacht van de poëzie, Winternachten en die jaarlikse byeenkomste van Poetry International in Rotterdam. In 1972 word Skryt: Om 'n sinkende skip blou te verf, 'n bundel Afrikaanse gedigte met | |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 14]
| |||||||||||||||||||||||||||
Nederlandse vertalings daarvan deur Adriaan van Dis en 'n ‘nabericht’ deur H.C. ten Berge, deur Meulenhoff gepubliseer in Nederland omdat dit vanweë die kontroversiële politieke inhoud nie in Suid-Afrika uitgegee kon word nie (dié uitgawe is uiteindelik in 1975 in Suid-Afrika verbied). Hierna verskyn daar gereeld tekste deur Breytenbach in Nederlandse vertaling sowel as vertalings van sy werk in Frans (1976), Duits (1977) en Engels (1977, 1978). Reeds voor die publikasie van sy werk in Nederland is die Reina Prinsen Geerligsprys in 1968 aan hom toegeken vir sy tweede digbundel Die huis van die dowe, iets wat heelwat aandag getrek het in die Nederlandse pers vanweë sy kritiese uitsprake oor die apartheidsregime. 'n Verdere viertal toekennings bevestig sy status in Nederland: die Lucy B. en C.W. van der Hoogtprijs vir die bundel Lotus in 1972, die Poetry Internationale Eregeld vir digters in gevangenskap in 1981, die besondere prys van die Jan Campert-stigting in 1982 en die Jacobus van Looyprys vir dubbeltalente in 1995. Breytenbach se bande met Nederland word bevestig deur die ‘literaire kruisbestuiving’ tussen hom en Nederlandse digters (Van den Bergh 2003, pp. 354-360). Hy erken byvoorbeeld die invloed van die Nederlandse Vyftigers Kouwenaar en Lucebert sowel as digters soos H.C. ten Berge, Rutger Kopland en Bert Schierbeek op sy werk. Op hulle beurt toon 'n hele reeks Nederlandse skrywers op verskillende maniere 'n bepaalde betrokkenheid by die persoon Breytenbach en sy werk (onder hulle tel figure soos Adriaan van Dis, Esther Jansma, K. Michel, Herman de Coninck, Lucebert en H.C. ten Berge). Van der Bergh (2003, pp. 359-360) skryf Breytenbach se bekendheid in Nederland aan verskillende faktore toe: die impak van sy werk, sy sterk bande met vriende wat literêr besonder invloedryk was, sy persoonlike charisma en sy veelsydigheid. Volgens Goedegebuure (1993, pp. 221-222) word Breytenbach aanvanklik in die Nederlandse resepsie waardeer as modernistiese taal- en literatuurvernuwer, maar val die klem ná die publikasie van Skryt in 1972 sterker op sy beeld as politieke aktivis. Ook Francken (1996, p. 123) verwys daarna dat die belangstelling in Breytenbach toeneem na sy inhegtenisname en gevangenskap. Gesien vanuit die Suid-Afrikaanse perspektief bied Nederland vir Breytenbach 'n ruimte waarin hy 'n kontroversiële digbundel soos Skryt kan publiseer juis in dié stadium dat die amptelik-literêre betrekkinge tussen Nederland en Suid-Afrika drasties begin versleg. Alhoewel Breytenbach reeds 'n mate van internasionale bekendheid verwerf het as digter teen 1984, die jaar waarin sy gevangenismemoir The true confessions of an albino terrorist verskyn, plaas hierdie prosateks wat hy in Engels geskryf het, hom prominent op die wêreldverhoog. Die internasionale appèl van The true confessions of an albino terrorist word bewys deur | |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 15]
| |||||||||||||||||||||||||||
