Ons het albei skuld
Hand in Eie Boesem oor Posisie van Nederlands in Suid-Afrika
Het artikel van dr. W.E.G. Louw werd reeds na twee dagen gevolgd door een beschouwing van dr. C. Pama, die wij hier vrijwel geheel overnemen.
Dit is modern om eers na 'n psigologiese oorsaak te soek en dit natuurlik ook te vind. Ook sonder om daardie mooi begrip uit die stal te haal, sal dit vir elkeen duidelik wees dat die taalstryd, wat in die begin van hierdie eeu in ons land gewoed het, aan Nederlands groot afbreuk gedoen het.
In elke stryd word die standpunte van voor- en teenstanders oordryf en soms tot belaglike verhoudinge vergroot. Die voorstanders van Afrikaans het daardeur 'n veels te swart prentjie van Nederlands geskilder. Dit is nie met 'n vreemde taal genoem nie, maar 'n mens sou amper die indruk kan gekry het dat daar geen taal ter wereld is wat moeiliker is om aan te leer nie as Nederlands.
Dit het sover gegaan dat ek al met mense gepraat het wat Duits geleer het en gevolglik diep onder die indruk van die ooreenkoms tussen Duits en Afrikaans gekom het, terwyl hulle die veel nouer verwantskap met Nederlands nooit raakgesien het nie!
Dit val 'n mens ook op as jy Afrikaanssprekende rylopers oplaai en jy met jou familielede Nederlands praat - nog altyd die derde amptelike taal van ons land! - dat dit byna nooit as Nederlands erken word nie. 'n Mens word altyd gevra of dit miskien Duits is wat jy praat. Hulle voel wel die verwantskap, dus moet dit Duits wees. Dat dit miskien Nederlands sou kan wees, die gedagte kom selfs nie by hulle op nie!
Die stryd in die twintiger jare, met emosionele uitinge soos indertyd selfs die verbranding van Nederlandse boeke e.d.m., het natuurlik ook tot gevolg gehad dat Nederlands bewus of onbewus as vyandig teenoor Afrikaans gesien is. Dit was 'n kwaad wat vernietig moes word.
Maar toe dáárdie stemming eers eenmaal opgewek is, was dit moeilik om die motor daarna weer in die trurat oor te skakel en Nederlands as 'n uiters verwante taal te gaan sien, waardeur 'n Afrikaner, soos Louw dit stel, ‘'n venster op Europa’ het.
Dit sou miskien die geval kan gewees het as daar nie al 'n ánder taal was wat presies daardie rol vervul nie, nl. Engels. 'n Mens kan dit betreur, maar die werklikheid is nou eenmaal so.
Daar heers dus ten opsigte van Nederlands in sommige kringe 'n heeltemal ongunstige klimaat, waarin dit moeilik is vir enige plantjie om te gedy.
'n Ander oorsaak is m.i. die taamlik liefdelose behandeling wat Nederlands op sommige skole kry. Nederlands word deur die meeste skoliere nie beskou as 'n taalverryking, of selfs maar as 'n gemaklik aanleerbare derde taal nie, maar as 'n min of meer noodsaaklike kwaad.
Hoe vinniger 'n mens daardeur heengeworstel het, hoe beter; en as die eksamen eers verby is, moet jy dit asseblief maar so gou as moontlik weer vergeet.
Die keuse van voorgeskrewe boeke werk daardie houding ook in die hand.
Pleks van boeke te kies wat 'n belangstelling vir die taal, land en volk van Nederland sou kan opwek, word in baie gevalle werke voorgeskryf wat slegs één houding in die hand werk, nl. die bestendiging van die vasgeroeste mening dat Nederlands hoe dan ook ‘omslagtig’ is, moeilik om te begryp en oninteressant.
Ook die gebrek aan 'n behoorlike uitspraak werk hiertoe mee. Omdat Afrikaans in die meeste gevalle geen werkwoordelike of ander uitgange oorgehou het nie, word die uitspraak van Nederlands deur talle Afrikaners in dié opsig sodanig oordryf, dat 'n gebore Nederlander hierin niks anders as 'n karikatuur van sy taal kan sien nie. In die moderne Nederlandse gesproke omgangstaal kry dié uitgange inderdaad so weinig nadruk, dat 'n mens hulle soms byna nie kan hoor nie.
