Zuid-Afrika
Briewe uit die Ou Vrystaat
Die Hollander in Suid-Afrika
In Pretoria verskyn daar 'n Hollands Weekblad - teenswoordig slegs eenmaal in die veertien dae! - wat Nederlands as voertaal handhaaf en probeer om die Hollanders in Suid-Afrika saam te bind. Gelukkig is die Redakteur 'n verstandige man en is hy nie kleinsielig teenoor Afrika en die Afrikaner nie. So het hy laaste jaar b.v. hom beywer om die spesifiek-nasionale Dingaansfees deur die Hollander gemeenskap te laat vier. Tog meen ons dat hy op die verkeerde pad is. Nou dat hy 'n stap verder gaan en pleit vir 'n Bond van alle Nederlandse Verenigings in die Unie, neem ons die vryheid om 'n waarskuwing te laat hoor. Daar is sulke verenigings in Pretoria, Johannesburg, Bloemfontein en Kaapstad. Lede daarvan is Nederlanders, oud-Nederlanders en hulle betrekkinge, waaronder ettelike Afrikaners en ook persone van andere nasionaliteit.
Die ander nasionaliteite het hier ook hulle eie verenigingslewe. So kry mens hier en elders die ‘Sons of England’, die ‘Caledonian Society’ en die ‘Deutsche Verein’. Hoekom sal die Hollanders in Suid-Afrika dan ook nie bymekaar staan in afsonderlike groep nie. Die antwoord lê voor die hand: Engelse, Skotte en Duitsers kom hier as vreemdelinge teenoor die Afrikaners, Nederlanders is hulle stamgenote. Dit is 'n verskil van betekenis. Jammer genoeg, dat dit in die verlede nie altyd ingesien is nie. Verwydering tussen wat feitlik bymekaar hoort, is daarvan die gevolg gewees. Wyle Dr. N. Mansvelt, vóór die tweede Vryheidsoorlog Superintendent van Onderwys in die S.A. Republiek, het verstaan wat noodig was: hy het sy uit Holland ingevoerde skoolmeesters, in letterlike sin ‘die boer op’ gestuur, sodat hulle Afrika en die Afrikaner kon leer ken en - waardeer. ‘Onbekend maak onbemind’. Dis moeilik om te skat hoeveel nut die paar honderd onderwysers stilweg gestig het. In alle geval het hulle daarin geslaag om Holland se goeie naam hier te vestig.
Daarteenoor het daar 'n aansienlike getal immigrante uit Nederland hier gekom, wat in Kaapstad, Pretoria, of Johannesburg bly sit het en - Hollanders gebly het, of - nog erger: verengels het, en so vir die Nederlandse en Suid-Afrikaanse kultuur verlore gegaan het. Deur uit die hoogte op Afrikaanse taal, sedes en gewoontes neer te sien het hulle onberekenbare skade gedoen aan die goeie verhouding tussen die twee afdelings van dieselfde stam. Om nou 'n Bond te stig van die apart-staande Nederlandse Verenigings is niks anders as om die kwaad te bestendig. Aansluiting by die Afrikaanse kultuurvereniging behoor die wagwoord te wees. Daar is 'n skone roeping vir die landgenote van Jan van Riebeeck en Simon van der Stel, van Changuion, adv. Hamelberg en Dr. Brilt. Dis die groot verdienste van die Algemeen Nederlandse Verbond dat dit hom nie tot Nederland beperk nie. Dat dit Vlaanderen en Suid-Afrika omvat, die hele Dietse Stam.
Dis inderdaad verblydend om te sien hoedat die Afrikaners nou begin aan te sluit. Die Verbond het hier 'n grootse toekoms, maar om hier te aard, moet dit 'n Afrikaanse kleur dra. Dis waar, op die oomblik bestaan in ons uitgestrekte Unie slegs twee selfstandige afdelings, Kaapstad en Bloemfontein. Johannesburg en Potchefstroom het verdwyn. Wie gaan dit laat herlewe? En dan moet die ideaal wees: 'n Groep Suid-Afrika van die A.N.V. As die honderde Nederlanders wat deesdae hierheen immigreer, daar hulle kragte aan wil wy, sal hulle veel goeds doen vir Suid-Afrika, hulle nuwe, vir Nederland, hulle ou Vaderland, en veral vir: NEDERLAND - SUID-AFRIKA.
BLIKOOR.
Met groote instemming plaatsen wij dezen brief, welks opwekkelijk slot doet hopen op een herleving van ons Verbond in Zuid-Afrika. In het hoofdartikel van het Meinummer is nog eens in herinnering gebracht, welk een krachtige groep het land van Jan van Riebeeck eenmaal in onze beweging vormde. Mogen onze vrienden in Zuid-Afrika spoedig het voortouw nemen om Blikoors wensch, die ook de onze is, te verwezenlijken.
RED.