staatshoof, nie regeringshoof nie. Juis omdat hy buite die politieke arena staan, kan hy op sy minste probéér om die president te wees van almal, van alle seksies van die uiters heterogene bevolking van Suid-Afrika.
‘Die koms van die Republiek’, het president Swart daarom ook in sy reeds genoemde rede gesê; ‘is geensins, en moet ook nie gesien word as 'n oorwinning van die een seksie oor 'n ander nie, ook nie as 'n oorwinning van die republikeine oor diegene wat die bestaande regeringstelsel verkies het nie. Dit moet gesien word as 'n oorwinning vir en die onvermydelike bereiking van 'n evoluerende konstitusionele ontwikkeling na 'n vrye nasieskap’.
Die Republiek van Suid-Afrika het daarom ook nie geword, wat Paul Kruger in 1880 onder omstandighede begryplikerwys gewil het nie: ‘Van Zambesi tot Simonsbaai - Afrika voor de Afrikaander’. Vir die nuwe Republiek moet daar ruimer, veel inklusiewer gedink word.
Die Republiek van Suid-Afrika het, met 'n diepe besef van wat hierdie onderneming aan probleme inhou, verantwoordelikheid aanvaar vir àl sy inwoners. Niemand was so naïef om te verwag dat die Republiek oornag, op slag ook volstrekte eenheid sou bewerkstellig tussen al sy bewoners nie. Die uitslag van die referendum, wat moes bepaal of Suid-Afrika 'n republiek sou word al dan nie, was trouens al genoeg aanduiding daarvan dat die Republiek van Suid-Afrika nie dadelik 'n werklik verenigde republiek sou wees nie. Maar die goeie wil is daar, al besef alle verantwoordelike denkers, en daar is baie van hulle ook in Suid-Afrika, dat Suid-Afrika voor die grootste uitdaging in sy geskiedenis staan. En dat hy baie alleen staan. Want ek weet nie of daar nog 'n republiek ter wêreld is wat so eensaam gebore is as die Republiek van Suid-Afrika nie. Dieselfde volke, wat die vernietiging van die Boererepublieke op sy minste mondeling as 'n groot onreg betreur het, het die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika met openlike vyandigheid of anders met kille afsydigheid bejeën.
In die stryd wat voorlê sal Kruger weereens sy rol vervul. Want hoewel ons, soos ek probeer aandui het, Paul Kruger en sy visie nie heelhuids kon aanvaar en op ons huidige situasie kon projekteer nie, is daar nog genoeg van hom oor om hom te handhaaf as een van die steunpunte in die moeilike jare wat voorlê.
In elk geval: ons kon nie, ons kan nie bly stilstaan by die Paul Kruger en by die Republiek van destyds nie. Ons moet voort, ook met ons geskiedenis. En met die groot figure wat daardie geskiedenis help maak het. In die besonder ook voort mèt Paul Kruger, omdat hy tydgenoot gebly het deur die wyse waarop hy rigtinggewend ingegryp het in die historiese loop van sake, tot vandag toe.
Nou lyk dit vir my nie alleen denkbaar nie, maar hoogs waarskynlik dat baie van u, die gewaardeerde vriende van Suid-Afrika in Nederland, vandag eerder of makliker kontak kan hê met die historiese, die byna legendariese Kruger as met die tydgenoot wat hy vir ons Afrikaners is. Dat dit in elk geval by sommige Nederlanders wel die geval is, kan ek illustreer met 'n enkele voorbeeld.