die feit dat dit reeds in die verskyningsjaar 1984 vertaal is in Nederlands, Frans, Duits en Deens, in 1985 in Portugees, Sweeds en Spaans en in 1989 in Italiaans. Die internasionale sukses van hierdie teks is grootliks gedryf deur die wêreldwye belangstelling in die anti-apartheidstryd in Suid-Afrika sowel as die wêreldwye prominensie van gevangenisliteratuur in die tweede helfte van die twintigste eeu (vergelyk Davies 1990, p. 137). Daarbenewens sluit die intens-introspektiewe, self-refleksiewe en dekonstruktiewe aard van Breytenbach se werk aan by die opkoms van poststrukturalistiese teorieë oor taal in die tagtigerjare waardeur sy werk aansluit by 'n belangrike intellektuele diskoers van die tyd. In sy later werk sluit hy ook aan by die gesprekke oor identiteitsvorming teen die agtergrond van migrasie, kosmopolitisering en diaspora in postkoloniale studies. Vanweë sy gespanne verhouding met Suid-Afrika, Afrikaners en Afrikaans - beide voor én na Suid-Afrika se demokratisering - kultiveer hy doelbewus die identiteit van die balling, die nomade, die swerwer of burger van wat hy noem die Middelwêreld (Breytenbach 2009, pp. 135-156). Sy volgehoue kritiek op die nuwe maghebbers in Suid-Afrika getuig van 'n voortgesette aversie teen enige vorm van oordrewe nasionalisme en spreek uit tekste soos die outobiografiese fiksie A veil of footsteps (2008) en die essay-bundel Notes from the middle-world (2009). Hierdeur het hy homself toenemend blootgestel aan fel kritiek, veral deur die Engelssprekende resensente van sy werk in Suid-Afrika (vergelyk Coovadia 2008; De Waal 2008). Hierteenoor is die reaksie van Nederlandse resensente op sy werk oorwegend positief (vergelyk Schouten 2007; De Vries 2008; Jaeger 2008) en is daar ook by die geleentheid van sy sewentigste verjaardag in 2009 'n huldigingsgeleentheid in die Nederlandse stad Hengelo gereël.Ga naar eind10. Alhoewel Breytenbach dus sy eerste transnasionale deurbraak as skrywer maak in Nederland, is dit die Engelse prosateks The true confessions of an albino terrorist wat vir hom groter bekendheid in die wêreld gee en lyk dit nie asof die blootstelling in Nederland bydra tot sy internasionale bekendheid nie. Van al die skrywers onder bespreking het Breytenbach waarskynlik die mees langdurige band met Nederland en getuig sy werk die sterkste van wedersydse interaksie met die Nederlandse literatuur. Etienne van Heerden se skryfloopbaan begin met die publikasie van die jeugroman Matoli in 1978 waarna hy ook digbundels, kortverhaalbundels, romans, kabarettekste en essays publiseer. Dit is egter veral as romansier en kortverhaalskrywer wat hy bekendheid buite Suid-Afrika verwerf. Toorberg van 1986 is die eerste van sy werke wat vertaal word: dit verskyn in 1989 in Engelse vertaling by Penguin as Ancestral voices en in 1991 in Nederlandse vertaling as De betoverde berg. Sy daaropvolgende romans (uitgesonderd | |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 16]
| |||||||||||||||||||||||||||
Asbesmiddag van 2007) word almal in Nederlands sowel as Engels vertaal; in enkele gevalle verskyn die Nederlandse voor die Engelse vertaling (soos in die geval van die vertalings van In stede van die liefde). Tot dusver is Toorberg sy mees-vertaalde werk (Engels, Nederlands, Frans, Duits, Deens, Noorweegs, Fins en Sweeds) naas die roman Die swye van Mario Salviati van 2000 (Engels, Nederlands, Duits, Grieks en Russies). Ook Van Heerden se werk het 'n sterk sosiaal-politieke inslag. Hy word aanvanklik binne die Afrikaanse letterkunde bekend as eksponent van die ‘grensliteratuur’, 'n benaming wat verwys na literêre tekste wat handel oor die Suid-Afrikaanse regering se militêre optrede teen die Namibiese bevrydingsbeweging SWAPO in die noorde van Namibië en in Angola in die laat jare sewentig en vroeë jare tagtig van die vorige eeu. Hierna dokumenteer sy romans en kortverhale die politieke ontwikkelinge in Suid-Afrika as 't ware op die voet deur dit te verwerk tot fiksie. Alhoewel sy werk aansluit by die diskoerse van die postmodernisme