Nederlands in Zuid-Afrika
Uit het Kaapse dagblad ‘Die Burger’ van 26 maart j.l. nemen wij dit hoofdartikel over Zuid-Afrika's ‘tweede venster op Europa’ met instemming over.
Red.
In die kort geskiedenis van ons vaderland is 'n tydsverloop van 63 jaar al lank. Tensy 'n instelling wat reeds die leeftyd bereik het geheel en al uit voeling geraak het met die gemeenskap wat hy moet dien, en daarom ook min of meer besig is om 'n natuurlike dood weens aftakeling te sterf, mag 'n mens aanneem dat hy hom teen daardie tyd goed by omstandighede aangepas het en dat hy werklik beproef is.
Toe die klein Afrikaans-Nederlandse boekery en leeskamer van die Algemeen Nederlands Verbond in 1903 in Kaapstad opgerig is, het min mense seker verwag dat dit lank stand sou hou. 'n Jaar nà die vrede van Vereeniging moes dit inderdaad gelyk het asof die dae van Hollands in Suid-Afrika getel was. Om van die destyds veragte Afrikaanse spreektaal nie eens te praat nie.
Dat die instelling nietemin bly leef het en op sy eie beskeie manier sy deeltjie daartoe bygedra het om deur die jare Nederlandse sowel as Afrikaanse boeke te bring aan 'n publiek wat behoefte daaraan gehad het, is die beste bewys dat hy al die tyd in 'n werklike behoefte moet voorsien het.
Die heropening vandeesweek van die boekery en leeskamer het die aanleiding geword van 'n gedagtewisseling oor die toestand van Nederlands in Suid-Afrika wat miskien al eerder nodig was.
Elke jaar lees derduisende skoolkinders en studente immers nog enkele of selfs verskeie Nederlandse sg. ‘voorgeskrewe boeke’ as deel van hul skool- of universitêre leerplan. Tog kry 'n mens die indruk dat die aantal wat ná hul laatste eksamen vir eie plesier of stigting Nederlands bly lees, siender oë aan die krimp is. En dit ondanks die feit dat Nederlands, van alle Wes-Europese tale, vir die Afrikaanssprekende - en selfs vir enkele Engelssprekendes - nog steeds die maklikste ‘vreemde taal’ bly wat hulle sou kan aanleer.
Teenoor die vyf of zes jaar werklike harde werk wat iemand nodig het om 'n behoorlike leeskennis van, sê maar, Duits of Frans op te doen, kan hy Nederlands nog steeds, van die allereerste boek af, al lesende onder die knie kry. Selfs al leer hy dit in ons land nooit behoorlik praat nie kan hy maklik feitlik álles daarin lees wat hy wil of wat onder sy aandag kom.
Naas Engels kan Nederlands dus vir elke opgevoede Suid-Afrikaner 'n tweede ‘venster op Europa’ word, bowenal op daardie boeiende Vastelandse wereld waarvan hy in die meer as anderhalwe eeu van ons intieme assosiasie met Britse denkbeelde al nie meer vervreemd geraakt het. En so iets kan ons nie anders nie dan as wins boekstaaf.
Kortom, 'n saak waaroor in die verlede meermale met