Nederlandse boeken in Z.-Afrika
Naar aanleiding van de heropening van de A.N.V.-boekerij te Kaapstad verscheen in ‘Die Burger’ van 22 maart een artikel van dr. W.E.G. Louw, waarin dezelfde problematiek als in het voorgaande stuk behandeld wordt. Wij nemen de belangrijkste gedeelten eruit over.
Wanneer het u laas 'n Nederlandse boek gelees? As u nog taamlik gereeld in dié taal lees, doen u dit omdat u móét, m.a.w. omdat die verpligting om dit te doen u, hoe dan ook, van buite af opgelê word, of spontaan, uit eie verkiesing en omdat u daarvan hou? Word dit deesdae moeiliker vir u om u die soort boeke te vind waarin u belang stel? In watter soort Nederlandse boeke stel u eintlik belang - fiksie, algemene lektuur, of boeke op gespesialiseerde gebiede soos die teologie, geskiedenis, kunsgeskiedenis e.s.m.?
Dit is vrae dié wat 'n mens gerus so af en toe, behalwe aan 'n Afrikaanssprekende vriend, ook aan jouself kan stel.
Dat oud-Nederlanders nog gereeld in hul eie taal sal lees, dit spreek vanself; dat 'n enkele Engelssprekende ook dié taal in ons land leer lees het, omdat hy gevind het dat hy, sê maar, deur 'n kursus in Afrikaans-Nederlands aan een van ons universiteite. via Afrikaans betreklik gou en maklik ook tot Nederlands kon kom, dit is 'n feit wat 'n mens met plesier kan vaststel.
Maar nee, dit gaan nie om die laatste twee kategorieë nie. Dit gaan eintlik in hoofdsaak om Afrikaanssprekendes, en wél omdat ek sterk begin vrees dat dié taal in twee kort mensegeslagte en ondanks álle pogings in die onderwys by ons 'n vreemde taal geword het.
Aan dié vraag en dié probleem is ek herinner deur die opening gistermiddag op die sewende verdieping van die Waalburg-gebou - op die hoek van Waal- en Burgstraat in Kaaptad - van die openbare boekery en leeskamer van die Algemeen Nederlands Verbond...
... Die antwoorde op die vrae wat ek in die eerste plaas gestel het, sal sonder twyfel 'n mens se oordeel bepaal oor die nuttigheid van en die behoefte aan, al dan nie, van dié leeskamer.
Enkele maanden gelede is in 'n artikel op hierdie bladsy daarop gewys dat dit al moeiliker geword het om goeie Nederlandse boeke in die boekhandel in Kaapstad te kry. Bekende sake wat hulle vroeger besonderlik in dié verband beywer het, het verdwyn of ander belange gevind.
Eintlik kan daar vir dié verskynsel net één rede wees, nl. dat die aanvraag aansienlik verminder het. Dit is immers ondenkbaar dat daar werklik 'n behoefte sou bestaan, maar geen handelaar wat dit die moeite werd ag om sy sente daaraan te verdien nie!
As dit dus waar sou wees, sou dit kan beteken dat Nederlands in enkele mensegeslagte in ons land 'n vreemde taal geword het, en dit ondanks die feit dat dit van álle Europese tale nog altyd vir ons die maklikste en toeganklikste is - 'n ware ‘venster op Europa’, soos dit al vroeër genoem is.
Maar wat van die Nederlandse boeke wat nog altyd by die leerplan vir Afrikaans op skool ingesluit word? Wat van die honderde studente oor die lengte en die breedte van ons vaderland wat - al is dit dan maar slegs vir één jaar - saam met hul Afrikaanse moedertaal ook enkele boeke in Nederlands lees? Was al dié moeite verniet? Word sake dáár nog dikwels verkeerd aangepak, soos in my eie skooldae, toe ons vir die Matriek-eksamen - van alle boeiende skrywers in Nederlands - jou waarlik deur Joh. Vorrink se keur uit die verhalende gedigte van Jacob Cats moes sukkel?
Ek wens ek wis die antwoord op dié vrae. Ek wens iemand wat meen dat hy (of sy) die antwoorde wél weet, kort, saaklik en met klem van argumente aan hierdie rubriek wou skryf.
Of is dié toenemende gebrek aan belangstelling 'n wedersydse verskynsel, wat saamhang met ongelukkige sake soos die fl 100.000 wat die Nederlandse regering verlede jaar vir die Defence and Aid Fund toegesé het?
Maar 'n verstandige mens gooi tog nooit die babatjie saam met die badwater uit nie, of hoe?