Nederlands en Zuidafrikaans
De betrekkingen tussen de Nederlandse en de Zuidafrikaanse taal waaraan in ons vorige nummer uitvoerig aandacht werd gewijd, blijkt ook in Zuid-Afrika een onderwerp te zijn, dat velen bezig houdt. Wij laten hier twee schrijvers aan het woord, dr. P.C. Schoonees, onlangs in Nederland op bezoek, en de heer Rosenthal. Beide stukken nemen wij over, het eerste in zijn geheel, uit ‘Die Burger’ van 31 maart 1966, het andere gedeeltelijk uit dit Kaapse blad van 2 april.
Onder de titel:
Skei Afrikaans en Nederlands tot behoud van albei
schrijft DR. P.C. SCHOONEES als volgt:
‘Na aanleiding van 'n onlangse artikel op hierdie bladsy oor die Nederlandse boek in Suid-Afrika haal ek aan uit 'n stuk wat ek in 1927 vir Die Huisgenoot geskryf het:
Die ideale posisie sou dus wees: (a) 'n voorlopige inleiding tot die Nederlandse letterkunde deur middel van 'n reeks aantreklikke kinderboeke in st. VI; (b) die invoer van Nederlands as derde taal in plaas van Duits of Latyn op die middelbare skool: gevolg deur (c) 'n intensiewe studie van Nederlands aan die universiteit.
As hierdie program prakties uitvoerbaar blyk, dan meen ek dat ons binne enkele jare sal ontdek dat Nederlands ons magtige bondgenoot is in die stryd teen die voortkankerende taalverbastering wat tans’ - en ook nog in 1966 - ‘soos 'n ongeneeslike siekte vreet aan die tere weefsels van ons taal.’ (Herdruk in my bundel Verskeidenhede, bl. 123).
Hierdie voorstel het destyds weinig ondersteuning ontvang. Ons outoriteite was tevrede met 'n blote leeskennis van Nederlands wat bevorder moes word deur een eksamenboek by die Junior Sertifikaat en twee by Matriek.
Hierdie kompromis berus op die gedagte dat Afrikaans en Nederlands in wese twee vorme van een taal is - 'n standpunt wat alleen op taalhistoriese grond verdedigbaar is.
Onder hierdie stelsel het die Nederlandse boek 'n doodhou gekry deur die onoordeelkundige keuse van voorgeskrewe boeke soos Van Maurik se Krates en ander prulle van tienderangse skrywers of deur boeke soos die Camera Obscura wat 'n mens alleen deeglik kan waardeer as jy die Hollandse toestande in Nederland self leer ken het. Baie onderwysers sal kan getuig hoe hulle wanhopig geworstel het om die Afrikaanse kind iets te laat begryp van Staring se gedigte - 'n skrywer wat selfs 'n Nederlandse leerling moeilik vind.
Ek sou nog baie meer voorbeelde kan aanhaal uit die 35 jaar wat ek voor Matriekklasse gestaan het. 'n Latere ondersoeker, selfs van die eksamenboek van ons universiteite, sal ongetwyfeld kan bevestig dat die on doorwinlike afkeer van die Nederlandse boek grotendeels te wyte is aan die gehate eksamenboek.
Selfs teen 1922 het ons universiteite nog eenvoudig geen kennis geneem van die opbloei van die Nederlandse letterkunde na 1880 nie en voortgegaan om minderwaardige boeke voor te skryf, soms is tot die ander uiterste oorgegaan en verwag dat 'n Matriekleerling Vondel moes waardeer!
Slegs by hoë uitsondering is 'n boek gekies wat werklik binne die begripsvermoë van die Afrikaanse leerling was en hom ook letterkundige genot kon verskaf.
Toe ek enige jare gelede saamroeper was van die S.A. Akademie se kommissie oor Meer Nederlands het uit antwoorde op 'n enquête geblyk hoe die huidige stelsel byna eenparig afgekeur is en tewens hoe amptenare in hoë posisies selfs gemeen het dat ons Nederlands heeltemal oorboord moes gooi. Dit sou interessant wees as u die bevindinge van die Akademie se kommissie kon publiseer.
Nog sterker as in 1929 voel ek oortuig dat ons Afrikaans en Nederlands as twee selfstandige tale moet behandel in ons eksamenstelsel. As oorgangsmaatreël in die beginjare van Afrikaans kan die huidige stelsel miskien van nut gewees het, maar in 1966 het dit definitief geen die minste reg van bestaan nie.
In die plek van die oppervlakkige leeskennis moet daar kom intensiewe studie, want alleen langs hierdie weg kom 'n mens tot opregte en suiwere waardering.
'n Klein klompie geestdriftiges wat werklik die Nederlandse letterkunde ken, sal vir ons kultuur meer beteken as 'n skare wat hulle vaagweg herinner dat hulle darem ook 'n paar Hollandse boeke jare gelede gelees het.
Ek herhaal wat ek in 1929 gesê het:
‘As ons steun kan kry by die magtige letterkunde van ons Nederlandse voorouers en hul nasate, wat deur stamverwantskap nog nou aan ons verbonde is, dan sou dit immers die opperste dwaasheid wees om hierdie ryke bron van kultuur te veronagsaam as gevolg van 'n kleinsielige, nasionale verwaandheid.’
Om historiese en taalkundige redes is die studie van die Nederlandse taal en letterkunde vir ons eenvoudig onontbeerlik. En die skeiding van die twee tale sal ook nog hierdie voordeel meebring: dit sal die Afrikaans B.A.-student meer tyd en 'n groter kans gee om sy moedertaal korrek te leer praat en skryf - iets wat hy onder die huidige stelsel beswaarlik regkry.’