en die postkolonialisme, onder andere deur sy herhaaldelike fokus op die nawerking van Suid-Afrika se koloniale geskiedenis, is hy ook bekend vir die skep van 'n eie, Suid-Afrikaanse variant van die magiese realisme. Die Nederlandse vertaler Riet de Jong-Goossens meen byvoorbeeld dat die populariteit van Etienne van Heerden se eerste vertalings in Nederlands verband gehou het met die magies-realistiese aard daarvan en Nederlandse lesers se belangstelling in die eksotiese (vergelyk De Vries 2010). In Nederland word De betoverde berg in De Volkskrant vergelyk met Marquez se One hundred years of solitude en in Londen word Van Heerden na aanleiding van The Long silence of Mario Salviati in The Times ‘the South African Marquez’ genoem (vergelyk http://www.tafelberg.com/Authors/221). Van Heerden het ook sterk skrywersbande met Nederland: hy tree gereeld op by literêre geleenthede, was in 2000 inwonende skrywer by die Universiteit van Leiden waar hy lesings aangebied het en bring in 2007 en 2012 ook tyd deur in die Nederlandse Letterenfonds se skrywersresidensie in Amsterdam. Nederland is ook een van die ruimtes wat hy in sy werk ter sprake bring, soos wat die roman Dertig nagte in Amsterdam getuig. In Van Heerden se geval geskied die toetrede tot die Nederlands- en Engelstalige ruimtes byna tegelykertyd en ontwikkel daarna op dieselfde manier. Ook Antjie Krog se eerste toetrede tot die transnasionale domein buite Suid-Afrika is in Nederland. Net soos Breytenbach en Brink word sy in die loop van die 1980's binne Suid-Afrika buite die Afrikaanse kring bekend vanweë haar betrokkenheid by die politiek en kritiese uitsprake oor die apartheidsregering. Een van haar jeugverse word in 1989 deur Ahmed Kathrada van die ANC by 'n politieke saamtrek in Soweto aangehaal en | |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 17]
| |||||||||||||||||||||||||||
volgens 'n berig in die koerant New Nation in 1991 is sy van al die Afrikaanse digters die een wat die bekendste is by nie-Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika (Garman 2008, p. 348). Sy verwerf egter reeds in 1977 in Nederland die Reina Prinsen Geerligsprys vir haar bundels Mannin en Beminde Antarktika.Ga naar eind11. Haar eerste literêre optrede as skrywer buite Suid-Afrika is wanneer sy in Junie 1992 optree by Poetry International in Rotterdam. Hier trek sy onder andere aandag met die uitspraak dat demokrasie in Suid-Afrika vir haar belangriker is as die taal Afrikaans (vergelyk Mulder 1992 en Britz 1992). Haar volgende skrywersbesoek aan die buiteland is eers in 1997 in Frankryk waar sy een van sewe Suid-Afrikaanse skrywers is wat optree by die Cité du Livre boekfees in Aix-en-Provence (vergelyk Garman 2009, p. 350). Dit is egter die verskyning van Country of my skull in 1998, eerder as haar poësie, wat lei tot internasionale bekendheid as skrywer. Hierna is daar 'n verhoogde en terugwerkende belangstelling in haar poësie. Twee jaar later word geselekteerde gedigte uit haar werk in Engelse vertaling gepubliseer in Down to my last skin en vanaf 2004 word haar digbundels tegelykertyd in Afrikaans en Engels gepubliseer. In Nederland verloop die proses enigsins anders: 'n seleksie van haar gedigte in Afrikaans met Nederlandse vertalings daarnaas onder die titel Om te kan asemhaal verskyn in 1999 en die jaar daarna die Nederlandse vertaling van Country of my skull getitel De kleur van je hart. Hierna verskyn die digbundels van Krog, haar vertaling van gedigte uit ander inheemse Suid-Afrikaanse tale en outobiografiese prosa reëlmatig in Nederlandse vertaling. Soortgelyk aan die geval van Breytenbach, hou Antjie Krog