Hoe moet ons Nederlands leer?
Die vraag of Nederlands in ons skole en universiteite onderrig moet word, is nie meer 'n vraag nie. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het 'n uitgebreide vraelys in dié verband uitgestuur aan die onderwysersvereniginge, departemente van onderwys en gesaghebbende enkelinge; en almal op twee na het die hoofvraag beslis bevestigend beantwoord. Die kultuurbewuste Afrikanerdom is hom deeglik bewus van die feit dat Afrikaans Nederlands nodig het, om sy woordeskat en omdat 'n goeie kennis van Nederlands die sterkste teenwig vorm teen die anglisering van ons taal en kuituur. Die maatstaf vir wat suiwer en wat onsuiwer Afrikaans is, kan alleen Nederlands wees; en solank ons nie op elke vakgebied oor Afrikaanse handboeke kan beskik nie, bly ons aangewese op Nederlandse werke, as ons nie eenvoudig alles wil sluk wat in Engels vir ons opgelepel word nie.
Maar as ons Nederlands, sowel ten opsigte van vakliteratuur as van skone lettere, nie meer geredelik kan lees nie, en dit dus nie graag lees nie, dan bly ons sit met die tweeslagtigheid van 'n Afrikaanse hoër onderwys wat Engelse handboeke gebruik, en moet ons tevrede wees om Homerus en Dante in Engels te lees. In Duits lees ons huile in 99 uit die honderd gevalle tog nie, want daartoe is die mondjievol Duits wat in al die jare op die middelbare skool aan die man gebring wordt, nog te min. Die vraag is dus net dit: hoe moet ons Nederlands leer, en hoeveel?
Op grond van die ingewonne gegewens gee die Akademie se kommissie van ondersoek (bestaande uit dr. Schoones en die Stellenbosse professors Malherbe, Kempen en Erlank, met 'n aanvullingsverslag deur dr. S.J. du Toit) 'n antwoord daarop. Die lastigste vraagpunt was, of Afrikaans en Nederlands as afsonderlike vakke onderrig moet word, dan wel saamgevoeg onder die naam ‘Hollands’ soons tot nou toe. Die kommissie het eenparig teen skeiding van die vakke besluit. Dit is ongetwyfeld die gesonde standpunt; maar oor die beginpunt van die Nederlands-onderrig, in die laer skool al dan nie, en oor die mikpunt wat bereik moet word, bestaan daar nog geen helderheid nie.
Vir ons lyk dit duidelik dat 'n goeie leeskennis van Nederlands beoog moet word, reeds in die hoogste klasse van die laer skool. Die nou-verwante taal is nie so vreemd dat dit, soos Duits, vir die gemiddelde Afrikaner as leestaal uitgeskakel moet word nie; maar vreemd genoeg om die gemiddelde leser af te skrik van 'n taalvorm wat hy nie meer, soos 'n kwart-eeu gelede, in die kerk hoor of in die koerant lees nie. Daardie bietjie ongewoonte, wat die hele Nederlandse en Vlaamse literatuur vandag vir die meeste Afrikaners 'n geslote boek maak, moet oorwip word; en dit is die taak van die skool. Soos dr D.B. Bosman in die Silwerboom-reeks eenvoudige Nederlandse stukkies opgeneem het, en soos die meeste Nederlandse skoolleesboeke Afrikaanse stukke bevat, kan die kinders van die twee stamverwante volke aan mekaar se taalvorm gewoond gemaak word.
Wanneer die Nederlandse boek ingang vind in Suid-Afrika, soos die Afrikaanse boek in Nederland, kan ons oor en weer enorme kultuurwins aanteken. As ons skole die ongewoonte teenoor Nederlands uit die weg geruim het, sal die verworwe leeskennis egter onvrugbaar en sinloos bly tensy dit opgevolg word deur die verskaffing van frisse, moderne Nederlandse lektuur in die skoolbibliotheke, wat ná die skoolverlating dan aangevul moet word deur die openbare bibliotheke. 'n Aantal van ons kinders voer reeds 'n leersame briefwisseling met ‘penvriende’ in Nederland; volgen die Akademie-kommissie behoort dit aangevul te word deur uitruiling van tydskrifte tussen Afrikaanse en Nederlandse skole.
Die taak van die universiteit en die normaalkollege sal daarna wees om aan alle toekomstige taalonderwysers meer as 'n blote leeskennis van Nederlands by te bring. Niemand kan sonder Nederlands deeglik Afrikaans ken nie. Neem maar 'n gevalletjie soos vereiste en verysde. As die onderwyser nie die Nederlandse vorens vereischen en verrijzen kan onderskei nie, sal hy nooit weet wanneer in sulke vorme in Afrikaans ná s 'n t of 'n d voorkom nie.
Die bestes onder die Afrikanerdom sal steeds uit die Nederlandse bron drink; laat ons net sorg dat hulle die bron kan bykom. Dit wil die Akademie doen, en daarom verdien die kommissieverslag di ernstigste aandag van al ons onderwys-owerhede.