Die Unievlag gehys.
Op Uniedag, 31 Mei, 11 uur v.m. het die Goewerneur Generaal van Suid Afrika, die offisieële vlae op die parlementshuis te Kaapstad gehys; gedurende die plegtigheid is 21 saluutskote afgevuur.
Met offisieële vlae word bedoel die Nasionale vlag (Oranje, Wit en Blou) en die ‘Union Jack’; laasgenoemde sal dus nog oor die Suid Afrikaanse vlaktes wapper as toonbeeld van ons trou aan die Britse Ryk.
Ons Engelse vrinde kon met die beste wil van die wereld nie beweeg word om die ‘Jack’ prys te gee nie. Natal, die mees Britse provinsie van die Unie, met 'n klas Engelsman wat meer Engels is as die rasegte Londenaar, het selfs gedreig om af te skei. Gelukkig het daar op die laaste oomblik, toe die gemoedere van beide volksgroepe, Afrikaans sprekendes en Engelse, hoog opgesweep was, 'n tydige oplossing gekom, met as gevolg die aanneming van beide vlae.
Rotterdam, Mei 1928.
W.P. VAN REEDE VAN OUDTSHOORN.