se toetrede tot die transnasionale domein met Country of my skull verband met 'n bepaalde politieke profiel, die wêreldwye belangstelling in politiese ontwikkelinge in Suid-Afrika (in haar geval die land se transformasie ná 1994) en die aansluiting by heersende diskoerse in die Westerse wêreld. Die feit dat die teks fokus op Krog se betrokkenheid by die Waarheids- en Versoeningskommissie as joernalis en ook aandag gee aan die wyse waarop sy as Afrikaner haar skuldgevoelens oor die misdrywe van apartheid konfronteer, het sekerlik bygedra tot die werk se sukses op internasionale vlak. Anthea Garman (2008, pp. 171-190) toon in haar studie oor Antjie Krog as openbare intellektueel dat haar toetrede tot die transnasionale ruimte moontlik gemaak is deur die wêreldwye prominensie van waarheidskommissies en die gepaardgaande klem op konfessionele diskoerse (soos omskryf deur Foucault). As uitdagende vermenging van feit met fiksie en 'n kombinasie van narratiewe met joernalistieke tegnieke en poësie sluit dit ook aan by die deurbreking van genre-grense tipies van die postmodernisme wat in die tagtiger- en negentigerjare op die spits gedryf word. Dit is 'n werkswyse | |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 18]
| |||||||||||||||||||||||||||
wat sy sou voortsit met A change of tongue (2003) en Begging to be black (2009). Alhoewel Krog se literêre status in die Engelstalige wêreld veral berus op haar outobiografiese prosa, wil dit voorkom asof sy in Nederland veral bekend is vir haar poësie, haar openbare optredes as digter en as meningsvormer oor Suid-Afrikaanse sake.Ga naar eind12. Ook Marlene van Niekerk se eerste transnasionale beweging is na Nederland, en wel met die publikasie van De vrouw die haar verrekijker had vergeten in 1998, 'n vertaling van enkele van haar Afrikaanse kortverhale in Nederlands. Die Engelse vertaling van haar 1994-roman Triomf (wat in 1995 die Nomaprys vir die beste publikasie in Afrika gewen het) verskyn eers in 1999, waarna vertalings in Nederlands (2000), Frans (2002) en Deens (2002) volg. Haar literêre statuur in Suid-Afrika sowel as in Nederland, Vlaandere, Brittanje en Amerika neem toe met die verskyning van Agaat wat in 2004 in Afrikaans verskyn. Die Nederlandse en Engelse vertalings deur Riet de Jong-Goossens en Michiel Heyns volg in 2006, met die Nederlandse vertaling wat beskikbaar is selfs voor die Engelse vertaling. In die geval van Van Niekerk sou 'n mens kon wys op 'n verband tussen die impak van haar romans Triomf en Agaat en verskillende intellektuele diskoerse wat in die Weste sirkuleer, onder andere dié van die postkolonialisme, feminisme en die kritiese ondersoek van nasionalisme. Beide die romans Triomf en Agaat is 'n grondige ondersoek na die wyse waarop Afrikaners onder apartheid die koloniale prosesse van die verlede tot 'n uiterste gevoer het, selfs nadat die res van die wêreld begin het om weg te beweeg daarvan. Triomf is 'n fel, maar tog ook histories-genuanseerde kritiek op die negatiewe gevolge van 'n oordrewe nasionalisme. Die ingeteelde Benadefamilie van Triomf kan gelees word as 'n beeld van die isolasie wat Afrikaners hulleself opgelê het deur die beleid van apartheid, maar hulle word ook geteken as die slagoffers van daardie beleid. Die roman Agaat is op haar beurt tegelykertyd 'n sorgvuldige argivering van die Afrikaner-leefwyse tydens die apartheidsjare en 'n kritiese analise daarvan. In die uitbeelding van die verhouding tussen die wit Afrikanervrou Milla en die bruin vrou Agaat is die roman tegelykertyd ook 'n grondige ondersoek na die verskillende konstruksies van moederskap en die magsverhoudings onderliggend