Algemeen
Kerssang by pitlamplig
Abraham H. de Vries
Toe, omdat alles verander, het ook die Kersfeeste van my jeug ander name begin kry. Ek het dit die Kersfeeste van die Outyd genoem, want - het ek gedink - die Kerssang op die plase was, ondanks al die romantiek wat ek daaraan toegedig het, tog maar die Kerssang van Onderdane in 'n Laat-Feodale tyd. Dié klein groepie plaaswerkers met hul vrouens en kinders wat altyd teen middernag op Oukersaand van plaas tot plaas gegaan het en van huis tot huis, by die lig van 'n rokende kers of 'n pitlampie, met ‘Stille Nag’ en ‘Betlehem Ster’ vir ons, die bevoorregtes, op die stoepe, agter die rame, by die gedekte tafels, Kersdag aangekondig het.
Hulle sal nie meer kom nie, het ons gedink, dis te begrype.
Sic gloria mundi transit, so vergaan die glorie van die wêreld, maar daar is tye waarvan 'n mens moet sê dat dit góéd is dat dit tot 'n einde kom.
Ons het vir dié Kersfees van die Nuwe Tyd toe nie eens ekstra koeldrank en koeke en klein geskenkies vir die sangers gekoop nie. Een van ons het die middag 'n opmerking gemaak oor die Kerssang waarvan die kinders seker eendag vir hulle kinders sal vertel, en versug: ’Dis hoe Kersfees in die Klein Karoo vir my altyd begin het’, in die gees van ‘opdat ons alles wat diep medeménslik was nooit sal vergeet nie’. Ons het laat die aand in die ou plaashuis met sy hoë solder en sy opgekleide dik mure op Winkelplaas gelê en nie dadelik ingeslaap nie.
In die Klein KarooGa naar eind1 sing die stilte op 'n Kersnag. Het ek die radio aangelos? het ek gewonder.Maar toe ruik ek dit, want só ruik net 'n vetkers se rokerige vlam. Saam met die reuk, asof van ver, kom die eerste sterker note. En die stil ou kamers, met teen die mure De Smalle en de Breede Weg en die voorgeslag in die ovaal rame en Morning in the Highlands en Evening in the Highlands en die Engel wat waak oor die seuntjie by 'n stukkende brug, raak vol klank. Be Ye Holy for I am Holy.
Ons trek aan, gaan, maak die voordeur oop. Die sangers buite op die rooistoep swyg nie, lag net, groet, knik en sing voort, sangboekies half in die skaduwee, half by die lig van die wiegende en swenkende vlam van die kers. My vrou sing saam, hulle maak die kring oop, bied 'n boekie aan, maar sy ken die woorde. Die Heiland is gebore. Kom herwaarts getroues.
Ek maak my oë toe en op 'n vreemde manier sien ek ons skielik asof van baie, baie ver. In die groot en wye eensaamheid van die Karoonag, op die skalieklip-werf van 'n ou huis, verlore onder die hoë sterre, staan 'n paar mense, bondel 'n paar skaduwees. Om ons is die donker, droë, Karooveld van berg tot horison. Ons is maar 'n paar gesigte om 'n onseker bietjie lig, net 'n paar. Daar anderkant die lusernlandjie staan die laaste gewels van hulle wat voor ons hier die genade gehad het van die lig. Wat het ons in hierdie verlateheid meer as mekaar? Op hierdie droë aarde is ons mekaar se geborgenheid. Of hel.
Later trek die stemme die laaste note versigtig weer tot in die stilte. En ons maak verskoning oor die koeldrank en die koek, ag, en oor die ou stem wat in die laaste tyd so brekerig kraak, sê Kenoek, en die ander begin hom terg. Wag, sê my vrou, die ouhuis is groot, kom, daar's altyd genoeg om te deel. Kenoek se vrou, Leentjie, vra dat ons vandag aan Dawid Windvogel sal dink, wat op die dorp, daar ver van die plaas af so siek is, en aan Anna van Kerkplaas wat nou ook al die rooirandjies deurGa naar eind2 en daar begrawe is. Dawid en Anna het hier gewerk toe die laaste winkelier op Winkelplaas se winkel nog oop was, Dawid hulle was die leiers van die Kerssangers van my jeug. En aan onse Sara wat in die Kaap is, vra een van die ander vrouens, sy kan mos vanjaar nie kom nie, want daar is te min nurse in die hospitaal.
Snaaks, hulle kon nie slaap nie, sê Kenoek, toe sê hy vir die vrou en die kinders, kom, roep die mense, dis nog nie half twaalf nie, maar kom. En ons het gelê en verlang, sê ons. Nê, sê Leentjie, nogal! Flora het gesê julle lyk vir haar so gestroef.
Die kinders hardloop met die slopies wat Hanna gebring het vooruit, ek stap 'n endjie saam met die volwassenes oor die damwal. Kenoek en Leentjie woon nou in die ou plaashuis van die vroeëre Van der Vyver-plaas, Hansie en Cathleen. Bill gebruik net die grond wat hy gekoop het. Die ander woon oorkant die rivier en op Kerkplaas, maar vir die Kersnag slaap hulle oor.
Wie, o, wie, dink ek later, voor ons inslaap met om ons die vriendelike geluide van die huis wat wentel in die koeler nanag in, wie het soveel deernis met die mens om ons so aan mekaar uit te lewer?
Mekaar se geskenke in hierdie geskenkenag.
Ondanks, in weerwil van, nietemin.