deur lede van 'n Departement Afrikaans met een of meer personeellede aan minstens die grootste - maar liefs alle - universiteite van Nederland en België. Dit is geen dolle wensdroom nie. Dit is oorwoë nugterheid. Hierdie departemente met 'n wisselende personeelbesetting en met 'n wisselende taakstelling kan dien as uitstralingshaarde, uitdraers van die Afrikaanse kultuur.
Die sentrum en die samenstelling van die betrokke universiteit - waar Afrikaans 'n groter of geringer vastrapplek kry as 'n selfstandige of ondergeskikte entiteit - sal by voorbaat die uitstralingsmoontlikhede beperk of verruim. By elke universiteit sal die invloedsfeer van Afrikaans m.a.w. noodwendig ánders moet wees - maar, solank dit daar is.
In hierdie verband dink 'n mens aan 'n konkrete voorbeeld: die leerstoel aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam, en eng daarmee verbonde die Van Riebeeckhuis, wat die biblioteek en kantore van die N.Z.A.V. huisves. Sedert die terugkoms, meer as vyf jaar gelede, van prof. Merwe Scholtz, wat prof. N.P. van Wyk Louw opgevolg het, is dié leerstoel nog onbeset, en word o.a. die fasiliteite, wat die Van Riebeeckhuis by Keizersgracht 141 bied, nie ten volle benut nie. Dit is die plig van elke Afrikaner wat glo aan die nut van 'n uitwaartse beweging om toe te sien dat dáárdie professoraat - en liefs ook een aan die Vrije Universiteit, trouens, soos ek reeds voorgestel het, aan minstens soveel Nederlandse en Belgiese universiteite moontlik - so gou doenlik beset word.
Tydens die Simposium van die N.Z.A.V. (14.11.1964, vgl. Verslag, bl. 12) is verklaar: ‘In Leiden wordt het Afrikaans voor enkele studenten als doctoraal bijvak gedoceerd. In Utrecht wordt in het kader van de candidaatsstudie als onderdeel van de Nederlandse literatuurgeschiedenis kennis van en overzicht van de Afrikaanse letterkunde en lectuur van een vijftal werken gevraagd, terwijl ook in de doctoraalstudie een Afrikaans literair-historisch werk wordt bestudeerd.’
Van belang vir ons is eerstens dat daar sónder bemoeiing van Afrikaanse kant ook aan die universiteite van Leiden en Utrecht wél aan die studie van Afrikaans darem iets gedoen word. Tweedens word 'n behoefte eers geskep en bevredig juis as die fasiliteite op 'n hoë vlak beskikbaar gestel word. Daarvan het die gemeentelijke universiteit van Amsterdam tydens die hoogleraarskap van o.a. Van Wyk Louw en Van der Merwe Scholtz onteenseglike bewyse gelewer.
Wat België betref, lees ons in die gemelde Simposiumverslag (bl. 12-13) ‘Het Afrikaans wordt er wel “ernstiger” genomen dan in Nederland (...) Pas na een wijziging van het studieprogramma in de algemene Germaanse filologie, die ophanden is, komt er misschien een mogelijkheid volwaardige leerstoelen en/of lectoraten voor het Afrikaans in Leuven en Gent in te stellen’.
Ook hiér word geleenthede geskep, of bestaan reeds die geleenthede, sónder dat daar uit Suid-Afrika iets ter uitbreiding verrig word.
Waar kom die geld vandaan vir hierdie leerstoele en/of lektorate - ook vir dié wat ek nog gaan noem? Dit is de verantwoordelikheid van die staat om leiding te neem, liefs op aanbeveling, ná 'n deeglike ondersoek, van die Akademie - desgewens in oorleg met ons kulturele attachés in bv. Nederland, België en Duitsland.
Daar kan nie verwag word van die betrokke universiteite om op eie houtjie