aan die verskynsel van kulturele uitruiling wat lei tot die praktyk van nabootsing of ‘mimicry’ (onder andere beskryf deur Bhabha). Die sukses van veral die roman Agaat in Nederland (waar meer as 35.000 eksemplare verkoop word) lei tot 'n verstewiging van Van Niekerk se bande met Nederland soos wat blyk uit die benoeming tot die Afrikaleerstoel aan die Universiteit van Utrecht (2007-2008, 2010-2011), 'n verblyf in die Nederlandse Letterenfonds se skrywersresidensie in Amsterdam (2007-2008), die | |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 19]
| |||||||||||||||||||||||||||
uitnodiging om gasskrywer te wees by die Universiteit van Leiden en die Albert Verweylesing te lewer (2009), 'n ere-doktoraat van die Universiteit van Tilburg (2010) en gepaardgaande daarmee 'n kongres oor haar werk. Uit hierdie noue interaksie met Nederland groei De sneeuwslaper (2009). Die teks is op uitnodiging van 'n Nederlandse instansie beplan as deel van 'n reeks beskoulike tekste oor die roman, maar uiteindelik verander in fiksie. Die Nederlandse vertaling van die oorspronklike Afrikaans is in Nederland gepubliseer 'n jaar voordat die Afrikaanse weergawe daarvan in Suid-Afrika verskyn het. In Van Niekerk se geval is daar sprake van 'n bewuste interaksie met die Nederlandse taal en ruimte in die sin dat sy in laasgenoemde teks onder andere fokus op Nederlandse karakters en ruimtes en ook toelaat dat die Nederlandse taal haar gebruik van Afrikaans infiltreer. Sy argumenteer trouens dat die Nederlandse geskiedenis van Afrikaans behoue moet bly in die verdere ontwikkeling van Afrikaans en dat die Nederlandse element wat dormant geraak het in Afrikaans geheraktiveer moet word (La Vita 2007, p. 8). Alhoewel die internasionale sukses van die romans Triomf en veral Agaat nie afhanklik is van Van Niekerk se blootstelling in Nederland nie, bied Nederland vir haar as skrywer 'n eerste toegang tot 'n transnasionale ruimte en werk dit ook bevrugtend in op haar werk soos wat De sneeuwslaper getuig. Dit is wel betekenisvol dat hierdie teks met sy sterk Nederlandse inhoud tot dusver nog nie in Engels vertaal is nie. | |||||||||||||||||||||||||||
Enkele voorlopige gevolgtrekkings en voorstelle vir verdere ondersoekBy 'n vraag oor die elemente wat lei tot die kanonisering van 'n literêre werk as behorende tot die wêreldliteratuur, meen Jerry Varsava (2011, p. 336) dat dit hoofsaaklik berus op bepaalde hoog-kanonieke kriteria hanteer deur akademici, beoordelaars van literêre pryse en prominente resensente. Volgens hom is die belangrikste kriteria wat in hierdie proses van kanonisering gebruik word dié van tematiese en vormlike kompleksiteit, universaliteit, stilistiese verfyndheid, die deurbreking van norme en dit wat hy ‘political acuity’ (oftewel politieke skerpheid) noem. Die Afrikaanse skrywers wat wel 'n oorgang na die Nederlandse én transnasionale domein gemaak het (al beteken dit nie noodwendig dat hulle daarmee opgeneem is in wat 'n mens die kanon van die wêreldletterkunde sou noem nie), se werk voldoen in mindere of meerdere mate aan al hierdie kriteria. | |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 20]
| |||||||||||||||||||||||||||
