't Kronijkje
As moeder na die phone gaan en vier pond steak i.p.v. vier pond biefstuk bestel en as sy gedurig praat van haar lipstick en haar skirt i.p.v. lipstiffie en halfrok of romp, dan moet sy verwag, dat haar dogter ook die Engelse woorde sal gebruik. En as Vader praat van sy skape gaan dose, sy kar laat overhaul omdat sy één valve vassit of omdat die enjin nie goed idle nie - nou ja dan praat Jannie hom na.
⋆
Onlangs het ek by 'n baie deftige geleentheid die geleerde voorsitter herhaaldelik hoor praat oor vorms wat ingehandig moet word en lidmaatskapsfooie wat betaal moet word. En so het ek by vergaderinge waar die keur van ons intelligentsia bymekaar was die gruwelikste taalgemors aangehoor. Ek praat nie eens van die gebrou wat elke naweek op ons sportvelde gehoor word nie - die tries wat gescore word of die balle wat gelob of gesmash word of die gholfspelers wat so goed kan putt of so lelik kan slice.
Oor die radio hoor ons gereeld die verengelste kromtaal wat vir party mense glo erg humoristies klink en ons studente en skoliere gaan lustig voort om te pad by hulle eksamens of hulle probeer om shine te vang met allerlei taalverbasterings. As ons Afrikaners is, waarom kan ons dan tog niet op sy Afrikaans snaaks wees nie?
⋆
Twintig of dertig jaar gelede het ons mekaar gespot totdat niemand meer vir 'n walk gegaan het of hom geënjoy het op die party nie. Maar vandag is daar verantwoordelike taalgeleerdes, wat die deure wawyd oop wil sit vir gedrogte soos afsien i.p.v. wegsien, stoor i.p.v. bêre, vloer i.p.v. verdieping, nurse i.p.v. suster. Die regte gesindheid ontbreek by ons mense, want dis nie meer 'n skande om deurmekaar te praat nie. Ons het ons taaltrots verloor. Ons dons maar op. Ek worry my nie oor 'n woord nie!
Dr. P.C. Schoonees in Die Huisgenoot.