In 'n kritiek, wat onlangs in 'n Nederlandse koerant verskyn het, n.a.v. die publikasie in Nederland van 'n paar Afrikaanse digbundels, skryf die resensent onder meer: ‘het patriotische gevoel dat de poëzie van enkele Afrikaanse dichters uit het begin van deze eeuw zo sterk beheerste, komt ons na bepaalde politieke en sociale ontwikkelingen in Zuid-Afrika nog maar weinig aantrekkelijk voor: de figuur van Malan en niet minder van zijn opvolger hebben de vaderlijke en idyllische figuur van Paul Kruger wel zozeer uit onze herinnering gebannen, dat wij bij Afrikaanse schrijvers niet meer zonder scepsis over hun onwankelbare trouw aan de geboortegrond kunnen lezen....’ Nou is die voorstelling van Paul Kruger as 'n vaderlike, idilliese figuur, eerlik gesê, eweseer 'n karikatuur as die gruwelike vertekening na die ander kant toe wat baie koerante presteer met Malan en sy opvolgers. In plaas van hierdie onrealistiese en gevaarlike dwepery verkies ek dan selfs die nugtere, hoewel myns insiens onregverdige, beskrywing van die Nederlandse minister de Beaufort wat, na sy onderhoude met president Kruger in 1900, onder meer sê: ‘De indruk, die niet kan worden weggenomen, is echter, dat deze man niet berekend was voor zijne staatkundige positie. Geschikt voor President van een kleine Boerenrepubliek maar niet voor het Hoofd van een staat die een diplomatieke en later een gewapende strijd met een der groote mogendheden wilde voeren’.
En wat daarop volg.
Ek verkies egter diè soort nugterheid bo die romantiese sentimentaliteit van diegene wat in Kruger alleen maar die idilliese vaderfiguur kon sien. Hierdie romantici is net so gevaarlik as diegene wat vandag idilliese vaderfigure agter elke bos in Afrika ontdek. Want wie in Paul Kruger die idilliese vaderfiguur sien, kan maklik idilliese illusies koester en daarmee onmoontlike - want onmenslike - eise stel aan die nageslag van Kruger, wat as tydgenote daar doodmenslik uitsien en hulle ook doodmenslik gedra.
Nee, die idilliese vaderfiguur Kruger moet eers mens word voor 'n mèns werklik iets aan hom het. En mens, feilbaar soos elke mens, dit was hy. Self sou hy gesê het, toen sy Republiek bedreig word: ‘Ek is nie bang vir ons vyande of hulle wapens nie, maar ek is bang vir Paul Kruger: sal hy opgewasse wees vir sy taak?’
Alleen diegene wat, saam met ons, Paul Kruger tot mens en tot tydgenoot maak, kan van Krugerdag iets meer maak as 'n konvensie, 'n gewoonte.
Dan sal hulle, wat Paul Kruger bewonder,
Paul Kruger (1825-1904), president van de Zuidafrikaanse Republiek (1883-1902)
wat Paul Kruger die mens en nie Paul Kruger die idille aanhang nie, ook aan die Republiek van Suid-Afrika menslike eise stel.
Die regverdige eis, dat die Republiek van Suid-Afrika menslik sal optree in sy poging om sy ontsaglike probleme op te los. Menslik, dus in die eerste plek mensliewend, met eerbied vir die ewemens. Menslik, dus nie onmenslik nie.
Maar menslik ook in dié sin dat die optrede onderhewig is aan menslike beperkings. Menslik, dus nie bomenslik nie.
Van één ding wil ek u verseker. Ons pogings tot die oplossing van ons groot probleem, die rasseprobleem, geskied nie sonder gedurige gewetensondersoek nie. Selfs nie sonder gewetenskwellings nie. Maar u moet daarby, in alle regverdigheid, altyd onthou: ons ondersoek, daar in Suid-Afrika, geskied ter plaatse; dit is 'n ondersoek van feite wat hulle nie op 'n veilige, teoretiese afstand bevind nie; ons is tussen hierdie feite, loop daardeur sekerlik die gevaar dat ons denke kan gaan skeeflê onder die pynlike gewig van hierdie feite; maar loop nie die gevaar dat ons, op veilige afstand, ideologies soldaatjie speel met ander en werklike mense se lewens nie.
As u dit begryp: dat ons, met hulp van bo, maar menslik beperk, en tog in alle menslikheid, waartoe ons in staat is, doen wat ons kan en daarom moet doen, dan sal u ook begryp dat ons, indien die geskiedenis, eendag minder tyd en plek aan ons wy as dit wat ons sou wou hê, ook genoeë sal neem met die trooswoord, wat Paul Kruger vir sy verslane generaals, soos gewoonlik, in die Woord van God gevind het: ‘Want hulle was na vermoë - ek betuig dit - ja, bo vermoë gewillig.’