Die werk van elkeen van die skrywers onder bespreking getuig van tematiese en vormlike kompleksiteit, het die vermoë om tot 'n breër gehoor as net die lokale te spreek deur die aanroer van universele kwessies, is meestal stilisties gesofistikeerd en dikwels ook grensdeurbrekend en vernuwend. Dit is egter ook duidelik uit Varsava se verwysing na die skerpheid van politieke visie as een van die kriteria vir toelating tot die kanon van die wêreldliteratuur dat dit nie net literêre oorwegings is wat 'n rol speel by die suksesvolle oorgang van 'n skrywer van die nasionale na die transnasionale domein nie, maar ook buite-literêre kwessies. Wat die Afrikaanse skrywers onder bespreking betref, lyk dit asof die deurbraak na die transnasionale in die meeste gevalle gepaard gaan met verset teen 'n oordrewe nasionalisme en 'n kritiese perspektief daarop. Engdahl (2013, p. 318), 'n vorige voorsitter van die Nobelprys-komitee, het trouens by geleentheid gesê: ‘[...] writing always in some sense means deserting one's kind’. Die Afrikaanse skrywers wat hier bespreek is en sukses in sowel die Nederlandse as die transnasionale domeine bereik het, was dit almal eens in hulle uitgesproke kritiek op die negatiewe aspekte van die Afrikanernasionalisme. Hulle is minder eenstemmig oor hulle verhouding met die nasionale soos verteenwoordig deur die nuwe Suid-Afrikaanse nasie en dit sal dus interessant wees om in die toekoms te sien hoedat dit hulle funksionering in die transnasionale domein beïnvloed. Die verwysing na Afrikaanse en Suid-Afrikaanse tekste as ‘eksoties’ kom meermale by buitelandse en ook Nederlandse kommentators voor: Dorsman (2010) noem die ‘exotische en tegelijk het bekende’ van die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse letterkunde as dit wat hom prikkel; Schouten (2007) verwys in 'n resensie na Breytenbach as die ‘exotische neef van de Nederlandse dichtkunst’. Dit is nie onwaarskynlik nie dat sommige Afrikaanse skrywers se toegang tot die Nederlandse én die transnasionale domeine ook bemiddel is deur wat Graham Huggan (2001, p. 12) in The postcolonial exotic: Marketing the margins beskryf as die ‘cosmopolitan alterity industry’ wat op groot skaal geïnvesteer is in die kommodifikasie van kulturele verskil of andersheid. Vir Huggan (2001, p. 12) is die eksotiese nie 'n eienskap wat inherent is aan bepaalde persone, objekte of plekke nie, maar eerder 'n modus van estetiese perspesie wat andersheid vervaardig op die juiste moment wat dit voorgee dat dit oorrompel is deur die inherente misterie daarvan. Die besware teen hierdie kommodifisering van die eksotiese deur veral metropolitaanse omgewings is dat dit verskillende historiese ervarings nivelleer, die verbruiker die indruk gee dat hy of sy toegang kan kry tot die kulturele ander en die reïfikasie van mense en plekke tot uitruilbare estetiese objekte. Daar word selfs verwys na 'n postkoloniale industrie | |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 21]
| |||||||||||||||||||||||||||
wat produkte vervaardig vir verbruikers in groot metropolitaanse sentra en bepaalde skrywers (Achebe, Naipaul, Rushdie, Coetzee) en teoretici (Said, Bhabha, Spivak) bevoordeel. Alhoewel geen Afrikaanse skrywer die internasionale blootstelling het waarop die genoemde skrywers kan reken nie, sou 'n mens jouself kon afvra of hulle toegang tot die transnasionale domein nie ook gedeeltelik moontlik gemaak word deur 'n industrie wat die marginale kommodifiseer nie. Venter (2002, p. 205) wys in haar studie oor die vertaling van Suid-Afrikaanse literatuur in Nederlands daarop dat Suid-Afrikaanse skrywers nie altyd gelukkig is met die neiging om hulle werk binne 'n ‘eksotiese raamwerk’ te plaas nie. Ten slotte berus die suksesvolle oorgang van Afrikaanse skrywers na die transnasionale domein dus op 'n komplekse samehang van 'n verskeidenheid faktore wat in bepaalde kontekste op verskillende maniere uitspeel. Alhoewel die toegangsroete tot die groter globale wêreld vir Afrikaanse skrywers hoofsaaklik deur Engels loop, toon die ondersoek na die werk van die genoemde skrywers dat