fonetiese, maar terug na ons uitgangspunt n.l. die Vereenvoudigde Nederlandse spelling, wat volgens sy nuutste spellys op weg is na sy uitgangspunt, die De Vries en Te Winkel, daar verskeie tekens soos die x weer in eer herstel is! Prof. J. du Plessis is besig om die inhoud van die Afrikaanse vertaling onder sy ‘Soeklig’ te gooi en dit blyk dat die vertalers hul op skitterende wyse van hul taak gekwyt het, tot self die veelkleurige rok van Josef is nou 'n rok met lang moue en die waterkruik van Hagar en Ismaël 'n sak. Ongetwyfeld 'n juister vertaling, maar jammerlik prosaies en sonde van ons mooi beeldhouwerk, schilderye en kinder-prenteboeke. En waarom dan tog nie by 'n Afrikaanse uitgever uitgegee nie? Te duur? Vir 'n ideaal moet 'n mens tog iets oor hê.
Op Stellenbosch is die kerkstryd taamlik gesus, wat stof tot die grootste dankbaarheid bied. Saam met Dr. S.F.N. Gie, Sekretaris van Unie-onderwys, in sy onlangs gehoue toespraak op Bloemfontein op die kongres van die Christelike Vrouevereenigings en by sy ondersteuning van die voorgestelde plan van 'n Volkskongres, is ons almal dankbaar bewus van die opheffende werk, die daadwerklike belangstelling van die Kerk in verband met maatskaplike werk, haar beskawende invloed, haar handhaving en verspreiding van ons Dietse kultuur - daar was 'n tyd toe ook sy wat laasgenoemde betref skromelik te kort geskiet het, maar ons volkssiel het aansienlik ontwikkel sinds die dae van die invoering van die Skotse predikante. Daarom was haar verdeeldheid 'n ramp en 'n terugstoot vir ons nasionale saak, wat per slot van rekening die al-enigste groot beginsel is waar dit om gaan in Suid-Afrika. Wat ons as getroue Dietse kerkmense broodnodig het, is die verdraagsaamheidspolitiek van 'n Hugo de Groot wat, toe die 17de eeuse kerkstryd in Nederland op sy felste gewoed het, voor dieselfde Amsterdamse vroedskap waarin die oudburgemeester C.P. Hooft soos een roepende in die woestyn was, klemmend kon betoog dat nie alle leerstukke van noodwendige betekenis vir ons saligheid is, dat menige eenvoudige godsdienstige siel, miskien selfs onder die predikante, nie eers die verskil in standpunt verstaan nie en dat hierdie ingewikkelde saak iets is vir die Universiteit en die allergeleerdste onder haar dosente, waarin die volk as geheel nie moet gesleep word nie. De Groot se skatte van kerkhistoriese feite, wat in hul naakte waarheid duideliker spreek as die mees klemmende betoog, sy ongeëwenaarde filosofiese kennis het op dowe ore geval, omdat dit hoe langer hoe duideliker gewond het dat dit die politieke hartstog was wat onder en agter die dogmas sy verwoesting aangerig het. Miskien is dit ook hier nie soseer 'n botsing tussen Aristoteles en Cartesius, tussen skoolgesag
en eie ondersoek nie, maar tussen 'n Skots-Engelse en 'n opnuut tot ontwaking gekome, nog half-sluimerende Hollands-Afrikaanse Teologiese inhoud. As leek lyk my dan die ou paaie nog die veiligste, as jy wil koers hou en aanstryk sonder om na links of regs te swaai.