As 'n mens dié taal só sou onderwys, sou dit vir die Afrikaner direk verstaanbaarder word
Maar moenie dink dat ons die skuld veral of net aan die Afrikaanse kant soek nie. Die Nederlanders is net so nalatig.
Nederlanders was nog altyd besonder swak ‘kultuurpropagandiste’. Hulle sal liewer probeer om hulle by die toestande wat hulle in ander lande aantref, aan te pas, as om te poog om hul eie stempel daarop af te druk.
Die ondergang van Nederlands in Indonesië is waarskynlik daaraan toe te skryf dat die Nederlanders by voorkeur daar Maleis gepraat het. In ‘Brits-Indië’, waar die Engelse net Engels gepraat het, is Engels nog altyd die voertaal van die land!
Dit is ook die geval met Nederlandse immigrante. Hoewel daar in Kaapstad minstens 6.000 gebore Nederlanders is, het die gedagte aan 'n Nederlandse skool of 'n Nederlandstalige kerk nog nooit by hulle opgekom nie. Ander nasies, wat selfs minder landgenote hier het, het bloeiende ondernemings van dié aard, waarheen selfs Afrikaners soms hul kinders stuur.
Die Nederlandse immigrant sal dus hoegenaamd niks doen om Nederlands te bevorder nie, en die Nederlandse regering doen, indien moontlik, nóg minder.
'n Klein minderheid soos die Franse het bv. 'n bloeiende, staatsondersteunde kultuurvereniging hier waar 'n mens selfs lesse in Frans e.d.m. kan kry. Ook ander nasies het soortgelyke instellinge.
Maar die totale bedrag wat die Nederlandse regering aan kultuurondersteuning in Suid-Afrika uitgee, is so gering dat ek dit nie durf noem nie uit vrees dat u my nie sou glo nie.
Uit 'n oogpunt van immigrasie sou 'n mens dit miskien kan toejuig, want die Nederlanders pas hulle vinnig aan. En tog sit hulle ook hier in ‘die hoekie waar die slae val’. Vanweë die taalverwantskap word van hulle outomaties verwag om by die Afrikanergemeenskap aan te sluit. Doen iemand dit nie, dan is hy byna 'n volksverraaier.
Daarenteen word elke persoon van 'n ander nasionaliteit wat hom by die Afrikaners aansluit, luid toegejuig - en word min of meer veronderstel dat dit eintlik ánders moes gewees het!
Onlangs was daar in die tydskrif Standpunte 'n bespreking oor die wenslikheid of onwenslikheid om Afrikaans en Nederlands as gemeenskaplike universitêre en skoolvak te handhaaf. Dit is 'n moeilike vraagstuk, waarop ek hier nie nou wil ingaan nie. Ek glo egter dat Nederlands - en die Nederlanders hier - daarby sou wen as hulle wél geskei sou word. Dan sou die verwantskap tussen Afrikaans en Nederlands meer in die oog spring, terwyl die verskille nou juis beklemtoon word.
As 'n mens Nederlands as derde ‘vreemde’ taal vir Matriek sou kan aanbied, sou baie Afrikaanse kinders, glo ek, dit kies. Die mening is uitgespreek dat dit die volledige ondergang van Nederlands in Suid-Afrika sou kan beteken, omdat niemand dan meer Nederlands sou studeer nie.
Ek glo die teendeel is waar. Dié ondergang is al klaar voltrek. Slegs as 'n mens die hele gebou weer op nuwe grondslae sou kan opbou, as vreemde, maar nou verwante taal, sonder ongesonde emosie, sou daar m.i. nog 'n gesonde toekoms vir Nederlands in Suid-Afrika kan wees.
Die vaskoppeling aan Afrikaans het vir Nederlands byna 'n soort ‘dodelike soen’ geword.
Dr. C. PAMA