Nederland, vanweë die historiese verwantskap tussen die tale Nederlands en Afrikaans sowel as die land se ontwikkelde tradisie van literêre vertaling,Ga naar eind13. wel vir hulle 'n literêr-kulturele ruimte bied wat hulle in staat stel om buite die grense van 'n klein taal soos Afrikaans te beweeg. In hierdie opsig verteenwoordig die beweging na Nederland 'n ‘minor transnationalism’ van 'n spesifieke soort. Dit is hoofsaaklik die beweging van Afrikaans na die relatief klein taal Nederlands wat wel aansienlike kulturele kapitaal verteenwoordig en in talle opsigte die eienskappe van 'n metropolitaanse literêre kultuur verteenwoordig, eerder as andersom. Die Nederlandse letterkunde was ook tot in die 1960's 'n belangrike bron van inspirasie vir Afrikaanse skrywers, maar tydens die kulturele boikot het die invloed van die Nederlandse letterkunde aansienlik kleiner geword in Suid-Afrika. Of die Afrikaanse letterkunde ooit 'n soortgelyke inspirasie vir skrywers uit Nederland was, val te betwyfel.Ga naar eind14. Nederland en die Nederlandse literêre toneel bied wel 'n ruimte vir Afrikaanse skrywers maar dit is onwaarskynlik dat dit 'n deurslaggewende rol speel in hulle verdere deurgang tot die transnasionale ruimte. Die bepalende faktore in toegang tot die transnasionale domein buite Nederland blyk vertaling in Engels, die aansluiting by heersende diskoerse en 'n kritiese instelling teenoor die eng nasionalistiese te wees. Hierdie artikel is 'n eerste verkenning en teken slegs die breë buitelyne van die ondersoeksveld. Vrae wat aandag behoort te geniet in verdere ondersoeke, is die volgende: Wat is die spesifieke besonderhede van die trajek wat bepaalde skrywersloopbane gevolg het met betrekking tot die beweging | |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 22]
| |||||||||||||||||||||||||||
oor nasionale grense heen? Wat is skrywers se persepsies van die rol wat blootstelling in Nederland in hulle loopbane gespeel het? Wat is die rol van verskillende akteurs in die literêre sisteem (uitgewers, literêre agente, resensente, beoordelaars van literêre pryse, akademici) in die transnasionale loopbane van Afrikaanse skrywers? Is daar duidelike verskille tussen die loopbane van skrywers wat ‘ernstige literatuur’ en skrywers wat ‘populêre literatuur’ produseer? Kry Afrikaanse skrywers 'n ander soort ontvangs in Nederland as skrywers wat uit ander tale vertaal word? Verskil die resepsie van Afrikaanse skrywers in Nederland van hulle resepsie in Vlaandere? Die beantwoording van hierdie vrae sal mettertyd 'n vollediger beeld skep van die rol wat Nederland, en ook Vlaandere, gespeel het in Afrikaanse skrywers se transnasionale beweging. | |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 23]
| |||||||||||||||||||||||||||
Bronnelys
| |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 24]
| |||||||||||||||||||||||||||
| |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 25]
| |||||||||||||||||||||||||||
| |||||||||||||||||||||||||||
[pagina 26]
| |||||||||||||||||||||||||||
Oor die skrywerLouise Viljoen is professor in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch, Suid-Afrika. Haar ondersoeksveld is die Afrikaanse letterkunde, met 'n fokus op die postkolonialisme, gender, identiteit en (outo)biografiese skrywing. Sy is die samesteller (saam met Ronel Foster) van die antologie Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 (1998) en van Om te onthou (2006), 'n keur uit die poësie van Barend Toerien. Sy is ook die skrywer van Ons ongehoorde soort. Beskouings oor die werk van Antjie Krog (2009) en 'n kort biografie getitel Ingrid Jonker (2013). lv@sun.ac.za |
|