oor dieselfde sake gepraat word deur die digter en deur die gewone taalgebruiker. Maar waar die gewone taalgebruiker die lewe om hom met hierdie benoemde sake wil bereik, daar sonder die kunstenaar hierdie benoemde sake af in 'n wêreld waarvan hy self die omvang en die samehang moet bepaal.
Hierdie afsondering wil dus hoegenaamd nie sê dat die kunstenaar hom met sy kunswerk aan die wêreld onttrek nie. Selfs die romantici, die wêreldvreemdes, die vlugtelinge onder die digters moet, ondat hulle woordegebruik, rekenskap aflê van die stukkie wêreld waaruit hy sy klein wêreld wil saamstel. Maar op die oonblik is dit tog nie hierdie eksklusiewe digters wat dit beste en die belangrikste poësie maak nie. Die belangrikste hedendaagse digters is nie ivoortoring-wagters nie, hulle is op straat tussen die mense. Hulle wil nie alleen van die mooi dinge in die lewe hulle kunswerke saamstel nie, hulle wil àlles daarin betrek. ‘Om die hele gespanne web van die werklikheid in 'n ewe gespanne kuns te weerspieël: dit is die hoë ideaal wat bokant alle poësie staan’, skryf die Afrikaanse digter N.P. van Wyk Louw.
En die digter wat die héle werklikheid wil aandurf, hy kan geen eklektikus, ook geen puris wees in sy taalgebruik nie. Hy is nie te deftig vir die banale, nie te geleerd vir die gewone woord nie. Hy het 'n doodsvrees vir alles wat ‘verliteratuurd’ is, hy soek die taal op daar waar hy sy eintlike lewe voluit leef: in die spreektaal.
Tot hierdie ‘sprekende skrywers’ behoort die twee grootste digters wat die Afrikaanse literatuur tot dusver opgelewer het: N.P. van Wyk Louw, ons grootste digter uit die jare dertig wat trouens nog altyd veelsydig en steeds evoluerend aktief is; en D.J. Opperman, ons grootste digter uit die jare veertig wat eweneens tot op datum bedrywig is. En hoewel ons nou saamstem met T.S. Eliot dat die poësie in die eerste plek as poësie gelees moet word, wil ek tog twee bykomstige ‘waardes’ van inklusiewe poësie soos dié van Van Wijk Louw en Opperman hier byhaal.
Omdat hierdie twee digters in die eerste plek so volledig beslag lê op die Afrikaanse taal, kan 'n mens hulle poësie óók lees om vas te stel hoe breed en hoe diep die stuk wêreld is wat 'n mens met hierdie jong taal kan ooppraat. Tweedens: omdat albei hierdie digters strewe na 'n so volledig moontlike verkenning van die wêreld - en dan spesiaal die Suid-Afrikaanse wêreld - kan 'n mens hulle poësie ook lees uit nuuskierigheid na die wyse waarop hierdie in baie opsigte so problematiese Suid-Afrikaanse wêreld daar uitsien; en in 'n sekere sin is goeie poësie dan betroubaarder as 'n koerantberig, eenvoudig omdat 'n goeie gedig nie iets na buite toe wil vertel of bewys nie, maar dit in die gedig waar wil maak. De goeie gedig wil diagnoseer, hy wil geen reklame maak nie en hy wil ook geen stemming kweek nie.
Ek kan hierdie stellings nie uitvoerig waarmaak met sitate uit die betrokke poësie nie. Dit is gelukkig vir die Nederlandstalige leser moontlik om dit self te kontroleer in twee bundels wat verlede jaar by die Amsterdamse uitgewer G.A. van Oorschot die lug gesien het: 'n Keur uit die gedigte van N.P. van Wyk Louw en 'n Keur uit die gedigte van D.J. Opperman.
Albei bundels is omvangryk en laat reg geskied aan die kwaliteit en die verskeidenheid van hierdie poësie. En albei is voorsien van uitvoerige woordverklarings wat die Nederlandstalige bystaan op dié plekke waar sy Nederlandse taalkennis en taalgevoel by die interpretasie te kort skiet.
S.