Afrikaanse liriek en dui alreeds deur die titel die noodwendige ontwikkelingsgang aan: 'n groei van belydenis tot gestalte, 'n toenemende proses van versobering en verstrakking. In teenstelling tot mekaar staan in sy eie terminologie dus alleenspraak en gestalte. Die Drie Diere-siklus, weer eens vier sonnette, sou 'n mens kon beskou as die donker pendant van die ligte Vier Gebede-siklus a.g.v. die bitterheid en vernietiging wat daarin tot uitdrukking kom; vier ‘swart’ sonnette in teenstelling tot vier ‘wit’ sonnette. Die visioene vandie drie diere slaan op drie patrone van menslike heerskappy wat oor die aarde heengegaan het. Met die oog op die puinhope van Europa na die Tweede Wêreldoorlog gaan die gedagtes van die digter terug na die vroeë jare van Europa, N.-Afrika en Klein-Asië. Die teen oormekaar-stel van die twee siklusse illustreer ook hoe die poësie van Van Wyk Louw vanuit die persoonlike beweeg tot die objektiewe buitewêreld en hierdie wéreld is nie net buite nie, dis ook groot: dit betrek ander beskawings, literature, tye en gee daaraan in Afrikaans 'n eie gestalte en nuwe dimensie. Dis wat prof. K. Meeuwesse noem 'n ‘kollektiwistiese digterskap’. In Van Wyk Louw se oeuvre het hierdie soort digterskap 'n indrukwekkende vorm aangeneem in sy laaste bundel Tristia (1962): ‘Jane Avril dans in Parys’, ‘Pierro Della Francesco’, ‘Henri Rousseau’, ‘Hongarye: November 1956’. Die epos Raka (1941) gaan Gestaltes en Diere vooraf en verteenwoordig daarmee saam die hoogtepunt van Dertig, wat dié periode terselfdertyd tot 'n glansende afsluiting bring. (Wat hierna verskyn uit die pen van Van Wyk Louw self en ander dertigers behoort nie meer tot die
tydperk van Dertig nie). Ons het in hierdie epos 'n botsing tussen Raka en Koki teen die milieu van 'n primitiewe stamlewe. Raka verteenwoordig die swoele onrus en die drif, Koki die ‘skoner’ onrus wat daarop neerkom dat hy reeds die dierlike in hom oorwin het.
Koki staan tenoor Raka as die eensame enkeling met die profetiese blik wat nogtans solidêr is met sy stamgenote, wat hulle leier en gewete is. Raka verenig in hom die laer drifte en as sodanig is hy aantrekkingskrag en bedreiging; hy doen 'n beroep op die nie-redelike primitiewe hartstoglewe eie aan elke mens. Anders as in die tradisionele epos behaal die held nie die oorwinning nie: Koki gaan onder, hy word deur Raka vernietig, die oerlewe kan sy intrede doen binne die ommuurde vesting. Die smart om 'n verlore leier heers aan die einde nog by die mense van Koki, asook die vrees vir Raka.
‘maar niemand het gewaag om met een slag
die smal hek ooit weer teen hom te sluit’
Naas hierdie indrukwekkende gestalte-poësie het die belydenisvers egter nie by Van Wyk Louw verdwyn nie. Sy digterskap is buitendien so ryk en geskakeerd dat dit nie vatbaar is vir 'n eensydige tipologie nie. Die belydende ek keer in Tristia terug in 'n nuwe toonaard: ironies, speels, nederig in teenstelling tot die swaar, self-bewuste ek van die begin. Dis miskien veral dié rustige nederigheid wat tref:
‘Wat ek van mense of van God wil meen
Iets staan in sterre-en-helderte geskryf
Genadelose selfvernuwer, dit was Van Wyk Louw. Verbete formalis. Tussen Gestaltes en Diere en Tristia in staan sy Nuwe Verse (1954) waarin veral die reeks ‘Klipwerk’ belangrik is, deur homself beskou as moontlik sy beste werk. Dis 'n herontdekking en herlewing van die volkspoësie, in besonder die volks-liedjie, maar gestileer, onderwerp aan Van Wyk Louw se vormkrag sodat dit op verrassende manier volks is en nie-volks nie:
die bloubos het die goue pit
Behalwe digter was Van Wyk Louw dramaturg, hoorspelskrywer, essayis. Die titels van sy essaybundels spreek vir hulleself: Lojale Verset (1939), Berigte te Velde (1939), Maskers van die Erns (1955), Swaarte- en Ligpunte (1958), 'n Wêreld deur Glas (1958) en Liberale Nasionalisme (1958). Dis 'n strydvaardige, indringende ondersoek na nasionalisme, tradisie, kultuur, kuns. Maar hy was in eerste instansie digter. Die hoorspel se grootheid setel uiteraard in die woord - losgemaak soos dit is van die toneelmatige -; die versdrama Germanicus is in eerste instansie leesdrama, maar as sodanig is dit sy bestaan dubbelwerd. Op gebied van die hoorspel het hy 'n enorme bydrae gelewer met Dias (1952), Dagboek van 'n Soldaat (1961), Die Held (1962), Lewenslyn (1962).
As digter was Van Wyk Louw ook profeet, anders gestel: die motief van die digter-asprofeet wat bekend is in die wêreldliteratuur het deur Van Wyk Louw ook in Afrikaans vorm aangeneem. Hy voer die dramatiese alleenspraak vanaf ‘In Waansin het ek gevra’ (Alleenspraak) via ‘Die Profeet’ (Die Halwe Kring) tot die grootse hoogtepunt van ‘Die Hond van God’ (Gestaltes en Diere). En as profeet is die digter ook gewete van sy volk.
Van Wyk Louw het in die gewone lewe nooit vir homself die profete-mantel omgehang nie. Hy het dit verkies om in stilte sy werk te doen. Agt jaar lank was hy hoogleraar aan die Universiteit van Amsterdam, waartydens hy sy bydrae (wat waarskynlik in Suid-Afrika en Nederland nog nie na waarde geskat is nie) gelewer het om die grense van die Afrikaanse literatuur wyer as die nasionale te lê. Daarna was hy as hoogleraar in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde tot die einde van sy lewe verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg. So het hy op literêre gebied gevorm en leiding gegee. Sy boek Vernuwing in die Prosa was 'n duidelike stimulus tot die loskom van die Afrikaanse prosa uit die lokale realisme en die emansipasie daarvan in die sestigerjare. Hy het die Hertzogprys, die hoogste toekenning in S.A. op gebied van die Afrikaanse literatuur, verskeie kere verower; vir poësie, drama, kritiese prosa.
Die merkwaardige van Van Wyk Louw is egter dat hy ook in die gewone werklikheid so volledig en betrokke was dat hy telkens weer bereid gevind is om in die gewone dagbladpers die goeie woord op die regte tyd te spreek, 'n mens sou kon sê: tussen berigte oor padongelukke, sport en allerlei menslike vergrype in. Wat dit hom gekos het. kan mens slegs gis: 'n man wat in 'n kwatryn oor Rembrandt gesê het wat vir homself net so seer kon geld:
‘Ek het my swart hoed in my kop getrek:
God het Sy aarde in Sy lig verwek;
maar hier teen hierdie venster in die hoek
teen hierdie tafel, hier sit Ek.’
Maar die profeet van wie hy sê ‘ek moet die bitter brood van twyfel eet / en daeliks weer my vlamme-waarheid gryp’, het dit uiteindelik ook moes gryp vir sy volk.
Vanjaar na die Algemene Verkiesing het in Die Beeld (Afrikaanse Sondagsblad), 26 April, die laaste stuk sover bekend uit sy