In Kaapstad en orals in Suid-Afrika is dit die ‘Voortrekkers’ wat mooi koers hou en dis 'n fees vir die oë en die hart om te sien, hoe die jong span in gelid stap. So af en toe hoor 'n mens nog teen die beweging aangevoer selfs deur ons grootste Afrikaners, dat ons geen volk met militaristiese neigings, dat die hele poging 'n na-apery is en ‘imitation is the sincerest form of flattery’. Maar deur ons Burgerkommando's is ons militêre gevoel sterker ontwikkeld as wat die teenstanders meen, en die Boy Scouts en Girl Guides is nou eenmaal daar en moet rekening meegehou word daar hul ons jeug verangelsaksies. Met diegene wat dit as die hoogste paradystoetand beskou, val nie te redeneer nie, maar vir die res is dit goed om te onthou, dat toe die onderhandelinge af gespring het op die eed en die vlagkwessie, was dit duidelijk dat die reeds bestaande organisasie nie wou of kon verafrikaans word nie en dat as ons nie langer negatief wou te werk gaan nie, 'n nuwe organisasie moes in die lewe geroep word wat hemself regverdig deur sy groei en wasdom. In Nederland is 'n nasionalisering van die ‘Scouts’ moontlik en wenslik voor dit vir ons van enige betekenis kan wees, want tot dusver moes ek nog altyd tweekeer kyk of dit nou die Hollandse jeug of 'n groepie besoekers is wat met trommel en wapperende vaandel langs die gragte marsjeer. Teenoor hierdie afgewaterde, kleurlose, verlammende sg. internasionalisme in Nederland kom te staan 'n blyk van innige stamverwantskap.
Die instelling van 'n Afrikaanse leerstoel in Amsterdam, die aktiwiteit van die Ned. Z.A. Vereeniging in 'n ander rigting nl. die periodieke uitwisseling van Suid-Afrikaanse en Nederlandse hooglerare, kan die allergrootste hulp wees vir die versterking van die kulturele betrekkinge tussen Nederland en Suid-Afrika. Laasgenoemde was, wat Afrikaanse lettere, kuns en geskiedenis betref, tog eers moontlik, nadat eersgenoemde tot stand gekom het en daaraan kan nou die volle aandag en ondersteuning gegee word. Hier, sowel as daar, vind die saak van die Afrikaanse leerstoel in Amsterdam nog lank nie by almal die gewenste byval nie; daar, om verskillende redes wat ons as Afrikaners nie aangaan nie; hier, omdat dit as 'n wetenskaplike mededinger in plaats van 'n medehelper in 'n worstelstryd, wat dit inderdaad is, beskou word. Wanneer sal ons tog leer dat ons Hollands-Afrikaanse Universiteite: Stellenbosch en Pretoria, en die twee oorweënd Hollands-Afrikaans kolleges van die Universiteit van Suid-Afrika nl. Bloemfontein en Potchefstroom, en hierdie nuwe leerstoel moet saamwerk waar ons beleid dieselfde is en nie mekaar telkens in die hare vlieg as ons oor kleinighede gaan verskil nie? Oor die eenhede van tyd, plek en handeling is van Aristoteles se dae tot vervelens toe geredeneer, insgelyks oor die tyd en die plek van hierdie leerstoel. Wat het van al die redenasies oor die dramatiek oor gebly? Dat ons dit roerend eens gaan word het, dat tyd en plek bykomstighede is en dat alleen 'n eenheid van handeling steek hou. Die stigters, veral die onvermoeide deursetter-sekretaris Prof. Dr. H. Burger word van harte gelukgewens en die Amsterdamse hoogleraar, ons oud-hoogleraar, deur sy Afrikaanse kollegas wat in die eenheid van handeling glo, met oop arms ontvang. Dit is oorbodig om hom, wat hier in die skool van stryd opgevoed en gestaal is, daaraan te herinner: ‘er moet veel strijds gestreden zijn, zal 't einde eenmaal vrede zijn’.
De waarheid van hierdie gesegde het die Universiteit van Pretoria by die neerlegging van haar Afrikaanse beleid aan die lyf ondervind en toe ek vanjaar met die Paasvakansie daar was, het dit my 'n vredespaleis gelyk, vergelyk by Wat aan 'n paar van die ander Universieteite gebeur. Die jongste aanstelling op hul Universiteitsraad in die plek van Dr. Herman v. Broekhuizen, wat ons in Nederland gaan verteenwoordig het, het weer 'n hele opskudding verwek, maar die versekering van owerheidsweë, dat daar aan die Universiteitsbeleid nie sal getorring word nie, het die skynbare neerlaag in 'n oorwinning laat verander. Die Nederlandse Kultuur-historiese Instituut van Prof. Bokhorst is 'n goudmyn van die suiwerste gehalte. Hy is 'n geweldige krag in ons kultuurlewe hier en sy voorgenome tentoonstelling in Nederland van die Afrikaanse boek aan die